Die gevolg van hierdie onderhandelinge word vandag weerspieël in artikel 25 van die Grondwet. Laasgenoemde is noukeurig geformuleer ten einde, aan die een kant, die belangrike reg om eiendom te besit in ag te neem, en, aan die ander kant, om voorsiening te maak vir die behoefte vir die staat om eiendom te onteien in openbare belang of vir ’n openbare doel. Artikel 25 maak ook voorsiening daarvoor dat enige onteieningsproses “regverdig en billik [moet] wees, en ‘n billike ewewig [moet] toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede”. Daarbenewens vereis dit vergoeding waarop diegene wat daardeur geraak word, ooreenkom; of wat deur ’n hof vasgestel of goedgekeur sal word.

Die bepalings van artikel 25 verskil van die vorige onteieningsproses deur nie slegs onteiening vir ’n openbare doel toe te laat nie, maar ook in openbare belang. Laasgenoemde sluit spesifiek in “die nasie se toewyding tot grondhervorming, en tot hervorming wat sal lei tot gelyke toegang tot al die natuurlike bronne van Suid-­Afrika” en verklaar dat “eiendom nie tot grond beperk is nie”.

Dit is alom bekend dat dit die doelwit van die konsepwetsontwerp is om, in die konteks van die transformatiewe aard van die Grondwet, uitvoering te gee aan artikel 25 van die Grondwet. Desnieteenstaande is daar verskeie redes tot kommer in die konsepwetsontwerp, wat deur die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) in ’n onlangse voorlegging onder die aandag van die DOW gebring is. ’n Voorbeeld hiervan is dat alhoewel dit in ooreenstemming is met artikel 25 van die Grondwet, die insluiting van “openbare belang” as gronde vir onteiening -­ sonder om die betekenis van hierdie konsep voldoende en duidelik te definieer -­ kan lei tot onbeplande en negatiewe gevolge vir eienaars en houers van eiendom wanneer dit aan die subjektiewe uitleg van die Minister of ander gesagte ten opsigte van onteiening onderwerp is.

Die wetsontwerp se definisie van “openbare belang” sluit bewoording in die Grondwet in wat bepaal dat, vir die doel van artikel 25, die “openbare belang die nasie se toewyding tot grondhervorming, en hervorming ten einde gelyke toegang tot al die natuurlike bronne in Suid-­Afrika teweeg te bring” insluit. Die opstellers het toe egter ’n verreikende en potensieel aanvegbare uitbreiding tot die definisie gevoeg deur die woorde “en ander verbandhoudende hervomings ten einde die gevolg van historiese wette of praktyke ten opsigte van rassediskriminasie reg te stel”. Die betekenis van “ander verbandhoudende hervormings”, wat steeds gedefinieer moet word, is vaag en onbepaald, en laat dit aan die Minister oor om die besluit te neem. So verregaande as wat dit mag klink, kan dit maklik die grondslag wees vir die regverdiging van die onteiening van feitlik enige eiendom -­ met inbegrip van aandele, maatskappye en selfs huise -­ wat deur enige persoon of entiteit besit word wat voorheen bevoordeel is of op een of ander wyse verbind kan word met “wette en praktyke ten opsigte van rassediskriminasie uit die verlede’. Dit is duidelik op meer as een vlak onverdedigbaar.

Die wetsontwerp het ten doel om die tersaaklike dele van artikel 25 in werking te stel en moet dus redelik, regverdigbaar en presies wees. Dus is ’n heelwat meer presiese definisie van “openbare belang” nodig ten einde te verseker dat die aard van enige onteiening van eiendom nie teenstrydig is met die beginsel dat “geen wet op arbitrêre wyse eiendom mag onteien nie” -­ nie op direkte wyse nie en ook nie deur onbedoelde gevolge nie.

Die DOW was reg om aan te voer dat onteiening ’n administratiewe stap is wat onderhewig is aan regverdige administratiewe optrede -­ wat dus vereis dat dit redelik regverdigbaar moet wees wanneer eiendom onteien word in die openbare belang. ’n Administratiewe stap kan vir alle doeleindes slegs hersien word wanneer dit afgehandel is, wat die onteiende eienaar met geen ander opsie los as om die regverdigbaarheid van die besluit dan uit te daag nie.

