‘n Duidelike voorbeeld hiervan is geïllustreer deur ‘n advertensie wat deur die Departement van Basiese Onderwys (DBO) geplaas is in antwoord op wat nou bekend is as die ‘Limpopo- handboekskandaal’ (die DBO se versuim om handboeke vir die akademiese jaar 2012 af te lewer). Ten spyte van verskeie bewerings deur die DBO en die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het die regering se ondersoek (wat uitgeloop het op die Metcalfe‐verslag) bevind dat die DBO slegs 15% van die vereiste boeke teen 3 Julie - halfpad deur die akademiese jaar - afgelewer het. Die DBO beweer egter telkens dat 98% afgelewer is. Toe die media groter klem gelê het op die volle omvang van die probleem, het die onderwysdrukgroep Section27 die DBO in die hof uitgedaag oor die versuim om handboeke aan Limpopo‐leerders te verskaf, en as sulks versuim het om uitvoering te gee aan die grondwetlike reg op onderwys. Ná beduidende nienakoming deur die DBO wat hierdie kwessie betref, het Section27 die DBO weer in September 2012 hof toe gevat. (Die Noord- Gautengse Hoë Hof het gevolglik die DBO beveel om ‘n beëdigde verklaring op 31 Oktober 2012 in te dien - en hulle het - oor die besonderhede van die stappe wat geneem is om te verseker dat die DBO handboeke behoorlik aflewer.)
Op 5 Oktober 2012 het die DBO ‘n advertensie geplaas in verskeie Sondag‐koerante, in antwoord op hierdie hofbevel, met die titel “Facts about the Limpopo textbooks High Court ruling: Don’t be misled”. Die advertensies was volkleur en die koste daarvan beloop in die omgewing van R900 000. Dalk is die koste - sowel as die manier waarop die DBO die advertensie oorgebring het - vererger deur die feit dat die Ouditeur‐generaal bevind het dat die provinsiale onderwysdepartemente R167m in die boekjaar 2011 vermors het, ten spyte van die gruwelike versuim om hul teikens te bereik. Die Ouditeur‐generaal het voorts bevind dat Limpopo verantwoordelik is vir die meeste van die totale vermorste uitgawes van alle departemente.
Die publisering van hierdie advertensie bring twee belangrike punte na vore:
Eerstens, die advertensie van die DBO het moontlik twee bepalings van die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde van Suid‐Afrika se Advertensiekode oortree, naamlik artikel 2.2 (Eerlikheid) so wel as artikel 2.4.2.1 (Misleidende bewerings). Hierdie artikels maak dit duidelik dat “advertensies nie so opgestel moet wees om die vertroue van die verbruikers te misbruik of sy gebrek aan ervaring of kennis of sy liggelowigheid uit te buit nie” en “advertensies moenie ‘n verklaring of ‘n visuele aanbieding bevat wat regstreeks of by implikasie, weglating, dubbelsinnigheid, onakkuraatheid, oordrewe bewering of andersins, geneig is om die verbruiker te mislei nie”.
Die bogenoemde DBO advertensie het so gelees: “The department of education wishes to state that the decision by Section27 to litigate on the perceived non-delivery of Grade 10 textbooks, which were reported as shortages by schools in Limpopo, was unnecessary and a waste of valuable time and resources.”
Verskeie kommentators is van mening dat die DBO die publiek mislei het deur die gebruik van die woorde “perceived non-delivery” toe dit in die advertensie gepraat het van die “perceived non-delivery of Grade 10 textbooks” en die “so-called failure of the Department to meet the delivery targets”. Die redes hiervoor is dat die DBO deur die advertensie nie net impliseer het dat dit bloot ’n persepsie is dat die departement versuim het om handboeke af te lewer en om sy teikens te behaal nie, maar ook homself ernstig weerspreek deur te sê dat die DBO “conceded to the Court that a percentage of Grade 10 textbooks was still to be delivered to schools and that the DBE would complete these outstanding deliveries by 12 October 2012.”
In die advertensie het die departement volgehou dat die hof nie bevind het dat die departement skuldig is nie. Die advertensie het aangevoer: “In fact, the Court did not attribute fault to the department for the incomplete nature of the delivery of books to Limpopo. The Court indeed accepted that it was not the fault of the department.”
Die Hoë Hof het nooit bevind dat daag geen skuld aan die kant van die departement was nie, maar eerder geen bevinding oor skuld gemaak nie.
Die nie‐aflewering van handboeke deur die DBO en die gevolglike versuim om sperdatums na te kom is presies waarom die Hof die derde bevel toegestaan het vir ‘n nuwe sperdatum vir die aflewering van die boeke.
Tweedens is die DBO veronderstel om die gevolge van die plasing van só ‘n advertensie, eerder as om dit as ‘n persverklaring uit te reik, in ag te neem. Die rasionaal agter dit is die beginsel dat die media veronderstel is om ‘n objektiewe en gebalanseerde platform te bied vir alle partye om hul menings te lug, te voorsien - ten minste in nuusverslaggewing. As die media ‘n objektiewe en onpartydige platform bied, is dit onaanvaarbaar vir die regering om misleidende advertensies wat onakkurate feite bevat te plaas, soos in hierdie geval van die DBO. Dit sou ook onaanvaarbaar wees vir die regering om belastinggeld te gebruik om te betaal vir ‘n advertensie waar die inligting deur middel van ‘n persverklaring oorgedra kon word.
Aan die ander kant, as media ‘n platform bied wat subjektief of stuksgewys in sy benadering is, kan dit geargumenteer word dat dit verstaanbaar sou wees vir die regering om alternatiewe kanale – soos advertensies – te kies om sy mening te lug: maar dan behoort die feite daarin wat daarin vervat word waar en korrek te wees, want daar kan geen regverdiging wees vir die bevordering van misleidende en onakkurate feite nie.
Dit gee aanleiding tot die vraag: as regering kommunikeer - hoekom publiseer die media nie hul persverklarings nie? Is dit omdat die media partydig is, of omdat feite wat deur die regering verskaf word onakkuraat of misleidend is? As die media partydig is, is die regering waarskynlik geregtig om te adverteer. Maar as die feite onakkuraat of misleidend is, is dit onaanvaarbaar om belastingbetalers se geld te gebruik om advertensies te plaas.
Deur Adv Jacques du Preez, Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: Viewminder / Foter.com / CC BY-NC-ND