In Afganistan het die gemiddelde vrou ’n lewensverwagting van 45 – ’n jaar minder as die gemiddelde Afgaanse man. Na drie dekades van konflik in die land, is die meeste vroue steeds ongeletterd. In die Demokratiese Republiek van die Kongo word seksuele geweld gebruik om honderde duisende vroue en dogters sedert 1996 te intimideer, verneder en martel. Die omvang van hierdie wrede dade – en veral verkragting – het daartoe gelei dat die Verenigde Nasies (VN) verkragting in 2008 amptelik as ’n oorlogswapen verklaar het.

In Suid-Afrika was daar nog altyd sterk invloede van die patriargale stelsel. In Afrika- gewoontereg en -kultuur was die manlike stamhoof altyd ’n baie sterk en belangrike figuur in die gemeenskap, terwyl vroue en dogters oor die algemeen ’n ondergeskikte rol beklee het. Diskriminasie op grond van geslag is egter nie beperk tot enige ras, kultuur of geloof nie. In ons gemenereg word altyd gevra wat die ‘redelike man’ sou doen – en nie wat die ‘redelike vrou’ sou doen nie. Dit was ook tradisioneel die man wat die hoof van die huishouding is, en die meeste vrou lê steeds ’n belofte af om hul mans te gehoorsaam.

Ons Grondwet het in 1994 ’n nuwe situasie geskep deur menswaardigheid, nie-seksisme en die behaling van gelykheid as kernwaardes van ons demokrasie te verskans. Dit het verklaar dat almal gelyk is voor die reg en geregtig is op die gelyke beskerming en voordeel van die reg.

Die Suid-Afrikaanse regering het ook onderneem om te verseker dat vroue ’n volle en gelyke rol speel in elke deel van die ekonomie en samelewing, en gevolglik is ons ’n wêreldleier op die gebied van die getal vroue wat in ons Parlement en kabinet dien.

In daardie opsig kan ons wel Internasionale Vrouedag vier, aangesien daar groot ontwikkelings plaasgevind het om vroue in ons samelewing op te hef.

Die VN se tema vir Internasionale Vrouedag vir 2013 is “’n Belofte is ’n belofte: Dis tyd om op te tree en geweld teen vroue te beëindig”. Teen die agtergrond van hierdie belofte en die inhoud van ons Grondwet, behoort ons as Suid-Afrikaners ernstig na te dink oor die huidige situasie waarin baie vroue en dogters in ons land hulle bevind, veral wat geweld en geslagsverwante geweld betref – en dít is waaroor ons behoort te treur.

Verkragting, huishoudelike geweld en seksuele aanranding kom regoor Suid-Afrika voor en word amper uitsluitlik op vroue en dogters gerig. Daar word geraam dat een uit elke drie vroue in Suid-Afrika verkrag sal word en dat een uit ses vroue in ’n gewelddadige huishoudelike verhouding is.

Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC) is geweld in ’n intieme verhouding een van die grootste oorsake van dood onder vroulike moordslagoffers, met 56% van moorde op vroue wat deur hul intieme lewensmaat gepleeg word. Die SAMRC het ook bevind dat die koers van moorde op vroue dubbeld so hoog is as die koers in die Verenigde State.

Moontlik die skokkendste onlangse voorval in Suid-Afrika – wat die omvang van voortdurende daaglikse geweld teen vroue en dogters in Suid-Afrika beklemtoon – was die wrede bendeverkragting, skending en moord op die 17-jarige Anene Booysen in die Wes- Kaap. Die Anene Booysen-saak het die aandag gefokus op die lot van duisende Suid- Afrikaanse vroue en dogters wat ook die slagoffers was van seksuele mishandeling – ten spyte van die feit dat ons Grondwet die reg op lewe, menswaardigheid en liggaamlike en psigologiese integriteit waarborg.

Kommerwekkende hoë vlakke van geweld lei daartoe dat Suid-Afrikaanse vroue nie hierdie regte kan geniet nie.

Baie van hierdie probleme het ongetwyfeld hul oorsprong in swak sosio-ekonomiese omstandighede, armoede, swak onderwys en voortdurende ongelykheid. Die kern van die probleem is egter die fundamentele mislukking van te veel van ons mans om die rol en status van vroue te respekteer. Die doelwit van Internasionale Vrouedag is om mans en vroue te herinner aan die gelyke en onskendbare rol wat vroue regtens in ons samelewing moet speel.

Behalwe vir klein blyke van erkenning en waardering is die grootste teken van respek wat ons as Suid-Afrikaners aan vroue en dogters op Internasionale Vrouedag en elke ander dag kan betoon, die nakoming van beloftes, regte en beskerming wat ons Grondwet en die Handves van Regte aan vroue, dogters en alle Suid-Afrikaners toeken. As ons dit doen, sal ons verseker dat vroue die respek, gelykheid, menswaardigheid en menslikheid kry wat hulle – en almal van ons – as mense verdien.

Adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting


 

Leave a Reply

Your email address will not be published.