Benewens die uitstekende werk wat deur die Motsepe-stigting (gestig in 1999) gedoen word, het mnr Motsepe en sy vrou, Precious, in Januarie 2013 by die Giving Pledge aangesluit wat deur Warren Buffet en Bill en Melinda Gates van stapel gestuur is:
“Ek en Precious sal ten minste die helfte van die geld wat deur ons familiebates genereer word aan die Motsepe-stigting skenk om gedurende ons leeftyd en daarna gebruik te word; om die leefstyl en lewensomstandighede te verbeter van die armes, gestremdes, werkloses, vrouens, die jeug, werkers en gemarginaliseerde Suid-Afrikaners, Afrikane en mense regoor die wêreld. Die Motsepe-stigting sal voortgaan om te fokus op inisiatiewe en projekte wat die begunstigdes sal help om selfonderhoudend en onafhanklik te word.”
Mnr Motsepe sê dat dit sy ouers was wat hom geleer het oor besigheid en entrepreneurskap, en ook oor die plig om te gee aan en te sorg vir die armes en gemarginaliseerde mense – die gees van Ubuntu/Botho. Hierdie onbaatsugtige en deernisvolle karaktereienskappe is deel van die oeroue Afrika-kultuur van gee aan en sorg vir jou buurman en ander lede van jou gemeenskap:
“Ek en Precious erken die groot verantwoordelikheid en plig wat die Motsepe-familie het teenoor die armes, die werkloses, gestremdes, vroue, die jeug, werkers en gemarginaliseerde Suid-Afrikaners. Ons het ook ’n voortgesette plig ten opsigte van nasiebou, om swart en wit Suid-Afrikaners te verenig en om daartoe by te dra om Afrika en die wêreld ’n beter plek te maak … Die sakeondernemings wat ons gestig het of waarby ons betrokke is het ook belangrike instrumente geraak met betrekking tot werkskepping, onderwys, gesondheidsorg, die verligting van armoede en die skep van welvaart.”
Mnr Motsepe is ’n lid van die Internasionale Besigheidsraad (IBC) van die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF), wat bestaan uit 100 van die mees gerespekteerde en invloedryke hoof uitvoerende beamptes in alle sektore, en is ook’n lid van die JP Morgan Internasionale Raad. He is tans die nie-uitvoerende voorsitter van Harmony, die adjunkvoorsitter van Sanlam en ook die President van die voetbalklub, Mamelodi Sundowns.
Die Raad van die FW de Klerk Stigting het die FW de Klerk-welwillendheidstoekenning in 2010 ingestel ten einde erkenning te verleen aan individue en organisasies wat uitsonderlike bydrae tot die bevordering van welwillendheid tussen Suid-Afrikaners gelewer het. Vorige ontvangers van die toekenning sluit in dr Danny Jordaan, Pieter-Dirk Uys en Studietrust.
Die FW de Klerk-welwillendheidstoekenning sal tydens die Stigting se jaarlikse galadinee in Kaapstad op 30 Januarie 2014 aan Patrice Motsepe oorhandig word.
Persverklaring uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
30 Januarie 2014
Om meer uit te vind oor Patrice Motsepe en die werk van die Motsepe-stigting, besoek www.themotsepefoundation.org.