Wanneer ’n meer presiese definisie van “openbare belang” oorweeg word, moet die opstellers daarop let dat ervaring regoor die wêreld en regdeur die geskiedenis ongetwyfeld daarop wys dat eiendomsreg noodsaaklik is vir ekonomiese stabiliteit, groei en die welstand van enige samelewing. Dit is ongetwyfeld ’n belangrike eienskap van “openbare belang”.

Voorts is die wyse waarop vergoeding bepaal word, wanneer dit betaal word en wanneer eiendom onteien kan word voordat die volle vergoeding aan die eienaar betaal is, verdere rede tot kommer. Ingevolge die wetsontwerp kan besit geneem word van onteiende eiendom voordat die eienaar daarvoor vergoed is. Daarbenewens kan vergoeding slegs betaalbaar wees wanneer die staat oor die bedrag ooreengekom het of die howe daaroor besluit het. Indien eienaars van onteiende eiendom besluit om die vergoeding wat deur ’n onteieningsgesag aangebied word, teen te staan, kan hulle hul sonder hul eiendom bevind en sonder die inkomste wat daardeur bekom kan word totdat die hof ’n beslissing ten opsigte van vergoeding gelewer het. Aangesien die proses jare kan neem om af te handel, sal die eienaars van sodanige eiendom onder geweldige druk wees om enige aanbod deur die onteieningsgesag te aanvaar.

Laastens, alhoewel die Grondwet ingevolge artikel 25 bepaal dat “eiendom nie beperk is tot grond nie”, is die definisie van eiendom wyd en vaag, wat tot die gevolg kan hê dat alle soorte eiendom onteien kan word, met inbegrip van grond, ander onroerende goedere, roerende goedere, aandele en mynregte. Die wetsontwerp verleen ook nie slegs aan die nasionale regering uitgebreide magte om te onteien nie, maar ook aan provinsiale regerings, munisipaliteite en staatsorgane “wat deur ’n wet of algemene toepassing bemagtig is”.

In Port Elizabeth Municipality v Various Occupiers het die Konstitusionele Hof ’n paar riglyne geformuleer vir die uitleg van artikel 25 in die konteks van historiese diskriminerende wetgewing ten opsigte van grond, waarvolgens teenstrydige regte met mekaar gebalanseer moet word. Volgens die hof moet dit die begin-­ en eindpunt van die uitleg van artikel 25 wees om die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid te bevestig. In die konteks van beide die beskerming van bestaande private eiendomsreg sowel as die voldoening aan die openbare belang, moet die voorgestelde Wetsontwerp op Onteiening die reg op die besit van private eiendom versigtig opweeg teen die reg om die vermelde reg te ondermyn, soos waarvoor artikel 25 voorsiening maak, deur ’n balans tussen die twee teenstrydige regte te handhaaf. Hierdie balans kan nie behaal word sonder ’n meer presiese definisie van die “openbare belang” nie, ’n meer beperkte definisie van wat eiendom uitmaak; en ’n duideliker idee van die rol en magte van onteieningsgesagte.

Na aanleiding van die huidige stand van die wetsontwerp is ’n onteieningsgesag op enige vlak van die regering in staat om die onteieningsproses in werking te stel ten opsigte van enige persoon of eiendom wat, na hul mening, in openbare belang sal wees. Hulle kan onmiddellik van die eiendom besit neem nadat kennis gegee is en voordat enige vergoeding wat volgens hulle geskik is, betaal is. Dit sal beteken dat die party wie se eiendom onteien word, sal moet wag tot ’n hof regverdige en gelyke vergoeding bepaal -­ wat jare kan neem om af te handel.

Na afloop van die aanvanklike openbare kommentaar, moet die konsepwetsontwerp weer deur die kabinet goedgekeur word voordat dit op formele wyse by die Parlement ingedien sal word. Dit is egter onwaarskynlik dat dit ter tafel gelê sal word sonder enige wesenlike veranderinge. Die parlementêre proses sal egter ongetwyfeld ’n verdere geleentheid bied vir bekommerde burgers, die burgerlike samelewing en besighede om kommentaar te lewer, wat hopelik gevolg sal word deur openbare verhore en ’n eerlike bespreking oor die aangeleentheid.

Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: ecstaticist / Foter.com / CC BY-NC-SA

Leave a Reply

Your email address will not be published.