Op 16 Junie 2013 herdenk ons die lewens van die jeug wat op daardie dag opgestaan het teen ongelykheid. Ons vier die vryheid en gelyke regte wat ons vandag geniet deur middel van ons Grondwet en almal wat ’n regverdige en demokratiese samelewing nagejaag het. Ons kyk terug na daardie verskriklike tye en, gesien in konteks met meer onlangse gebeure soos die Arabiese Lente, verstaan waarom die jeug van 1976 genoeg gehad het van ’n stelsel wat hul ontneem het van ’n ware en wesenlik gelyke samelewing. Pallo Jordan, voormalige Minister van Kuns en Kultuur, het onlangs geskryf dat “agterna beskou, ons besef dat die Soweto-opstand van 1976 ’n waterskeidingsoomblik was, toe die strategiese inisiatiewe beweeg het van die apartheidsregering na sy teenstanders…Nuwe generasies van vasberade vegters het alle bevrydingsbewegings wat sedert 1976 na vore gekom het, versterk”. Die gebeure van 1976 het inderdaad ’n nuwe generasie van vasberade aktiviste gevorm en gewys hoe ongelykheid diegene wat deur ongelykheid geraak is, kan verenig en dryf.
Vandag - 19 jaar sedert die aanbreek van ons grondwetlike demokrasie - is Suid-Afrika steeds ’n hoogs ongelyke samelewing. Alhoewel die land 18 jaar van ekonomiese groei ervaar het en wesenlike vordering gemaak het ten opsigte van die verligting van armoede, behuising en toegang tot water, sanitasie en elektrisiteit, het die regering se versuim om sosio-ekonomiese regte ten volle te verwesenlik direk aanleiding gegee tot ’n toenemende aantal betogings teen swak dienslewering, wat gepaardgegaan het met geweld regoor die land. Hierdie tekortkominge is verder vererger deur korrupsie in die staatsdiens, finansiële wanbestuur, die ontplooiing van onbevoegde kaders in belangrike posisies op alle vlakke van die regering en die hernude karakterisering van die samelewing op grond van ras.
Een van die grootste bekommernisse is egter die onvermoë van die regering om basiese gehalte onderwys aan almal te verskaf. Die mislukte stand van basiese onderwys en die verband daarmee met die vooruitsigte van toekomstige indiensneming, het daartoe gelei dat die jeug van vandag ongelykheid van ’n ander soort in die gesig staar. President Zuma moet geprys word vir ’n onlangse verklaring waarin hy weer die belangrikheid van onderwys beklemtoon het. Die retoriek is egter ver verwyderd van die werklikheid in verhouding tot basiese onderwys. Deur die verklaar dat “mens vandag kan hoor dat mense die regering kritiseer….hulle het vergeet dat die regering probeer om probleme aan te pak wat al vir eeue bestaan…hulle maak asof ons eers in 1994 begin het om onderwys op te mors”, wil dit voorkom asof die President, tot ’n sekere mate, erken dat die regering wel “onderwys opmors”. In ieder geval sal daardie leerders wat ’n jaar wag vir handboeke, daardie leerders wat onder bome klas gaan en daardie leerders wat vertel word dat ’n 30% slaagsyfer gelykstaande is aan gehalte onderwys, moontlik minder omgee oor die probleme van die verlede nie, en meer omgee oor die vooruitsigte vir die toekoms.
Volgens StatsSA se onlangse middeljaar-raming is 65% van die bevolking 34 jaar of jonger terwyl 48% onder die ouderdom van 25 is. Hierdie jong Suid-Afrikaners bestaan uit 72% van die land se werkloses. Meer as 36% van diegene onder die ouderdom van 34 - en 48% van diegene tussen 15 en 24 - is sonder werk. Dit is moeilik om nie bekommerd te wees wanneer ’n mens hierdie statistieke in ag neem wat dui op die aantal werklose jongmense wat moontlik vervreemd en sonder hoop vir die toekoms is.
Dit is nie duidelik of ons nog nie die ernstige aard van die saak ten volle verstaan nie, of ons miskien die potensiële toekomstige uitwerking ignoreer nie, of ons werklik die politieke retoriek glo nie. Desnieteenstaande, tensy die jeug van vandag - en veral diegene wat ontneem word van geskikte onderwys en toekomstige vooruitsigte van indiensneming - hoop en die vooruitsig van ’n werklike en gelyke toekoms gegee word, kan ons heel moontlik weer ’n ander generasie sien wat genoeg gehad het van ’n stelsel wat hulle ontneem van voldoende onderwys, geskikte skoolinstellings, moedertaalonderwys en toepaslik opgeleide en toegewyde onderwysers. Sonder ten minste ’n verwagting van merkwaardig verbeterde basiese onderwys van gehalte, sowel as die vooruitsig van toekomstige indiensneming, sal hierdie voortdurende ongelykhede heel moontlik ook ’n waterskeidingsoomblik vir vandag se generasie wees.
by Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
[Foto: Emily Visser /MediaClubSouthAfrica]