+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

JOU REG OM JOU OORTUIGINGS IN DIE OPENBAAR UIT TE LEEF

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck en Lusanda Mahkuntsu namens die FW de Klerk Stigting op 09/10/2025

 

Inleiding

Het jy geweet die Grondwet beskerm jou vryheid om te glo wat jy wil én jou vryheid om daardie oortuigings in die openbaar uit te leef? Ter viering van Erfenismaand het die FW de Klerk Stigting sy Kulturele, Godsdienstige en Taalregte Verslagkaart, 2025 bekendgestel, waarin gemonitor word hoe hierdie reg in die praktyk geniet word.

 

Wat Word Beskerm – en Waarom?

Artikel 15 van die Grondwet verskans jou reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening (“godsdiensvryheid”). Hierdie reg beskerm alle mense – gelowig én ongelowig – en verseker dat elkeen die vryheid het om in sy hart en gedagtes te glo wat hy wil (óf nie wil nie). Dit beskerm ook die vryheid om daardie oortuigings uiterlik te manifesteer – selfs al dink ander dat dit irrasioneel, onlogies of vreemd is. Die reg op godsdiensvryheid geld ook vir maatskappye of organisasies waar dit gepas is – soos in die geval van ’n kerk (sien artikel 8).

Wanneer ons iemand anders se reg vier om sy geloof in die openbaar uit te leef en hom dieselfde vryheid gun wat ons vir onsself begeer, bou ons eenheid. Vryheid is noodsaaklik vir menswaardigheid en deur daardie persoon se vryheid om sy/haar geloof openlik te beoefen te erken, erken ons hul menswaardigheid.

Hierdie reg is ook nou verweef met ander grondwetlike regte, soos gelykheid, vryheid van uitdrukking en vryheid van assosiasie ens. Die gesondheid van godsdiensvryheid raak elke ander reg, omdat hulle saam ’n verweefde geheel vorm in ons Handves van Regte tapisserie.

Suid-Afrika is nie ’n sekulêre staat soos die VSA nie: Die Grondwet bepaal uitdruklik dat godsdiensbeoefening by staats- of staatsondersteunde instellings – soos openbare skole – mag geskied (artikel 15(2)). Dit laat staatsamptenare, leerders en onderwysers toe om hul godsdiens in hierdie openbare ruimtes te beoefen, mits sekere reëls om billikheid te verseker, nagekom word.

Laastens gaan die Grondwet nog ’n stap verder en verskans selfs godsdiensgemeenskappe se reg om hul godsdiens gesamentlik te beoefen en om godsdienstige verenigings te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit (artikel 31). Hierdie gemeenskapsaspek is belangrik, want kulturele, godsdienstige en taalregte word van nature deur individue saam as ’n gemeenskap uitgeleef.

 

Wat Word Nie Beskerm Nie – en Waarom?

Jou reg op godsdiensvryheid sluit nie die reg in om misdade te pleeg nie. Die Grondwet beskerm jou regte, maar dit moet binne die raamwerk van die wet funksioneer. Godsdiensvryheid – en die reg van gemeenskappe om saam te aanbid – kan nooit as verskoning dien om die wet te oortree nie.

Neem die “Doom Profeet”-saak as voorbeeld: Lethebo Rabalago het sy gemeentelede met Doom, ’n plaagdoder, gespuit. Hy is skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstige liggaamlike besering te veroorsaak en is gevonnis.

 

Positiewe Ontwikkelinge

Die verslagkaart het bevind dat positiewe ontwikkelinge rakende godsdiensvryheid die afgelope jaar insluit dat die weergawe van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, 2024, (algemeen bekend as die “BELA-wet”), wat in wet bekragtig is nie meer die voorstel bevat om skoolbeheerliggame se magte om skoolbates te bestuur verwyder het nie. Aangesien baie godsdiensgemeenskappe skoolfasiliteite huur óf gebruik vir byeenkomste, sou dit hul regte ernstig geraak het.

Die weergawe van die Wysigingswet op Algemene Intelligensiewette, 2024, wat ook onderteken is, was ’n groot verbetering: Dit het nie meer die breë definisies bevat of nagelaat om “wettige politieke aktiwiteit, voorspraak, protes of verset” te beskerm nie. Die aanvanklike weergawe het groot kommer in die godsdiensgemeenskap ontketen, aangesien baie godsdienstige instellings en leiers wat teen regeringsbeleide gekant is, moontlik kon gevind het dat die Suid-Afrikaanse Intelligensiediens hulle, hul leiers en/of lede aan ’n sekuriteitsondersoek onderwerp vir die doel om óf ’n sekuriteitsklaringsertifikaat uit te reik óf dit te weier. Die geïmpliseerde risiko was dat dié godsdienstige instellings wat ’n sertifikaat geweier sou word, gedwing sou wees om hul deure te sluit.

 

Negatiewe Ontwikkelinge

Gedurende die afgelope jaar het verskeie voorvalle van godsdienstige onverdraagsaamheid plaasgevind. Hierdie voorvalle onthul ’n ontstellende werklikheid. Wêreldwye konflikte (soos die oorlog tussen Israel en Palestina) kan die verhoudinge tussen plaaslike geloofsgemeenskappe, soos Jode en Moslems, onder druk plaas. In reaksie hierop het die Stigting ’n beroep op die KGT-Kommissie (In Engels die “CRL Rights Commission”) gedoen om in te gryp. ’n Deel van die Kommissie se grondwetlike plig is om vrede, vriendskap, menslikheid, verdraagsaamheid en nasionale eenheid onder verskillende godsdiensgemeenskappe te bevorder en te ontwikkel.

Daar blyk ook hernude belangstelling van die CRL om sy vorige aanbevelings oor portuurgroep-hersieningsmeganismes vir godsdiensgemeenskappe te laat herleef. Die Kommissie het ’n artikel 22-komitee gestig om hierdie meganisme te ontwikkel en aanbevelings vir toesig in die godsdienssektor op te stel. Belangrik is dat as enige sulke toesig regte sou beperk, moet dit die Grondwet se toets slaag om regte te beperk. Hierdie toets sê ’n reg mag slegs beperk word indien daar geen minder beperkende wyse (soos gewone wetstoepassing) is om die doel te bereik nie.

Laastens wek die Wet op Onteiening, 2024, ook kommer. Grond wat aan godsdiensorganisasies behoort, óf vir dié doeleindes gebruik word, is nie uitgesluit nie. Sulke grond kan dus steeds deur die staat sonder vergoeding onteien word (“nul vergoeding” soos omskryf in die Wet).

 

Slot

Om ons oortuigings uit te leef, vier ons diversiteit en versterk dit die reg op menswaardigheid vir alle Suid-Afrikaners. Dit is ook ’n manier om eenheid op te bou. Gegewe bogenoemde, is die reg op godsdiensvryheid as redelik, maar met risiko’s van agteruitgang beoordeel. Vir meer inligting oor die stand van hierdie belangrike reg, sien die FW de Klerk Stigting se Kulturele, Godsdienstige en Taalregte Verslagkaart, 2025.