RAS, REGTE EN HULPBRONNE:
‘N ONTLEDING VAN DIE WETSONTWERP OP DIE
ONTWIKKELING VAN STROOMOP PETROLEUMHULPBRONNE

Uitgereik deur die FW de Klerk-stigting op 12/02/2024

 

Die Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Stroomop Petroleumhulpbronne [B13B-2021] (“die Wetsontwerp”), wat poog om wysigings aan te bring aan die wette wat die eksplorasie en ontginning van petroleumhulpbronne beheer, hou verreikende implikasies in vir Suid-Afrika se energiesektor en grondwetlike raamwerk. Die Wetsontwerp is op 26 Oktober 2023 deur die Parlement se eerste huis, die Nasionale Vergadering (“NV”), goedgekeur en dien tans voor die Parlement se tweede huis, die Nasionale Raad van Provinsies (“NRVP”) wat die Wetsontwerp moet bekragtig, óf wysig, óf verwerp. Indien die NRVP die Wetsontwerp sonder enige veranderinge aanvaar, sal dit na President Ramaphosa gaan om as wet ge-onderteken en bekragtig te word.

Die FW de Klerk Stigting bly onwrikbaar in sy verbintenis om ons grondwetlike demokrasie vir alle Suid-Afrikaners ‘n werklikheid te maak. In die lig hiervan het die Stigting ‘n omvattende ontleding van die Wetsontwerp gedoen om te bepaal of dit die regte en vryhede wat deur die Grondwet gewaarborg word, erodeer. In die Stigting se voorlegging aan die Parlement het ons gevra vir wetgewende maatreëls wat die oppergesag van die reg handhaaf, gelykheid bevorder en eiendomsreg beskerm.

Fundamentele bekommernisse met die Wetsontwerp:

Die kern van ons beoordeling ontbloot fundamentele foutlyne oor die Wetsontwerp se versoenbaarheid met grondwetlike waardes (wat verband hou met aanspreeklikheid, openheid en die oppergesag van die reg) en die reg om nie onbillik teen gediskrimineer te word op grond van ras nie:

1. Die Wetsontwerp sal uitgebreide magte aan die Minister van Minerale Hulpbronne en Energie verleen, wat diepgaande vrae oor aanspreeklikheid, deursigtigheid en die oppergesag van die reg laat ontstaan.

2. Die wetsontwerp se gebrek aan duidelike riglyne en oorsigmeganismes rondom die minister se diskresie, skep ‘n vrugbare grond vir arbitrêre besluitneming (wat inbreuk maak op die oppergesag van die reg), wat ‘n beduidende bedreiging vir demokratiese regering inhou.

3. Die Wetsontwerp se instelling van rasgebaseerde bepalings, insluitend ‘n 10%-toekenning wat vir Swart Ekonomiese Bemagtiging (“SEB”) maatskappye geoormerk word, voldoen nie aan die streng vereistes wat vereis word vir dit om te kwalifiseer as ‘n wet wat persone bevoordeel wat deur onbillike diskriminasie benadeel word nie (ingevolge artikel 9(2) van die Grondwet). Hierdie bepalings diskrimineer dus onbillik op grond van ras, wat die Grondwet verbied.

Artikel 9(2) se vereistes:

Vir ‘n wet om met artikel 9(2) van die Grondwet belyn te wees, het die Konstitusionele Hof bekragtig (sien byvoorbeeld Minister of Finance v van Heerden) dat dit aan drie interne vereistes moet voldoen:

1. Histories benadeelde individue of groepe: die Wetsontwerp se maatreëls moet individue of groepe teiken wat histories deur onbillike diskriminasie benadeel is. Die maatreëls doen dit en die wetsontwerp voldoen aan vereiste een.

2. Ontwerp om doelwitte te bereik: die Wetsontwerp se maatreëls moet redelik in staat wees om die beoogde doelwitte te bereik. ’n Rasionele verband tussen die voorkeurbehandeling van SEB-maatskappye en die bereiking van die wettige regeringsdoel wat ten doel het om substantiewe gelykheid te bevorder, word dus vereis om differensiële behandeling op grond van ras te regverdig. A.g.v. die Wetsontwerp se gebrek aan konkrete meganismes om te verhoed dat ekonomiese voordele slegs die heersende politieke elite bevoordeel, i.p.v. dat dit na die meerderheid swart Suid-Afrikaners (wat deur die Wetsontwerp as “Afrikane, Bruin en Indiërs” gedefinieer word) vloei, bestaan so ‘n rasionele verbintenis nie. Dus kan die Wetsontwerp se maatreëls die bestaande  sosiale ongelykhede eerder verdiep as om groter gelykheid teweeg te bring.

3. Vermyding van onbillike skade: Ons Grondwet se langtermyndoelwit is dat ons samelewing nierassigheid moet nastreef en aan gestalte gee. Die wetsontwerp se rasgebaseerde maatreëls hou wesenlike en skade in vir diegene wat uitgesluit word van dié voordele en ondermyn en bedreig daarom hierdie doelwit.

Ander bekommernisse:

Die Wetsontwerp laat ook wesenlike kommer ontstaan oor vereistes wat verband hou met verpligte staatseienaarskapvereistes en vennootskapsgebaseerde korporatiewe strukture, wat moontlik inbreuk maak op die reg op vryheid van keuse van bedryf, beroep en professie (artikel 22) en besit van eiendom (artikel 25).

Die Wetsontwerp poog om aansienlik af te wyk van die bestaande regulatoriese raamwerk wat deur die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne, 2002 (“MPRDA”) daar gestel word. Deur ‘n aparte wetgewende regime in te stel wat spesifiek vir die stroomop petroleumsektor aangepas is, daag die Wetsontwerp die kollektiewe benadering wat in die MPRDA verskans is, uit. Hierdie afwyking noodsaak ‘n herevaluering van die wetlike landskap wat die eksplorasie en ontginning van petroleumhulpbronne in Suid-Afrika beheer.

Stigting se voorgestelde remedies:

Om die talle bekommernisse wat deur die Stigting in die Wetsontwerp geidentifiseer is, aan te spreek, het die FW de Klerk Stigting talle remedies aan die Parlement voorgestel wat daarop gemik is om te verseker dat die wetgewing met grondwetlike beginsels en internasionale standaarde strook.

Die belangrikste hiervan is:

1. Dat die rasgebaseerde bepalings óf verwyder word, óf gewysig word om aan die wetlike vereistes te voldoen.

2. Dat daar herbesin word oor die verpligte 20% staatseienaarskapvereiste om te verseker dat dit nie inbreuk maak op bepaalde regte nie, insluitend, maar nie beperk nie tot, wat verband hou met eiendom en vryheid van keuse met betrekking tot bedryf, beroep en professie.

3. Dat duidelike en objektiewe kriteria ingesluit word om moontlike magsmisbruik in die Minister se uitoefening van diskresionêre bevoegdhede te voorkom, dat daar aan regverdige administratiewe optrede en billikheid (artikel 33 van die Grondwet) voldoen word en om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker (soos vereis deur artikel 195 van die Grondwet).

Die FW de Klerk Stigting doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om ons in ons missie te ondersteun om ons grondwetlike demokrasie ‘n werklikheid vir alle Suid-Afrikaners te maak! U finansiële bydrae sal ons bemagtig om ons waghondrol ten opsigte van  grondwetlike regte en vryhede suksevol en volhoubaar aan uitvoering te gee.