Alhoewel die reg op vryheid van uitdrukking natuurlik nie uitlatings en opmerkings strydig met die redelike beperkings van artikel 16 van die Grondwet regverdig nie, is geregverdigde kritiek gerig op die tekortkominge van die regering, ‘n noodsaaklikheid in ‘n veelparty- demokrasie. Sulke kritiek is nie net beperk tot verkiesingsveldtogte nie, maar behoort deurlopend, lewenskragtige en eerlik te wees. Voorts is dit nie net voorbehou vir hoëvlak- vergaderings en geslote-deur indabas, lekgotlas en forums nie. Dit is elke individu, groep en regsentiteit se reg om ten enige tyd luidkeels en in die openbaar sulke kritiek te lewer - selfs al neem die regering aanstoot.
Gegewe ons grondwetlike bestel, is die onlangse uitbarsting deur die regerende African National Congress (ANC) oor ‘n advertensieveldtog deur Eerste Nasionale Bank (ENB) - wat etlike kritiese opmerkings en aantuigings oor die regering ingesluit het - ‘n rede tot kommer. In sy veldtog blyk ENB die regering te kritiseer vir endemiese korrupsie, ‘n mislukte onderwysstelsel, hoë misdaadvlakke en amper elke ander tekortkoming wat meeste Suid- Afrikaners bekommerd laat. Die bank het egter spoedig verklaar dat sy nou omstrede veldtog nie bedoel was as kritiek teenoor die regering nie, maar dat dit eerder daarop gemik was om die nasie saam te snoer ten einde daardie probleme die hoof te bied.
Die ANC het nie op hom laat wag nie en op sy beurt aangevoer dat die veldtog nie ‘n “advertensie” was nie, maar eerder “‘n politieke verklaring” en “‘n aanval op die president, sy ministers en die regering as ‘n geheel”. Die ANC-jeugliga het ‘n stertjie bygelas deur te sê dat die veldtog “oorlog verklaar teen die demokraties verkose regering van Suid-Afrika”. Laasgenoemde was voorts ook van mening dat die sakewêreld oor “baie geleenthede beskik om probleme met die ANC te bespreek, maar dat dit verraderlik is om dit te doen op ‘n openbare platform en op die wyse waarop dit gedoen is”.
Of die ENB-veldtog daarop gemik was om die regering te kritiseer al dan nie, is van minder belang. Die veldtog kon bes moontlik ‘n politieke verklaring en allermins ook ‘n verleentheid vir die regering wees. Dit is egter in alle waarskynlikheid ‘n bemarkingsoefening wat ‘n vals snaar verkeerd gespan het. Hoe dit ook al sy, die ANC se reaksie op hierdie veldtog is die eintlike bekommernis. Die regerende party handhaaf oënskynlik die siening dat niemand, insluitende die sakewêreld en besighede soos ENB, die reg het of die vermetelheid behoort te hê om die regering en die ANC te kritiseer nie.
Die regering en sy verteenwoordigers is egter aanspreeklik teenoor die publiek - teenoor die kiesers. As sodanig is die publiek - insluitend regspersone in die sakewêreld - geregtig daarop om aan te dring om te weet wat die regering doen ten uitvoering van sy mate en pligte. Elkeen het voorts ook ‘n reg om die regering en sy verteenwoordigers te versoek om hul handelinge te verduidelik. Of hierdie reg tans behoorlik deur die Parlement - die verkose verteenwoordigers van die kiesers - uitgeoefen word, is te betwyfel en kan sekerlik die rede wees waarom mense alternatiewe roetes begin volg om hul misnoeë teenoor die regering uit te spreek - maar dit daargelaat.
In Mthembi-Mahanyele v Mail & Guardian Ltd & Another, het die Appèlhof bevind dat indien die regering en sy verteenwoordigers nie, sonder regverdiging, hul doen en late verduidelik nie, “hulle die kritiek en kommentaar wat hul gedrag uitlok [moet] aanvaar, met dien verstande natuurlik dat [die kritiek] geregverdig is in die omstandighede en nie kwaadwillig gelewer word nie”. Ten einde die regering se aanspreeklikheid teenoor die kiesers te verseker, het die Hof ook bepaal dat “vryheid van uitdrukking in politieke diskoers nodig is” ten einde te verseker dat “die samelewing, deur middel van behoorlike en openhartige kommentaar, ingelig bly oor wat die regering doen”. Die Hof bevind as sulks dat vryheid van uitdrukking ook die reg om “die regering en die land se sake te bespreek en te kritiseer” vervat. Aldus die Hof beteken dit ook dat die gedrag en optrede van individuele Kabinetsministers dienooreenkomstig gekritiseer kan word.
Die Konstitusionele Hof het ook by meer as een geleentheid die reg om die regering te kritiseer uitdruklik beklemtoon. In Minister of Health & Another v New Clicks South Africa was die Hof van mening dat “wanneer die Howe sy mag op geregtelike hersiening uitoefen, die howe gepaste gewig [moet] gee aan die feit dat die parlementêre stelsel politieke verantwoordelikheid moet bevorder en dat ons in ‘n oop samelewing leef waarin dit almal vry staan om handelinge van die regering te kritiseer. ‘n Gronwetlike demokrasie vereis, nietemin, meer as die reg om die regering by naskoue te kritiseer.” Die Hof handhaaf hierdie siening ook Doctors for Life International v Speaker of the National Assembly & Others.
In die Matatiele-saak, merk Regter Sachs op dat die “opvatting dat ‘die regering van beter weet’… nie meer versoenbaar is met die demokratiese regering, gebaseer op die oppergesag van die reg, soos deur ons Grondwet in die vooruitsig gestel nie”. In terme van die Grondwet, moet die regering en sy verkose verteenwoordigers ten alle tye in staat wees om hulle besluite en optrede te verduidelik en te regverdig, op versoeke van die samelewing te reageer, toeganklik te wees vir die publiek en sy optrede en handelinge op ‘n oop en deursigtige wyse uit te voer. Dit is elkeen – insluitend die sakewêreld – se grondwetlike reg en plig om die regering tot verantwoording te roep vir sy optrede. Ongeag of dit gaan om ‘n verduideliking waarom R250 miljoen van belastingbetalers se geld bestee word op die private woning van die President, of waarom R65 miljoen bestee word aan die opgradering van ministers en adjunkministers se amptelike wonings terwyl miljoene Suid-Afrikaanse lewe sonder die mees basiese behuising, sanitasie en water; of waarom meer as ‘n kwart van alle Suid-Afrikaners werkloos is en die basiese onderwysstelsel in chaos gedompel is. Kritiek op die regering se onvermoë om sy magte en pligte met verantwoordelikheid en volgens die verwagtinge van die kiesers uit te voer, is - ten spyte van die ongenaakbaarheid daarvan - nie verraderlik, onwettige of immoreel nie. In teendeel, dit is ‘n grondwetlike plig.
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: The Times (via BDLive)