Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
KOALISIEREGERING IN SUID-AFRIKA: WAT GEBEUR NOU?
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck en Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 04/06/2024
Inleiding:
Die 2024 Suid-Afrikaanse Nasionale en Provinsiale Verkiesings het ‘n nuwe era van politieke kompleksiteit ingelui: die African National Congress (“ANC”) het vir die eerste keer nie ‘n meerderheid behaal nie, wat nasionale koalisie-onderhandelinge nodig maak. Hierdie artikel kyk na wat (indien enigiets) die Grondwet sê oor so ‘n koalisie, die gevolge van ‘n dooiepunt in die verkiesing van ‘n President en die behoefte aan ‘n Regering van Grondwetlike Eenheid.
Waaroor het Hierdie Verkiesings Gegaan?
In die afgelope verkiesing het ons verkies wie ons in die eerste huis van die Parlement, die Nasionale Vergadering (“Parlement”), sal verteenwoordig. Dit verseker regering deur die mense onder die Grondwet (artikel 42(3)). Met ander woorde, die Parlement regeer namens ons.
Die Grondwet bemagtig die Parlement met hierdie doel voor oë, om:
- Die President te kies;
- ‘n Nasionale forum te wees vir openbare oorweging van kwessies;
- Wetgewing (d.w.s. wetsontwerpe) aan te neem; en
- Die Uitvoerende Gesag se optrede te ondersoek en te monitor (artikel 42(4)) – d.w.s. hoe die Uitvoerende Gesag die wette wat die Parlement maak, implementeer óf die funksies van staatsdepartemente en administrasies koördineer, ens. (artikel 85(2) van die Grondwet).
Die Post-Verkiesingslandskap: ‘n Kort Oorsig
Die verkiesingsuitslae het ‘n waterskeidingsoomblik in Suid-Afrika se politieke geskiedenis teweeggebring, met geen enkele party wat ‘n volstrekte meerderheid (d.w.s. meer as 51%) van die setels in die Parlement behaal het nie.
Die ANC het steeds die meeste setels van enige party in die Parlement met 159 uit die 400 setels in totaal, maar dit het nie meer as die helfte nie (d.w.s. dit is onder 51%). Dit bring verskeie gevolge mee, insluitend dat dit nie in staat sal wees om veranderinge aan die Grondwet aan te bring nie (sien artikel 74 van die Grondwet).
Die Parlement kies die President, neem wetsontwerpe aan ens, deur ‘n meerderheid van stemme. Daar was verskeie menings oor of “meerderheid” die meeste stemme of 51% beteken. Byvoorbeeld, as dit die meeste stemme beteken, gevolglik, as daar vir ‘n wetsontwerp gestem word en 159 LP’s uit die 400 stem om dit aan te neem, 158 LP’s stem om dit te verwerp (en 83 LP’s weerhou hul stem), dan slaag die wetsontwerp al het dit slegs 39,75% van die stemme behaal.
Aangesien die Grondwet elders spesifiek vermeld (byvoorbeeld in artikel 74) dat sekere dinge waaroor die Parlement stem, soos veranderinge aan die Grondwet, ‘n ondersteunende stem van minstens 75% van die 400 LP’s moet hê, word aangevoer dat dit hier eenvoudig gaan oor die verkryging van die hoogste aantal stemme. Hierdie siening word verder ondersteun deur byvoorbeeld items 7 en 8 van Deel A van Bylae 3 van die Grondwet, wat ‘n uitskakelingsproses voorsien vir die verskillende presidentskandidate met die minste stemme totdat slegs twee kandidate oorbly en een die meerderheid kry (d.w.s. ‘n situasie waar die stemme 51% teenoor 49% sal wees).
Hoekom Koalisie-onderhandelinge?
‘n Koalisie verseker dat die ANC 51% of meer van die stemme vir sy presidentskandidaat het en verhoed dat die President en alle Ministers en Adjunkministers moet bedank, omdat dit ‘n mosie van wantroue in die Parlement sal voorkom (sien artikel 102 van die Grondwet). ‘n Koalisie bied ook ‘n praktiese oplossing vir die uitdaging van minderheidsregering, wat vermy dat opposisie-LP’s vir steun gevra moet word om elke wetsontwerp óf mosie te steun wat deur die Parlement aanvaar moet word. Laastens verhoed dit dat Waarnemende President Ramaphosa die Parlement moet ontbind omdat hulle nie ‘n nuwe President binne 30 dae kon kies nie en dat daar binne 90 dae weer verkiesings gehou moet word (artikel 50(2)(b) saamgelees met artikel 49(2) van die Grondwet). Daarom is ‘n koalisieregering noodsaaklik.
