Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
LP’s Lê SLEUTELWETGEWING VOOR OOR GRONDWETLIKE WYSIGINGS VIR OPENBARE KOMMENTAAR
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 18/08/2025
Inleiding
Drie (3) belangrike wetsontwerpe deur individuele LP’s – wat almal daarop gemik is om die Grondwet op een of ander manier te wysig – is oopgestel vir openbare kommentaar in Augustus 2025. Privaatledewetsontwerpe is wetsontwerpe wat deur individuele Lede van die Parlement (“LP’s”) voorgestel word. Hierdie LP’s vra die publiek se mening oor die wetsontwerpe voordat hulle dit amptelik in die Parlement ter oorweging voorlê. (Indien die wetsontwerpe in die Parlement ter tafel gelê word, sal dit weer aan openbare deelname onderwerp word.)
’n Oorsig van die verskillende wetsontwerpe
1. ActionSA se Voorstel om die Uitvoerende Gesag te Herstruktureer
Die eerste wetsontwerp, wat die Eerbare Athol Trollip van ActionSA van voorneme is om in te dien, stel ’n reeks wysigings voor wat gemik is op die herstrukturering van die President se kabinet: Die wetsontwerp beoog om die amp van Adjunkminister af te skaf en alle verwysings daarna uit die Grondwet te verwyder. Dit stel ook voor dat die aantal Ministers wat aangestel mag word en wat nie LP’s is nie, verhoog word. Belangrik is dat dit ’n vereiste wil instel dat alle ministeriële aanstellings deur die eerste huis van die Parlement, die Nasionale Vergadering, goedgekeur moet word. Daarbenewens maak die wetsontwerp voorsiening vir mosies van wantroue teen individuele Ministers.
Lede van die publiek het tot Sondag, 24 Augustus 2025 kans om hul menings oor die wetsontwerp se voorstelle aan die Speaker van die Nasionale Vergadering te stuur by speaker@parliament.gov.za (kopie aan parliament@actionsa.org.za).
2. MK Party se Voorstel om Grond en Natuurlike Hulpbronne te Nasionaliseer
Die tweede wetsontwerp, wat die Eerbare Mzwanele Manyi van die MK Party van voorneme is om in te dien, stel voor dat die staat die bewaarder van alle grond in Suid-Afrika word. Dit stel ook voor dat alle verwysings na vergoeding uit artikel 25 van die Grondwet verwyder word (die artikel wat eiendomsregte verskans en beskerm). Ten slotte stel dit voor dat die historiese afsnydatum vir restitusie-eise verleng word tot 6 April 1652, die datum van Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap.
Die publiek het tot Woensdag, 27 Augustus 2025 kans om hul menings oor hierdie wetsontwerp aan die Speaker van die Nasionale Vergadering te stuur by speaker@parliament.gov.za (kopie aan Amngxitama@parliament.gov.za en mmanyi@parliament.gov.za). Hierdie wetsontwerp het verreikende implikasies vir eiendomsregte en sosiale kohesie. Om hierdie rede moedig die Stigting die publiek aan om kommentaar te lewer.
3. DA se Voorstel om Afgedankte Amptenare te Verhoed om Openbare Amp te Bekleë
Die derde wetsontwerp, wat die Eerbare Glynnis Breytenbach van die Demokratiese Alliansie van voorneme is om in te dien, poog om te beperk wie ’n LP, of ’n lid van ’n provinsiale wetgewer, of ’n munisipale raadslid kan word. Dit beoog om voormalige regters wat deur die President uit hul amp afgedank is weens growwe wangedrag, asook enige persoon wat tot ’n Hoofstuk 9-instansie aangestel is (bv. die Openbare Beskermer) en deur die President uit daardie amp afgedank is weens wangedrag, te verbied om openbare amp te beklee.
Die publiek het tot Saterdag, 30 Augustus 2025 kans om hul menings oor hierdie wetsontwerp aan die Speaker van die Nasionale Vergadering te stuur by speaker@parliament.gov.za (kopie aan legislation@da.org.za).
Ten slotte
Al drie (3) wetsontwerpe verteenwoordig uiteenlopende en betekenisvolle voorstelle om Suid-Afrika se hoogste wet – die Grondwet – te wysig. Óf dit nou handel oor die Kabinet se struktuur, eiendomsregte, óf ’n persoon se geskiktheid vir openbare amp, elke wetsontwerp raak aan kernbeginsels van die Grondwet en beïnvloed die regte en vryhede van alle burgers. Die FW de Klerk Stigting moedig alle Suid-Afrikaners aan om aktief deel te neem aan die demokratiese proses. Lees die wetsontwerpe, dink na oor die implikasies daarvan vir jou en lewer kommentaar om jou stem te laat hoor.