Die FW de Klerk Stigting bevorder en beskerm FW de Klerk se presidensiële nalatenskap deur dít waarvoor hy gewerk het tydens sy presidensie, te steun. Die Stigting:
- steun en bevorder die Grondwet, die Handves van Regte en die oppergesag van die reg deur die aktiwiteite van die Sentrum vir Grondwetlike Regte;
- bevorder eenheid in diversiteit deur te streef na goeie intergemeenskaplike verhoudinge en nasionale eenheid deur die aktiwiteite van die Sentrum vir Eenheid in Diversiteit;
- steun liefdadigheidsorganisasies wat omsien na gestremde en benadeelde kinders;
- verstrek inligting oor FW de Klerk se presidensie en die faktore wat gelei het tot Suid-Afrika se oorgang na ’n nie-rassige grondwetlike demokrasie.
Wat moet gedoen word?
-
Ons moet die Grondwet steun. Suid-Afrika se toekomstige vryheid, politieke stabiliteit en ekonomiese welvaart is direk afhanklik van ons vermoë om ons Grondwet – die produk van versigtige onderhandelinge, te handhaaf.
-
Ons moet verhoudinge tussen ons gemeenskappe koester. Ons moet die intergemeenskaplike harmonie handhaaf deur wedersydse respek vir ons diverse kulture te bevorder; deur enige rassisme teen te staan en deur te streef na nasionale eenheid;
-
Daar moet voortdurende kommunikasie tussen gemeenskappe, die sakewêreld, arbeid en die regering geskied ten einde konsensus te bereik oor oplossings vir ons nasionale probleme;
-
Ons moet saamwerk om die probleme in ons samelewing te takel, met inbegrip van ongelykheid, onderwys, werkloosheid, misdaad en korrupsie.