Die Grondwet skryf nie ‘n spesifieke proses voor vir die vorming van ‘n koalisieregering nie. Dit laat dit eerder grootliks oor aan die deelnemende partye, wat die outonomie het om te onderhandel en alliansies te vorm op grond van hul onderskeie belange en ideologieë. Sulke koalisie-onderhandelinge behels gewoonlik onderhandelings tussen partye om gemeenskaplike gronde te identifiseer, ministeriële poste toe te ken en beleidsprioriteite uit te stippel.
Moontlike Koalisie-scenario’s:
Met die ANC se historiese vyandigheid teenoor die DA en moontlike eise van die EFF in ruil vir steun, kan koalisie-onderhandelinge aansienlike uitdagings in die gesig staar. Verder voeg die ANC se gespanne verhouding met die MK Party, wat sy deelname kopper aan President Ramaphosa se bedanking, nog meer kompleksiteit by.
Die ingewikkeldhede van koalisie-bou en onderhandelinge beklemtoon die behoefte vir politieke rolspelers om dialoog en konsensusbou in die post-verkiesingslandskap te prioritiseer. Kortom, onderhandelingsvaardighede is noodsaaklik!
Scenario 1: ANC en DA Koalisie
In hierdie scenario vorm die ANC (159 setels) ‘n koalisie met die DA (87 setels), wat ‘n gesamentlike totaal van 246 setels bereik. Saam verseker hulle die nodige meerderheid van 201 setels om ‘n President te verkies, wat ‘n stabiele regeringsraamwerk verseker.
Scenario 2: ANC en EFF Koalisie
Hier poog die ANC (159 setels) om ‘n koalisie met die EFF (39 setels) te vorm, wat net kort val van die meerderheid met ‘n gesamentlike totaal van 198 setels. Om die gaping te oorbrug, kan hulle die steun van kleiner partye soos die IFP (17 setels) werf, met die doel om die 201-setel drumpel te oorskry wat nodig is om ‘n President te verkies.
Scenario 3: ANC en MK Koalisie
In hierdie scenario sluit die ANC (159 setels) aan by die MK party (58 setels), wat ‘n totaal van 217 setels bymekaar maak. Hierdie koalisie oorskry die 201-setel meerderheid wat nodig is om ‘n President te verkies, wat ‘n beslissende uitslag in parlementêre verrigtinge verseker.
Die Regering van Nasionale Eenheid: Lesse uit die Geskiedenis:
Die Regering van Nasionale Eenheid is in 1994 gevorm na die land se eerste demokratiese verkiesings post-apartheid. Dit het ontstaan uit onderhandelinge tussen die ANC, gelei deur Nelson Mandela en die Nasionale Party (“NP”), wat voorheen apartheid beleide toegepas het. Die doel van die Regering van Nasionale Eenheid was om ‘n vreedsame oorgang van apartheid na demokrasie te verseker en nasionale versoening te bevorder. Dit het verteenwoordigers van verskeie politieke partye ingesluit, wat ‘n verbintenis tot inklusiwiteit en eenheid gesimboliseer het. Dit het gepoog om die diepgewortelde verdeeldheid en ongelykhede wat uit die apartheid-era geërf is, aan te spreek en die grondslag vir ‘n meer regverdige en demokratiese samelewing gelê. Ten spyte van sy uitdagings, het die Regering van Nasionale Eenheid ‘n belangrike rol gespeel in die bevordering van stabiliteit en konsensusbou tydens ‘n kritieke tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis. Tans is daar praatjies oor ‘n nuwe Regering van Nasionale Eenheid, met die ANC wat ‘n model oorweeg met twee Adjunkpresidente, waarskynlik van watter partye hulle ook al suksesvol ‘n koalisie mee kan onderhandel.
Gevolgtrekking: ‘n Oproep vir Grondwetlike Eenheid
Nie alle partye wat ‘n setel in die Parlement verkry het, is lojaal aan die Grondwet nie. Om ons demokrasie te beskerm, is die FW de Klerk Stigting sterk van mening dat wat nodig is, ‘n Regering van Grondwetlike Eenheid is, eerder as ‘n Regering van Nasionale Eenheid. ‘n Regering van Grondwetlike Eenheid bestaan uit politieke partye wat lojaal aan die Grondwet is, terwyl ‘n Regering van Nasionale Eenheid ‘n breë koalisie is van alle partye wat ‘n setel in die Parlement verkry het.
Dus, om ons nasie se demokrasie te beskerm, is ‘n breë koalisie van alle partye wat lojaal is aan die Grondwet en verbind is tot die Handves van Regte nodig – ‘n Regering van Grondwetlike Eenheid.
Deur die grondwetlike vereiste van konsensusbou te omarm, moet politieke leiers die nasionale belang bo party skeidslyne plaas en ‘n toekoms skep wat op ons Grondwet gegrond is. Deur die Grondwet as die hoogste wet van die land te handhaaf, verseker ons dat ons regering die aspirasies en waardes van alle Suid-Afrikaners weerspieël, vertroue, stabiliteit en vooruitgang vir generasies teweegbring.