Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
OM VERVOERKOSTES IN JEUGGELEENTHEDE TE OMSKEP
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 27/08/2025
Hierdie artikel is die tweede aflewering in ons Geld-Slim Week 2025-reeks, ná ons vroeëre fokus op werkloosheid en die grondwetlike noodsaaklikheid van ’n inklusiewe, geslagsgelyke ekonomie. In hierdie stuk fokus ons op ’n alledaagse finansiële las wat die lewens van miljoene jongmense raak – die koste van vervoer om by ‘n werk uit te kom. Vir baie gegradueerdes wat in óf naby die informele sektor werk, sluk vervoeruitgawes só ’n groot deel van hul inkomste in dat dit die belofte van finansiële onafhanklikheid vertraag óf hulle selfs heeltemal daarvan ontneem.
Die statistiek is ontstellend. Suid-Afrikaanse huishoudings bestee gemiddeld 16% van hul begrotings aan vervoer, vergeleke met ’n wêreldgemiddelde van 10-15%. By die armste huishoudings styg dit tot meer as 20% en vir baie jong werkers klim die syfer tot bo 40% van hul inkomste. Wanneer verlore ure ook in berekening gebring word, kan pendelkoste meer as die helfte van netto lone uitmaak. In ’n land waar jeugwerkloosheid reeds meer as 46% beloop, is dit ’n wesenlike struikelblok vir waardigheid, spaargeld en geleenthede.
Die wortels van hierdie krisis lê in wat dikwels ruimtelike apartheid genoem word. ’n Nalatenskap van beplanning wat swart Suid-Afrikaners ver van die sentrums van ekonomiese aktiwiteit geplaas het. Dorpe en informele nedersettings lê steeds aan die buitewyke van ons stede, wat jongmense dwing om ure lank te pendel en koste te dra wat hul eweknieë in meer welgestelde voorstede nooit hoef te ervaar nie. Byna drie dekades ná die koms van demokrasie bestaan hierdie strukturele ongelykheid steeds. Die gevolg is tweeledig. Jongmense word finansieel benadeel bloot op grond van waar hulle woon en hul vermoë om te spaar en in hul toekoms te belê. Dit word geknou nog voordat hulle behoorlik kan begin.
Om skuldiges aan te wys, verlig nie die las nie. Wat nou saak maak, is hoe ons hierdie diepgewortelde onreg kan omskep in ’n geleentheid vir groei, veerkragtigheid en finansiële bemagtiging. Geld-Slim Week gaan nie net oor teorie nie, maar oor praktiese hulpmiddels wat jongmense in staat stel om beheer oor hul finansies te neem. Pendel mag ’n swaar las wees, maar dit kan ook dien as ’n katalisator vir beter finansiële beplanning en slimmer ekonomiese besluite.
Eerstens moet jongmense vervoer beskou as ’n kernitem in hul persoonlike begrotings. Te veel gegradueerdes sien pendel bloot as ’n onvermydelike drein, eerder as ’n koste wat met dissipline bestuur kan word. Deur doelbewus vir reiskoste te begroot, gereelde bedrae opsy te sit en hul maandelikse uitgawes fyn dop te hou, kan jongmense keer dat hulle in die strik van onbeplande skuld of roekelose korttermynbesteding trap. Finansiële geletterdheid begin met bewustheid – en bewustheid begin deur eerlik en verantwoordelik met die syfers om te gaan.
Tweedens moet spaargeld nie afgeskryf word bloot omdat pendelkoste hoog is nie. Selfs klein, gereelde bedrae – soos R50 of R100 wat elke maand opsy gesit word – groei mettertyd. Die beginsel van “betaal eers vir jouself” bly gesond, selfs onder druk. Die Grondwet se beskerming van waardigheid in artikel 10 sluit ook finansiële waardigheid in: die vermoë om vir jouself te voorsien en om voortdurende afhanklikheid te vermy. Vir jong gegradueerdes is gedissiplineerde spaar ten spyte van pendelkoste nie ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklike skans teen onsekerheid.
Derdens moet pendeluitdagings beskou word as geleenthede vir entrepreneurskap. Elke oorvol taxistaanplek is ook ’n mark: ’n plek waar kos, digitale dienste en finansiële produkte aangebied kan word. Jongmense met inisiatief kan die tyd en omgewing van reis gebruik as springplank vir ondernemings. Artikel 22 van die Grondwet beskerm die reg om vrylik ’n beroep of besigheid te kies. Vir baie begin die uitoefening van hierdie vryheid nie in raadsaal of kantoor nie, maar in die informele ruimtes waar Suid-Afrikaners daagliks pendel.
