Ek wil julle almal graag bedank vir die groot eer wat julle aan my toegeken het met die besluit om Tafelbaai-boulevard na my te hernoem. Ek wil spesifiek graag die individue bedank wat hierdie inisiatief van stapel gestuur het en wat daarin geslaag het om die steun van soveel Kapenaars te verseker – met inbegrip van ons Premier en aartsbiskop Tutu.
Soos ek voorheen genoem het, is dit nie ’n eer waarvoor ek gevra het nie. Ek was ook glad nie daarvan oortuig dat plekke en straatname na lewende mense hernoem moet word nie – en veral nie na lewende politici nie!
Ek het egter my mening hieroor verander.
Ek sien hierdie eer – nie in die eerste plek as ’n huldeblyk aan my nie – maar as ’n erkenning van die bydrae wat so baie ander partye, instellings en mense tot die daarstelling van ons nuwe nie-rassige grondwetlike demokrasie gemaak het.
Dit is noodsaaklik dat ons die pogings moet teenstaan van sekere politieke faksies om die geskiedenis te herskryf en om die indruk te wek dat ons nuwe samelewing deur die ANC alleenlik tot stand gebring is. Enige iemand wat teenwoordig was by die grondwetlike onderhandelings tydens die vroeë 90s sal besef hoe onwaar dit is – en hoe belangrik die bydrae van al die deelnemende partye tot die sukses van ons proses was.
Die bydrae van my ondersteuners was noodsaaklik. Indien hulle ‘nee’ gestem het in die referendum van Maart 1992, sou die onderhandelings tot stilstand gekom het en sou Suid-Afrika weer eens op ’n afwaartse pad gewees het wat tot konflik en ekonomiese katastrofe sou lei.
Die feit dat 69% van wit Suid-Afrikaners ‘ja’ gestem het in die referendum was die beste getuienis van hul moed en vasberadenheid om ’n nuwe samelewing daar te stel wat op nie-rassigheid en geregtigheid gebaseer is. Hulle verdien om vereer te word.
Die bydrae van die IVP was net so belangrik. Die IVP moes baie van die trauma van die gewapende stryd verduur wat teen hulle in KwaZulu-Natal en die destydse Suid-Transvaal ontketen is. Indien hulle nie op die laaste minuut ingestem het om aan die verkiesing in 1994 deel te neem nie, is dit glad nie seker dat die proses die universele geldigheid en erkenning sou geniet het wat dit daarna ontvang het nie.
Ander partye – veral die Demokratiese Party – het belangrike rolle agter die skerms gespeel met betrekking tot die onderhandeling van wat nou erken word as een van die beste grondwette en handves van regte in die wêreld.
Laastens verdien die mense van Kaapstad en die Wes-Kaap ook om erken te word. Die feit is dat my party in die nasionale verkiesing in 1994 en die daaropvolgende munisipale verkiesings baie meer stemme in die Wes-Kaap as enige ander party gekry het. Mense wat ons gesteun het in die Kaap het ook vir transformasie gestem – maar vir transformasie wat daarop gebaseer is dat daar nie teen enige rasse- of politieke groep gediskrimineer sal word nie. Hulle het nie gestem vir die instelling van raskwotas wat op nasionale demografie gebaseer is nie.
Al die kiesers en partye wat gehelp het om ons nuwe samelewing daar te stel verdien om erken en vereer te word vir die rolle wat hulle in daardie belangrike jare gespeel het.
Dit is nou ’n saak van groot kommer dat die plaaslike verteenwoordigers van die ANC besluit het om die ander partye wat gehelp het om ons nuwe samelewing daar te stel, te denigreer. Deur die eer wat die Stad aan my toegeken het, te verwerp, het hulle in werklikheid hul rug gedraai op al die kiesers wat my gesteun het toe ek ’n aktiewe politikus was.
Ek glo dat hulle ook die wonderlike tradisie van versoening en nasiebou verwerp wat deur Nelson Mandela verpersoonlik is. Ek twyfel geensins dat hy nie ook diep geskok en teleurgesteld sou wees deur hul gedrag nie.
Hul leier in hierdie Raad het gesê dat “[d]ie fase van versoening wat redelike wit en swart mense bymekaar gebring het, verby [is]. Ons is nou gewikkel in ’n stryd om ekonomiese en maatskaplike geregtigheid.”
Hy het – sonder om dit by die naam te noem – verwys na die radikale inwerkingstelling van die tweede fase van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie, aan die einde van versoening en die aanvang van toenemende konfrontasie tussen rasse.
Sy benadering is net nog ’n aanduiding van die mate waartoe diegene in die ANC, wat soos hy dink, die Nasionale Ontwikkelingsplan laat vaar het – ’n belangrike element in die bevordering van nasionale eenheid.
Dit is nog ’n aanduiding van die “nuwe, bitter en konfronterende toon in die nasionale diskoers” waarna ek Dinsdag in my toespraak verwys het en wat die antitese is van alles waarvoor Nelson Mandela tydens sy presidentskap gewerk het.
Ek hoop dat wanneer Suid-Afrikaners in die toekoms op FW de Klerk-boulevard ry, hulle nie my sal onthou nie, maar daardie merkwaardige tydperk in ons geskiedenis toe alle Suid-Afrikaners saamgekom het onder die leierskap van Nelson Mandela, FW de Klerk, Mangosuthu Buthelezi, Zac de Beer, Colin Eglin en baie ander om ’n nuwe en baie beter samelewing te bou. Ek hoop dat hulle dit sal sien as ’n snelweg na versoening en na die waardes waarop ons Grondwet gebaseer is.
Diegene wat hul rug gedraai het op versoening en nasionale eenheid is op ’n ander pad wat lei na ’n heeltemal ander bestemming: hulle stuur af op die onvoltooide deel van die verhoogde snelweg wat tot die afgrond lei.