Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
PRESIDENT RAMAPHOSA STUUR RICA WYSIGINGSWETSONTWERP TERUG NA PARLEMENT OOR GRONDWETLIKE TEENSTRYDIGHEDE
Uitgereik deur Shanees Nkandu namens die FW de Klerk Stigting op 15/05/2025
In ‘n belangrike ontwikkeling rakende Suid-Afrika se moniteringswetgewing, het President Cyril Ramaphosa die Wysigingswetsontwerp op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Verstrekking van Kommunikasie-Verwante Inligting (die “Wetsontwerp”) na die Nasionale Vergadering teruggestuur. Met verwysing na moontlike grondwetlike uitdagings, het die President voorbehoude uitgespreek oor spesifieke bepalings binne die Wetsontwerp wat moontlik grondwetlike regte kan skend en die gebrek aan voldoende moniteringmeganismes.
Agtergrond: Die RICA Wysigingswetsontwerp
Die Wetsontwerp is ingestel om grondwetlike tekortkominge in die oorspronklike Wet op die Reëling van Onderskepping van Kommunikasies en Verstrekking van Kommunikasie-Verwante Inligting, 2002 (alom bekend as “RICA”) aan te spreek. Hierdie wetgewende veranderinge is aangespoor deur die 2021 Konstitusionele Hof uitspraak in Amabhungane Sentrum vir Ondersoekende Joernalistiek NPC en ‘n Ander v Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste en Andere. Die Hof het bevind dat RICA nie voldoende beskermingsmaatreëls vir die reg op privaatheid (artikel 14 van die Grondwet) verskaf nie. Dit was veral waar vir die monitering van joernaliste en prokureurs (sien paragrawe 115 tot 119 van die Hof se uitspraak). Die Hof het die Parlement ‘n 36-maande tydperk gegee, wat op 4 Februarie 2024 tot ‘n einde gekom het, om RICA se grondwetlike gebreke reg te stel (sien paragrawe 140 en 157 van die Hof se uitspraak).
Presidensiële Bekommernisse
Die Parlement het die Wetsontwerp op 6 Desember 2023 aanvaar om RICA se gebrekke reg te stel. Dit het dit toe na die President gestuur om bekragtig te word (d.w.s. in wet onderteken te word). Na die hersiening van die Wetsontwerp, het President Ramaphosa egter verskeie areas van kommer geïdentifiseer:
- Gebrek aan Na-Monitering Kennisgewing: Klousule 25A(2)(b) van die Wetsontwerp laat toe dat daar besluit kan word om die kennisgewing aan ‘n persoon wat gemoniteer is onbepaald uit te stel. Dit verskaf ook nie ‘n proses om sulke besluite te hersien nie. Dit kan daartoe lei dat persoon wat gemoniteer was nooit ingelig word dat hulle onder monitering was nie, wat in stryd is met die Konstitusionele Hof se opdrag vir na-monitering kennisgewing (sien paragraaf 8).
- Ex Parte Aansoeke: Die Wetsontwerp verskaf nie voldoende beskermingsmaatreëls om die misbruik van die ex parte (d.w.s. sonder die kennis of deelname van die persoon wat gemoniteer (sal) word) proses vir onderskeppingslasgewings en kennisgewing opskortings aansoeke te voorkom nie (sien paragraaf 8).
- Regters is steeds blind: Die Wetsontwerp spreek ook nie die leemte in RICA aan dat ‘n aangewese regter, wat moet besluit of hierdie aansoeke toegestaan moet word, nie in staat is om die inligting wat aan hom voorgelê word, effektief te valideer nie (sien paragraaf 8).
Hierdie kwessies het daartoe gelei dat die President die Wetsontwerp teruggestuur het na die Parlement, met die klem op die behoefte aan hersienings om te verseker dat die wet grondwetlik en effektief is.
Parlement se Reaksie
Parlement se Regsdienste het die Parlement geadviseer rakende die prosessering van die RICA Wysigingswetsontwerp, ingevolge ‘n verwysing deur die President ingevolge artikel 79 van die Grondwet. Dit het aanbeveel dat die Parlement President Cyril Ramaphosa vra om duidelikheid te verskaf oor verskeie aangeleenthede rakende die Wetsontwerp, wat die Parlement gesê het dit sal doen. Dit het ook die Parlement ingelig oor die saak Die President van die Republiek van Suid-Afrika v Die Spreker van die Nasionale Vergadering en Andere, wat ‘n aansoek deur die President aan die Konstitusionele Hof is, waarin hy vra om die tussentydse maatreëls (wat verval het) te herinstel, hangende die uitslag van die Parlementêre proses.
Gevolgtrekking
Terwyl die Amabhungane-uitspraak die regbank se aktiewe rol in die verdediging van die Grondwet en die versekering dat die wette wat politici maak daarmee bestaanbaar is, weerspieël, bied die terugkeer van die Wetsontwerp na die Parlement ‘n geleentheid vir die Parlement om die publiek se vertroue in die Staat se moniteringsprosesse te versterk deur duidelike beperkings, rapporteeringspligte en onafhanklike kontroles in te sluit.
In die toekoms sal burgerregte organisasies, regskenners en die breër publiek waarskynlik ‘n belangrike rol speel in die vorming van die hersiene weergawe van die wetgewing. Voorleggings en verhore tydens die wysigingsproses kan die uitslag beïnvloed en verseker dat die finale wet beide grondwetlike vereistes en die openbare belang weerspieël. Uiteindelik dien hierdie oomblik as ‘n herinnering dat moniteringswette, hoewel noodsaaklik vir veiligheid, altyd begrond moet wees op deursigtigheid, wetlikheid en respek vir fundamentele vryhede.