Vierdens moet jong professionele persone gebruik maak van moderne finansiële hulpmiddels wat help om die las van pendelkoste te balanseer. Mobiele bankdienste, digitale spaarbeursies en begrotings-toepassings stel pendelaars in staat om presies te sien waar hul geld heen gaan, realistiese teikens te stel en selfs outomatiese spaarplanne in plek te hê. Die reg op toegang tot inligting in artikel 32 beteken niks as finansiële produkte ondeursigtig óf moeilik bekombaar bly. Maar wanneer jongmense gereedskap gebruik wat deursigtigheid bring, verander hulle finansiële geletterdheid in ware finansiële beheer.
Vyfdens moet jong pendelaars leer om hulpbronne saam te voeg en kollektief op te tree. Saamryklubs, saamry-klubs en stokvels wat spesifiek vir vervoerkoste ingestel is, bied praktiese maniere om individuele laste te verlig terwyl gemeenskapsolidariteit versterk word. Dit is nie bloot kulturele gebruike nie, maar doeltreffende finansiële strategieë wat kwesbaarheid omskep in gedeelde krag. Só word dit wat eens ’n hindernis was, ’n dryfveer van samewerking en veerkragtigheid.
Sesdens moet die les van pendelkoste ook deurgetrek word na langtermynbeplanning. Indien hoë daaglikse vervoerkoste nie bestuur word nie, erodeer dit die vermoë om in behuising, onderwys óf aftrede te belê. Artikel 25 van die Grondwet bevestig eiendomsreg, maar dié regte bly ‘n hersinskim as jong Suid-Afrikaners nooit bates kan opbou nie. Selfs beskeie, gedissiplineerde aksies om spaargeld op te bou wat deur noukeurige pendelbegrotings moontlik gemaak word, kan deposito’s vir huise, beleggings of pensioenfondse verseker. Die besluit om te beplan – selfs onder finansiële druk – is die verskil tussen volgehoue kwesbaarheid en toekomstige stabiliteit.
Laastens moet onderwys jongmense voorberei op hierdie realiteite nog voordat hulle dit self ervaar. Gegradueerdes betree dikwels die wêreld van werk met min leiding oor hoe om pendelkoste met ander finansiële verpligtinge te balanseer. Artikel 29 waarborg die reg op onderwys en daardie reg moet ook die aanleer van finansiële vaardighede as deel van die kurrikulum insluit. Geld-Slim Week bestaan om hierdie leemte te vul, maar die lesse wat daar oorgedra word, moet ook in formele onderwys veranker word, sodat elke jong Suid-Afrikaner toegerus is om geld in die werklike ekonomie te bestuur.
Die Prince’s Trust het eens daarop gewys dat “een uit tien jongmense werksgeleenthede van die hand gewys het omdat hulle nie vervoer of uniforms kon bekostig nie.” Net so moet vervoer na en van ‘n werk nié ’n plafon wees wat die jeug se potensiaal inperk nié. Dit moet gesien word as ’n fondament wat wel veeleisend en onvermydelik is, maar ook leersaam – en waarop jong Suid-Afrikaners dissipline, spaarkultuur en entrepreneuriese energie kan bou.
Suid-Afrika het al moeiliker beproewinge deurstaan en geseëvier. Ons weet hoe om diepgewortelde hindernisse te oorkom. Die uitdaging van ruimtelike apartheid en die hoë koste van pendel is nie onoorkomelik nie. Met duidelikheid, met ’n grondwetlike anker en met ’n verbintenis tot finansiële geletterdheid, kan jongmense ’n daaglikse las omskep in ’n geleentheid na vryheid.
Geld-Slim Week herinner ons daaraan dat die Grondwet se beloftes nie net in hofsale gestand gedoen word nie, maar ook by taxi-staanplekke, op treinplatforms en by busstaanplekke. Elke begrotingsbesluit, elke daad van spaar en elke vonk van entrepreneurskap is ’n manier om die regte op waardigheid, gelykheid en ekonomiese vryheid te verwesenlik. As ons jeug die dissipline van pendelkoste bemeester, sal hulle nie bloot die afstand na en van werk oorleef nie – hulle sal ’n nuwe rigting na voorspoed en onafhanklikheid inslaan.