Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
'N REGERING WAT HOMSELF VERRYK TERWYL DIE JEUG HONGER LY
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 16/06/2025
*Hierdie artikel is die eerste keer as ‘n opiniestuk deur News24 op 16/06/2025 gepubliseer.
Daar is ’n ongemaklike waarheid wat agter Suid-Afrika se fiskale krisis skuil – een wat Begroting 3.0, wat in Mei deur die Minister van Finansies voorgelê is, versigtig omseil sonder om dit regtig in die oë te kyk. Dit is die stil, aanhoudende groei van die openbare sektor se loonrekening, wat nou byna ’n derde van alle staatsbesteding opslurp en sowat 10,5% van die BBP uitmaak – een van die hoogste ter wêreld. Slegs Ysland en Denemarke gaan Suid-Afrika in dié opsig verby, maar in teenstelling met ons land, kry hulle wêreldklas dienslewering, sterk institusionele vertroue en ekonomiese opbrengste wat generasies bevoordeel. Hier tuis het die loonrekening sedert 1994 se aandeel van die BBP verdubbel, maar die uitkomste in gesondheid, onderwys en polisiëring het nie daarmee saam gegroei nie. Ons betaal meer, maar kry minder. En dit is ons jeug wat die prys betaal.
Die gemiddelde Suid-Afrikaanse staatsamptenaar verdien nou meer as R566 000 per jaar – ’n toename van meer as twaalfvoud sedert 1995 – terwyl inflasie in dieselfde tydperk slegs sewevoudig gestyg het. Hierdie toename weerspieël nie massa-aanstellings nie, maar eerder ’n bo-swaar salarisstruktuur wat vinniger uitgebrei het as die werksmag self. Sedert 1995 het die aantal staatsamptenare skaars van 1,27 miljoen tot ongeveer 1,28 miljoen toegeneem. Tog het die loonrekening van R408 miljard tien jaar gelede tot meer as R720 miljard vandag opgeskiet. Hierdie syfers is nie bloot getalle in ’n begrotingsbylae nie – dit is ’n aanduiding van ’n staat wat homself voed, terwyl sy mense honger ly (en nie net in die figuurlike sin nie, maar letterlik ook!). Suid-Afrika se lewensverwagting is skaars 61 jaar. Jaarliks word 45 uit elke 100 000 Suid-Afrikaners vermoor. Ons klaskamers is oorvol en onderbemaan, ondanks die feit dat ons onderwysers van die bestbetaaldes in die ontwikkelende wêreld is.
Die opbrengs op hierdie vlak van openbare besteding is teleurstellend. Ons spandeer tussen 5% en 6% van die BBP aan basiese onderwys, maar ons leerders eindig steeds naby die onderpunt van internasionale toetse. Dokters en verpleegkundiges word beter vergoed as ooit tevore, maar staatsklinieke meld steeds personeeltekorte en pasiënte word dikwels weggestuur. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kry die grootste deel van sy begroting vir salarisse, maar geweldsmisdaad neem steeds toe – en met meer as 580 000 private sekuriteitswagte in die land, het baie Suid-Afrikaners hul vertroue in die staat se vermoë om veiligheid te verseker, verloor. Wat hieruit na vore kom, is ’n duidelike beeld van swak produktiwiteit per bestee rand en ’n gebroke verband tussen vergoeding en dienslewering. Om op hierdie koers voort te gaan, is om ons jeug te verraai – want dit is hulle toekoms wat verpand word om ’n oneffektiewe staat in stand te hou.
Dit is nie onredelik om staatsamptenare goed te vergoed nie. Trouens, dit is nodig om bekwame personeel aan te trek en moraal te behou. Maar vergoeding moet verdien word. Artikel 195(1)(b) van die Grondwet vereis dat “doeltreffende, ekonomiese en effektiewe gebruik van hulpbronne” in die staatsdiens bevorder moet word. Wat ons egter sien, is ’n bo-swaar stelsel waar senioriteit meer tel as diens, waar toelaes en bonusse swak prestasie verbloem, en waar fiskale verantwoordelikheid telkens uitgestel word. Vandag se jeug moet vrede maak met baie vervalle skole, onveiligheid op straat en wanfunksionerende klinieke terwyl hulle die belastinglas van ’n opgeblaasde burokrasie moet dra wat bepaalde hervormings teenstaan.
Internasionale vergelykings is insiggewend. In OESO-lande bestee regerings gemiddeld sowat 9,5% van hul BBP aan salarisse, en slegs 20% van hul totale begrotings. In Brasilië (’n BRICS-eweknie met sy eie fiskale uitdagings) staan die openbare loon- en voordelerekening op ongeveer 13% van die BBP. Indië, met ’n veel groter bevolking, bestee sowat 5-6%. Selfs Kenia, wat institusioneel nader aan Suid-Afrika lê, spandeer net 7,6%. Suid-Afrika is ’n uitskieter – maar nie op ’n manier wat van uitnemendheid óf ambisie getuig nie. Dit dui eerder op wanbalans, stilstand én ’n gebrek aan politieke durf om die staat te herstruktur om die publiek te dien, eerder as om homself te beskerm.
