
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
POLITIEKE REGTE: OORDENKINGE OOR DIE 2024 ALGEMENE VERKIESING EN HEDENDAAGSE BEHOEFTE AAN VERKIESINGSHERVORMING
Uitgereik deur Sonia Twongyeirwe namens die FW de Klerk Stigting op 24/06/2025
Inleiding
Die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart bied ’n omvattende beoordeling van die stand van fundamentele regte soos vervat in die Suid-Afrikaanse Grondwet. Onder andere het dit die stand van politieke regte in Suid-Afrika geëvalueer (wat gewaarborg word deur artikel 19 van die Grondwet). Hierdie regte sluit in die vryheid om politieke keuses te maak, soos om ’n politieke party te stig, die reg op vrye, regverdige en gereelde verkiesings, die reg om te stem asook om vir openbare amp te staan.
Politieke onrus en geweld
Suid-Afrika het op 29 Mei 2024 sy algemene verkiesing gehou, waar die ANC ’n historiese verlies van die meerderheidstemme beleef het – van 57,50% in 2019 tot 40,18% in 2024. Politieke onrus en geweld het die aanloop tot die verkiesing gekenmerk, wat demokratiese stabiliteit bedreig het en ook die uitoefening van politieke regte ontmoedig het. Tussen Januarie en April 2024 is 10 polities gemotiveerde moorde aangeteken. KwaZulu-Natal is uitgelig as die provinsie wat die ergste geraak is, hoofsaaklik weens binneparty-konflikte.
Onafhanklike kandidate
Vir die eerste keer ooit het onafhanklike kandidate aan die nasionale en provinsiale verkiesings deelgeneem. Dit volg op die aanvaarding van die Verkiesingswysigingswet, 2023, wat burgers sonder partyverbintenis toegelaat het om aan beide nasionale en provinsiale verkiesings deel te neem. Die Wet op Politieke Partybefondsing, 2018, is op 8 Mei 2024 gewysig, net weke voor die verkiesing. Die wysiging het onder andere voorsiening gemaak vir openbare befondsing van onafhanklike kandidate uit die Politieke Verteenwoordigersfonds. Hierdie belangrike verandering het onafhanklike kandidate in staat gestel om meer mededingend teenoor politieke partye deel te neem, wat die regverdigheid van die 2024-verkiesing verbeter het.
PV Stelsel
Suid-Afrika gebruik tans die proporsionele verteenwoordigingstelsel (“PV”) as verkiesingstelsel. Hierdie stelsel is sedert 1994 in gebruik om stemme in setels in die Nasionale Vergadering en Provinsiale Wetgewers om te skakel. Eenvoudig gestel, volgens die PV stelsel, wanneer ’n party bv. 40% van die stemme kry, verower dit 40% van die setels. Hierdie stelsel is baie regverdig en moedig ’n verskeidenheid partye aan om verkies te word tot die Parlement. Dit lei dikwels tot koalisieregerings (wat volgens die Stigting positief is). Dit is geskik vir ’n diverse samelewing en help om verteenwoordiging vir almal te verseker in die Parlement. Tog skep dit probleme met verantwoordingspligtigheid, aangesien verteenwoordigers deur hul partye aangestel word en dus meer aan hul partye as aan kiesers verantwoordbaar is (“die verantwoordingspligtigheidsprobleem”). Dit voldoen ook nie aan ander grondwetlike vereistes, soos om ʼn responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker nie (artikel 1 van die Grondwet).
Hoe werk die huidige stelsel?
In die huidige stelsel word die helfte van die Parlement se setels (d.w.s. 200) betwis deur onafhanklike en politieke partykandidate in nege streke (“streeksetels”). Die ander helfte word betwis deur politieke partykandidate (“kompenserende setels”). Die kompenserende setels herstel die algehele proporsionaliteit tussen partye weens enige verwringing deur streeksetels.
Hoewel ’n onafhanklike kandidaat in meer as een streek genomineer mag word, mag die stemme wat hy/sy in verskillende streke ontvang nie saamgevoeg word om ’n setel te verkry nie. Verder, as ’n onafhanklike kandidaat meer as een setel wen, word slegs een toegeken en die res verval.
Duidelik lei dit tot ’n stelsel waar stemme vir onafhanklikes minder tel as dié vir partye. (Dit voldoen ook nie aan die grondwetlike vereiste van proporsionaliteit nie, aangesien stemme vir onafhanklikes nie tot proporsionele verteenwoordiging lei nie.) Daar is ook ’n hoë mate van vermorste stemme, aangesien ’n onafhanklike kandidaat net een setel kry, selfs al wen hy/sy meer. Die Stigting wys daarop dat nie ‘n enkele onafhanklike kandidaat ’n setel in die Nasionale Vergadering verower het nie.
Die Behoefte om die stelsel te hervorm
In Augustus 2024, het die Verkiesingshervormingskonsultasiepaneel die publiek genooi om kommentaar te lewer oor hoe/óf die PV-stelsel hervorm moet word. Om bogenoemde redes glo die Stigting dat hervorming nie net geregverdig is nie, maar noodsaaklik is.
Die Stigting het onder andere ’n skriftelike vertoë aan die Paneel gemaak waarin ’n grondwetlik geldige stelsel voorgestel is wat staatskaping kan teenwerk: ’n Gemengde lid-proporsionele stelsel met 250 enkel-lid kiesafdelings en 150 PV-verteenwoordigers. Onafhanklike kandidate sou in slegs een kiesafdeling staan en saam met hul vennote landwyd. Kiesers sou die reg hê om swak presterende verteenwoordigers te herroep. Dit sou verteenwoordigers nader aan die mense bring en deursigtigheid en verantwoordingspligtigheid verhoog, aangesien die Parlement direk aan kiesers verantwoordbaar sou wees.
Gevolgtrekking
Die 2024-verkiesing het beide die sterk- en swakpunte van Suid-Afrika se demokratiese raamwerk uitgelig: Terwyl die insluiting van onafhanklike kandidate ’n stap vorentoe was in die uitbreiding van politieke regte, het die strukturele beperkings van die huidige stelsel hul vermoë ondermyn om regverdig teen politieke partye mee te ding. Die geweld voor die verkiesing het verder gewys hoe die vrye uitoefening van politieke regte onderdruk word.
Hierdie uitdagings beklemtoon die dringende behoefte aan verkiesingshervorming om aan die grondwetlike vereistes van verantwoordingspligtigheid, ʼn responsiewe ingesteldheid en openheid te voldoen. Hervorming van die PV-stelsel om direkte kiesafdeling-skakels en herroepmeganismes in te sluit, sal die band tussen verteenwoordigers en kiesers versterk en politieke regte werklik uitvoerbaar maak.
Vir ’n dieper ontleding van hierdie kwessies en hul implikasies vir Suid-Afrika se demokrasie, sien die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart.