Die huidige voorstelle deur die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, om tabak heeltemal te verbied, is dalk ’n stap te ver. ’n Algehele verbod op sigarette sal die tabakbedryf na die ondergrondse wêreld dwing – en winsgewende geleenthede vir georganiseerde misdaad skep. Op ’n ernstiger noot sal ’n algehele verbod inmeng met die heeltemal regmatige reg van individue om te rook as hulle wil in plekke waar hulle nie nie- rokers nie sal verontrief nie. Die ironie is dat elke keer wanneer sommige mense begin om ’n beroep te doen om ’n algehele verbod op tabak, ander mense – en dikwels uit dieselfde kiesafdeling – hul beywer om dagga te wettig!

’n Verdere inbreuk op die private lewens van burgers is dat wetgewing binnekort ingestel sal word wat ouers sal verhoed om hul kinders pak te gee. Kinderregte-organisasies het oortuigende argumente voorgelê dat ’n pakslae nie optrede verbeter nie en dat dit die idee skep dat geweld ’n aanvaarbare manier is om probleme in verhoudings tussen mense aan te pak.

Só ’n verbod sal egter deur die oorgrote meerderheid ouers en deur die meeste kerke teengestaan word. Dit sal ook feitlik onmoontlik wees om toe te pas. Onlangse meningsopnames wys daarop dat alhoewel lyfstraf by skole verbied word, dit in praktyk wyd voorkom – en aan die toeneem is. Die toepassing hiervan kan miljoene liefdevolle ouers met goeie bedoelings kriminaliseer. Teenstanders van die verbod voer aan dat dit ’n onaanvaarbare inbreuk op die private aangeleenthede van families sal wees – en dat daar voldoende wetgewing bestaan om kinders van mishandeling te beskerm.

Nou wil die regering klaarblyklik ook alle drankadvertensies verbied.

Weer eens is daar goeie redes om drankmisbruik te bekamp. Volgens die Departement van Gesondheid beloop die (jaarlikse) tasbare koste van alkohol in Suid-Afrika byna R38 miljard. Dit hou die derde grootste risiko in vir sterftes en gestremdheid en dit is die oorsaak van meer as die helfte van die land se padsterftes. “Alkohol word verbind met 70% gevalle van huishoudelike geweld, 25% van oortredings wat met wapens verband hou, 22% van verkragting, 17% van moord, 14% van aanrandingsake en 10% van gewapende roof.”

Die drankbedryf maak egter ’n groot deel van die ekonomie uit. SAB-Miller alleen dra R66.2 miljard tot die breër ekonomie by, wat gelykstaande is aan 3.1% van die BBP – en is verantwoordelik vir 355 000 poste in die breër ekonomie. Voeg hierby die bydrae van R26 miljard van die wynbedryf en die 280 000 poste wat dit skep, en jy begin ’n idee kry van ons nasionale ekonomiese afhanklikheid aan die drankbedryf. Dit is ’n groot aantrekkingskrag in die Wes-Kaap se toerismebedryf en wynuitvoere is belangrik wat buitelandse valuta betref.

Afgesien hiervan verteenwoordig drankadvertensies ongeveer 10% van die land se jaarlikse uitgawe van R17 miljard op advertensies. ’n Verbod op drankadvertensies sal ’n verdere slag wees vir die reeds depressiewe gedrukte media – en sal ook ’n ernstige terugslag wees vir georganiseerde sport, wat dikwels afhanklik is van winsgewende borgskappe deur drankmaatskappye.

Daarbenewens kan die matige gebruik van wyn (en bier en sterk drank), anders as in die geval van tabak, volgens die kenners voordelig wees. Dit is ’n groot deel van ons kultuur en onskuldige genot in die lewe vir miljoene mense. Ek stem saam met die slagspreuk (wat nou ongetwyfeld verbied sal word) dat “’n dag sonder wyn soos ’n dag sonder sonskyn is.”

Moontlik die grootste beswaar teen die staat se toenemende inbreukmaking op die private lewens van burgers is dat dit hul vryheid beperk om belangrike besluite te neem betreffende hul eie lewens en intieme verhoudings. Mense moet in staat wees om hul eie paadjie in die lewe te loop – selfs as hul besluite nie in hul eie beste belang is nie. Dit is wat vryheid beteken.

Die staat het nie ’n rol om te speel in sodanige besluite nie. Dit moet inderdaad verseker dat individue nie mekaar leed aandoen of hul bure of lede van hul families mishandel nie. Die staat moet ook seker maak dat mense ten volle ingelig is oor die gevolge van rook en drankmisbruik – en dit het ook ’n goed gevestigde plig om kinders van tabak en drankmisbruik te beskerm. Die staat het egter nie die reg om aan mense te sê dat hulle glad nie mag rook nie – of om te verhoed dat die produsente van wettige wyne en drank hul produkte adverteer nie.

Wanneer die staat ook al inmeng in die persoonlike besluite van burgers is die uitwerking van sy beleide dikwels die teenoorgestelde as die bedoeling daarvan. Mnr Motsoaledi moet die Verenigde State se ervaring in hierdie verband bestudeer. ’n Verbod op tabak sal slegs meer geleenthede skep vir bendes; ’n verbod op drankadvertensies sal die ekonomie skaad en honderde, duisende poste in gevaar stel; dit sal ’n slag wees vir sport en sal ernstig inbreuk maak op die wettige aktiwiteite van produsente en verbruikers.

Benewens dit alles moet die regering ook sy gesonde verstand en gebalanseerde oordeel gebruik wanneer dit met sodanige sensitiewe onderwerpe te make het en moet die grense tussen private lewens van burgers en die openbare verantwoordelikhede van die staat erken en aanvaar. Dit het ’n geldige rol om te speel betreffende die bekamping van maatskaplike probleme – veral wat inligtingsveldtogte en gebalanseerde en oordeelkundige regulasies betref wat op die regte mark gemik is. Dit moet egter nie inmeng in die private lewens, intieme familieverhoudings en regmatige lewensbesluite van burgers nie. Bowendien dit alles moet die staat onthou dat hy die dienaar – en nie die meester – of oppasser – van die mense is.

Dave Steward: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting


 

Leave a Reply

Your email address will not be published.