Nadat die kommissie ingestel is, het die minister van polisie, Nathi Mthethwa, dokumente by die Hoë Hof ingedien ten einde ‘n interdik te bekom om die Kommissie op te skort. Een van Mthethwa se belangrikste argumente was dat die Premier se besluit om die Kommissie in te stel, ‘n uitwerking sou hê op die onafhanklikheid van die SA Polisiediens.
Die Wes-Kaapse Hoë Hof het Maandag, 14 Januarie 2013, Mthethwa se aansoek van die hand gewys.
Die tweede is die Wes-Kaapse Wetsontwerp op Gemeenskapsveiligheid (die Wetsontwerp). Die Wetsontwerp is vir kommentaar en voorlegging op 29 Januarie 2013 oopgestel. Premier Zille het die Wetsontwerp tydens haar provinsiale rede in 2012 ingestel. Dit het ten doel om meer mag aan die provinsiale regering en gemeenskapspolisiëringsforumste verleen, sowel as ‘n groter oorsigmandaat oor die SAPD.
Met ‘n soortgelyke reaksie as dié teenoor die kommissie van ondersoek, het die minister van polisie, Nathi Mthethwa, gesê dat die Wetsontwerp buite die mandaat van die Wes-Kaapse uitvoerende gesag is en dat hy dit tot in die Konstitusionele Hof sou teenstaan. Mthethwa maak staat op artikel 206(1) van die Grondwet wat verklaar dat ‘n lid van die kabinet verantwoordelik moet wees vir polisiëring en nasionale polisiëringbeleid moet bepaal in oorleg met die provinsiale regerings en met inagneming van die polisiëringbehoeftes en - prioriteite van die provinsies, soos bepaal deur die provinsiale uitvoerende gesagte.
Waar die instelling van ‘n kommissie van ondersoek ‘n funksie van die provinsiale uitvoerende gesag is, ingevolge artikel 206(3), 206(4) en 206(5) van die Grondwet, is die instelling van die Wes-Kaapse Wetsontwerp op Gemeenskapsveiligheid ‘n provinsiale wetgewende funksie ingevolge artikels 104 en 125 van die Grondwet.
Artikel 104(1)(b)(i) van die Grondwet plaas die wetgewende gesag van ‘n provinsie in sy provinsiale wetgewer en verleen aan die provinsiale wetgewer die bevoegdheid om vir sy provinsie wetgewing aan te neem met betrekking tot enige aangeleentheid binne ‘n funksionele gebied vermeld in Bylae 4 van die Grondwet.
Bylae 4 van die Grondwet - ‘n lys van funksionele gebiede van konkurrente nasionale en provinsiale wetgewende bevoegdheid - noem polisiëring in die provinsie as ‘n gebied van konkurrente nasionale en provinsiale wetgewende bevoegdheid.
Verder plaas artikel 125(2)(e) van die Grondwet die uitvoerende gesag van ‘n provinsie by die Premier - gesamentlik met die ander lede van die Uitvoerende Raad - en daardie bevoegdheid word, inter alia, uitgevoer deur die uitvoering van provinsiale wetgewing in die provinsie.
Dié artikels van die Grondwet plaas Premier Zille se voorstel van die Wetsontwerp onmiskenbaar binne die beskerming van die Grondwet en ken duidelik die wetgewende bevoegdheid aan die provinsiale wetgewer van die Wes-Kaap toe om die Wetsontwerp in te stel.
Artikel 40(1) van die Grondwet verklaar dat die regering in die Republiek uit nasionale, provinsiale en plaaslike sfere van regering bestaan wat onderskeidend, onderling afhanklik en onderling verbonde is. Artikel 40(2) verklaar verder dat alle regeringsfere die Grondwet en sy perke moet handhaaf en nakom.
Ná oorweging van die verskillende sfere van die regering, het die Konstitusionele Hof in die saak van Independent Electoral Commission v Langeberg Municipality beslis dat “hul onderlinge verband en onderlinge afhanklikheid van sulks is dat hul moet verseker dat, terwyl hul nie op mekaar se tone trap nie, hul verstaan dat almal van hulle regeringsfunksies verrig ten voordeel van al die land se mense.”
Artikel 41(1) van die Grondwet vereis ook dat alle regeringsfere en alle staatsorgane binne elke sfeer:
- die vrede, die nasionale eenheid en die onverdeelbaarheid van die Republiek moet bewaar;
- die welsyn van die mense van die Republiek moet verseker;
- doeltreffende, deursigtige, verantwoordingspligte en samehangende regering vir die Republiek as geheel moet voorsien;
- moet getrou wees aan die Grondwet, die Republiek en sy mense;
- in wedersydse vertroue en goeie trou met mekaar moet saamwerk deur, inter alia, regsverrigtinge teen mekaar te vermy.
In die saak van Permanent Secretary, Department of Welfare, Eastern Cape & Another v Ngxusa & Others het die Appèlhof beslis dat “wanneer ‘n staatsorgaan regstappe instel om die wettige regte van sy burgers te belemmer, dit nie net die Grondwet ondermyn wat vereis dat alle staatsorgane getrou moet wees aan die Grondwet en dat die openbare administrasie uitgevoer moet word op grond daarvan dat aandag geskenk moet word aan die mense se behoeftes nie. Dit misbruik ook die regsmeganismes, wat die howe se verantwoordelik is om te beskerm.”
Indien ‘n mens die bogenoemde grondwetlike raamwerk vir die Wes-Kaapse provinsiale wetgewing en Premier Zille se voorstel ten opsigte van die Wes-Kaapse Wetsontwerp op Gemeenskapsveiligheid as grondig beskou - teen die agtergrond van minister Mthethwa se mislukte aansoek in die Hoë Hof om die kommissie van ondersoek in Khayelitsha op te skort - moet vrae gevra word. Byvoorbeeld, tot watter mate bevorder minister Mthethewa die voordeel van die mense van Suid-Afrika, sowel as samewerkende regering en tussenregeringsverhoudings in die Republiek, deur albei hierdie vorms van provinsiale regeringsoptrede, wat grondwetlik gemandateer is, teen te staan?
Deur Adv Jacques du Preez, Sentrum vir Grondwetlike Regte
Photo credit: SalFalko / Foter.com / CC BY-NC