Begroting 3.0 het uitstulpings van moontlike hervorming getoon, maar nie veel meer nie. Die Minister het ’n loonsverhoging van 5,5% vir die staatsdiens gehandhaaf – bo inflasie en ekonomiese groei – terwyl voorlopige toewysings aan sleuteldepartemente verminder is. Basiese gesondheids- en onderwysbegrotings is gesny om ruimte te maak vir loonverpligtinge wat reeds in ’n meerjarige ooreenkoms vasgelê is. Selfs die vroeë aftrede-aansporingskema – wat bedoel was om jonger, tegnologies-bekwame personeel in diens te bring is gehalveer. Volgens verskeie kritici het die loonrekening reeds die perke van bekostigbaarheid oorskry. Maar die kern van die probleem is nie net wat ons kan bekostig nie, dit is eerder wat ons bereid is om aanspreeklik voor te wees. Die vraag is nie net wat ons betaal nie, maar waarvoor ons betaal.
Ander het tereg aangevoer dat die probleem nie in ’n opgeblaasde staatsdiens lê nie, maar in strukturele wanbalanse – waar te veel bestee word aan nie-kernsektore en senior amptenare, en te min aan dienslewering op grondvlak. Hierdie oproep tot ’n verantwoordelike herkalibrasie word ten volle ondersteun deur die FW de Klerk Stigting. Ons glo in ’n responsiewe, bekwame staat – een wat bemagtig eerder as verhinder, wat opbou eerder as verteer. Dit beteken fondse moet herlei word weg van departemente wat oorafhanklik is van konsultante, en eerder belê word in kern diensgebiede. Dit beteken ook dat oorvleuelende agentskappe gekonsolideer moet word, burokratiese hiërargieë afgeplat moet word, en dat prestasie-gebaseerde aansporings aangeneem moet word wat resultate beloon – nie bloot dienstermyn nie.
Verder moet ons leer uit ander lande se foute. Die Verenigde State se onlangse eksperiment met sy sogenaamde “Departement van Regeringsdoeltreffendheid” dien as ’n waarskuwende voorbeeld. Tientalle duisende staatsamptenare is summier afgedank in ’n populistiese poging om koste te sny. Die gevolge? Ontwrigting, vrees en ’n netto koste van $135 miljard aan die belastingbetaler weens verlore produktiwiteit en litigasie. ’n Verantwoordelike staat hervorm van binne – hy verteer nie homself nie. Suid-Afrika moet die uiterstes van roekelose besuiniging vermy, maar ons kan eweneens nie langer voortgaan op die pad van fiskale ontkenning nie.
Vir ons jeug is hierdie debat allesbehalwe abstrak. Meer as 61% van jong Suid-Afrikaners tussen 15 en 24 jaar is steeds werkloos. Dit is ’n vonnis oor die tipe staat wat ons opgebou het. ’n Staatsdiensloonrekening wat begrotings uithol vir jeugwerkskemas, vaardigheidsontwikkeling en hoër onderwys is nie net ondoeltreffend nie – dit is immoreel. As ons nie die middele het om jongmense ’n kans op ’n waardige lewe te gee nie, bestuur ons ons hulpbronne nie in ooreenstemming met die grondliggende waardes van die Grondwet (artikel 1) nie, naamlik menswaardigheid, gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede.
Die pad vorentoe is duidelik: Suid-Afrika moet versnelde toelatingsgeleenthede vir gekwalifiseerde jeugdiges in die staatsdiens skep – soos kadetprogramme, vakleerlingskappe en digitale innovasieposte wat die staat van binne af moderniseer. Ons moet belê in inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT) en prosesoutomatisering – nie net om kostes te besnoei nie, maar om dienslewering se omvang en doeltreffendheid wesenlik te verbeter. Die afbakening van befondsing vir jeuggerigte dienste – soos onderwys, klinieke en vaardigheidsentrums – behoort ’n grondwetlike prioriteit te wees. Die Parlement moet die rol van sy beplande “Jeugkoukus” verdiep en formele jeugadviesplatforms insluit in begrotingsbeplanning – gelei deur artikel 195(1)(e) van die Grondwet, wat vereis dat die staatsdiens “reaksie moet toon op die behoeftes van die bevolking.”
Die herbalansering van die loonrekening is nie ’n verraad teenoor staatsamptenare nie. Dit is ’n daad van verantwoordelike rentmeesterskap en ’n bevestiging dat die staat nie vir sy eie voortbestaan bestaan nie, maar vir die verbetering van die mense, veral die jeug, wat die las van elke besluit wat ons vandag neem, sal dra. Laat ons dan daardie besluite met dissipline, regverdigheid en moed neem. Die tyd vir hervorming is nou. Die toets van ons demokrasie lê nie net in die beloftes wat ons maak nie, maar in die begrotings wat ons goedkeur en die toekoms gebou op die realisering van grondwetlike waardes wat ons moet versterk en bewaar.