Ingevolge artikel 86 van die Grondwet verkies die Nasionale Vergadering, namens die mense van Suid-Afrika, die President as Staatshoof en hoof van die uitvoerende gesag. Dus voer hy namens Suid-Afrika die pligte en magte uit ingevolge artikels 84 en 85 van die Grondwet, en nie namens die ANC nie, en is as President van die Republiek verantwoordelik teenoor die Parlement as die verteenwoordigers van die mense van Suid-Afrika.
Volgens artikels 85 en 86 van die Grondwet berus die uitvoerende gesag van die Republiek in die President. Ingevolge die bepalings in die Grondwet, en onderhewig aan die toesiggewende rol van die Parlement, oefen hy die uitvoerende gesag uit, saam met ander lede van die Kabinet, deur die funksies van staatsdepartemente en staatsorgane te koördineer. Sodoende, en ingevolge artikel 83, moet die President “die Grondwet as die hoogste reg van die land handhaaf, verdedig en eerbiedig”. Daarbenewens, en ingevolge artikel 96(2) van die Grondwet, mag die lede van die Kabinet - met inbegrip van die President - maar ook die Adjunkministers “nie… optree op enige wyse wat met hul amp onbestaanbaar is, of hulself blootstel aan enige omstandigheid wat die risiko inhou van ‘n botsing tussen hul amptelike verantwoordelithede en hul private belange nie”. Die President, Ministers en Adjunkministers mag ook nie, ingevolge die Grondwet, “hul posisie of enige inligting aan hulle toevertrou, gebruik om hulself te verryk of enige ander persoon onbehoorlik te bevoordeel nie”. Indien ’n President versuim om aan hierdie bepalings te voldoen, kan die Parlement ingevolge artikel 89 die President van sy amp onthef of ingevolge artikel 102 hom en sy of haar Kabinet by wyse van ’n mosie van wantroue uit hul ampte verwyder.
Die ANC - en moontlik selfs die Parlement - mag dalk nie so geïnteresseerd wees in die President se vriendskap met die Gupta-familie nie. Die mense van Suid-Afrika het egter die reg om te weet of “Guptagate” die gevolg was van “’n situasie wat die risiko van ’n konflik behels tussen amptelike verantwoordelikhede en private belange”. Die mense het die reg om te weet of die vertroue wat hulle in hul verteenwoordigers in die Parlement plaas om ’n President aan te wys en oor hom toesig te hou, geskend is. Die ANC mag dalk nie daarin belangstel om te weet of ooit uit te vind nie, maar die mense van Suid-Afrika - en meer spesifiek die Suid-Afrikaanse kiesers - het ’n grondwetlike reg om te weet of hul President versuim om artikels 83 en 96(2) van die Grondwet en die grondwetlike waardes van verantwoordingspligtigheid, openheid en ’n responsiewe ingesteldheid na te kom - en, indien wel, om op gepaste optrede deur die Parlement aan te dring.
By Adv Johan Kruger, Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
{phocadownload view=file|id=222|text=Laai die PDF af|target=s}