+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM HERVATTING VAN BEDRYWIGHEDE IN EMFULENI, MAAR BEKOMERNISSE DUUR VOORT

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 09/10/2024

 

Die FW de Klerk Stigting erken die onlangse ooreenkoms tussen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en Eskom, wat die hervatting van bedrywighede moontlik maak na ‘n langdurige krisis wat die lewensbestaan van munisipale werknemers bedreig het. Terwyl hierdie ontwikkeling ‘n positiewe stap is, negeer dit nié die sistemiese bestuursmislukkings wat tot hierdie kritieke situasie gelei het nié.

Die Stigting se vorige verklaring, wat op 3 Oktober 2024 uitgereik is, het die ernstige gevolge van Emfuleni se R8 miljard-skuld aan Eskom beklemtoon. Dit het gelei tot die beslaglegging op die munisipaliteit se bankrekeninge. Hierdie belemmering het die dienslewering en die betaling van salarisse aan hardwerkende munisipale werknemers ernstig beïnvloed en is in stryd met die grondwetlike verpligting om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder, soos uiteengesit in artikel 152.

Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die FW de Klerk Stigting, stel dit soos volg: “Alhoewel ons die hervatting van bedrywighede verwelkom, bly die fundamentele kwessies van bestuur en aanspreeklikheid onopgelos. Dit is van kardinale belang dat die plaaslike regering by artikel 195 van die Grondwet hou, wat die doeltreffende en ekonomiese gebruik van openbare hulpbronne vereis.”

Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting, het bygevoeg: “Ons is bekommerd dat die finansiële wanbestuur wat tot hierdie krisis gelei het, voortduur. Boonop word antwoorde gesoek oor die voortgesette betaling van geskorste staatsamptenare, wat kritieke etiese vrae oor aanspreeklikheid in ons staatsdiens laat ontstaan.”

Die FW de Klerk Stigting doen ‘n beroep op alle belanghebbendes om die onderliggende kwessies aan te spreek en grondwetlike waardes te handhaaf, sodat die regte van alle werkers beskerm word en bestuur herstel kan word om in lyn te wees met die fundamentele waardes van deursigtigheid en aanspreeklikheid.