+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

INDEKS VIR GEORGANISEERDE MISDAAD WAARSKU OOR GROEIENDE KRIMINALITEIT EN VERSUIM OM DIT AAN TE SPREEK IN SUID-AFRIKA

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 27/11/2025

 

Suid-Afrika staar ’n vinnig versleggende georganiseerde-misdaadkrisis in die gesig. Dit hou nou ’n direkte bedreiging vir grondwetlike regte, ekonomiese stabiliteit en die oppergesag van die reg in. Volgens die 2025 Afrika-indeks vir Georganiseerde Misdaad rank dié land eerste in Suider-Afrika en tweede op die vasteland wat kriminaliteit betref, met ’n telling van 7,43 uit 10. Die verslag – saamgestel deur ENACT, ’n vennootskap tussen die Instituut vir Sekuriteitstudies, Interpol en die Global Initiative Against Transnational Organised Crime. Dit identifiseer Suid-Afrika as ’n sentrale spilpunt vir transnasionale misdaadnetwerke wat mensehandel, afpersing, kubermisdaad, wildhandel, dwelmnetwerke en onwettige mynbou insluit.

Hierdie tendense speel af ten spyte daarvan dat Suid-Afrika oor een van die mees omvattende wetgewende raamwerke teen misdaad op die vasteland beskik. Die Grondwet verplig die staat ingevolge artikel 7(2) om die regte op persoonlike veiligheid en vryheid van geweld (artikel 12) te “respekteer, beskerm, bevorder en vervul”, terwyl Hoofstuk 11 die polisie opdra om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek. Wetgewing soos die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad van 1998 (“POCA”), die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite van 2004 (“PRECCA”), die Wet op Mensehandel van 2013, die Wet op Kubermisdade van 2020 en die Wet op Vuurwapenbeheer van 2000 verskaf kragtige instrumente om kriminele netwerke te ontwrig. Tog waarsku die Indeks vir Georganiseerde Misdaad dat die “grootste uitdaging in die uitvoering” van hierdie wette lê.

Die bevindinge is skokkend: Suid-Afrika bly ’n bron-, deurgang- én bestemmingsland vir mensehandel, insluitend sekshandel, dwangarbeid en kinderuitbuiting. Afpersing en bedrognetwerke het vanaf groot metropole na kleiner dorpe en selfs openbare dienssektore uitgebrei. Groot dwelmroetes – van Afghaanse heroïen via Mosambiek na Suid-Afrikaanse hawens, en kokaïenversendings wat deur Durban beweeg – floreer steeds. Handel in wild, onwettige mynbou en die verspreiding van namaakprodukte bly diep gewortel, dikwels met die medewerking of nalatigheid van korrupte amptenare.

Suid-Afrika se misdaadkrisis is nie bloot ’n kwessie van polisiëring nie, maar ’n sistemiese mislukking van bestuur, aanspreeklikheid en koördinering,” sê Ismail Joosub, Bestuurder van die Grondwetlike Bevorderingsprogram. “’n Land kan nie grondwetlike regte beskerm wanneer kriminele netwerke vinniger, beter georganiseer en beter befonds is as die staat nie.”

Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting, voeg by: “Ons wetgewende raamwerk is omvattend en gevorderd, maar dit moet ondersteun word deur operasionele kapasiteit, professionele polisiëring en geen verdraagsaamheid vir korrupsie nie. Die Parlement moet sy toesig versterk, en gespesialiseerde eenhede moet voldoende befonds word om hierdie sindikate effektief te ontbind.”

Die FW de Klerk Stigting doen ’n beroep op die versterking van wetstoepassing, beter koördinering tussen agentskappe, groter deursigtigheid in verslagdoening oor misdaadbekamping en die dringende implementering van die Nasionale Strategie teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad. Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie vereis dat kriminele netwerke nie die instellings wat die publiek moet beskerm, in die skadu stel nie.