Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING VERKLARING OOR DIE ALGEMENE HUISHOUDELIKE OPNAME 2024 TYDENS KINDERBESKERMINGSWEEK
Uitgereik deur Amirah Hassim namens die FW de Klerk Stigting op 09/06/2025
Die FW de Klerk Stigting is bekommerd oor die onlangse vrystelling van Statistiek Suid-Afrika se Algemene Huishoudelike Opname vir 2024 (“AHO”), wat skerp teenstrydighede uitlig tussen die Handves van Menseregte en die daaglikse lewenservarings van miljoene Suid-Afrikaners.
Volgens die data het byna 25% van Suid-Afrikaanse huishoudings honger ervaar en ten spyte van die erns van die nood, het slegs 1 uit 5 van hierdie huishoudings enige vorm van voedselverwante staatsondersteuning ontvang. Terselfdertyd word meer as 40% van huishoudings nou deur vroue gelei, van wie baie die volle finansiële en versorgingslas dra sonder voldoende beskerming óf ondersteuning van die staat. Die opname toon ook dat 1 uit elke 5 kinders nie by enige van hul ouers woon nie – ’n statistiek wat deurlopende onstabiliteit in die gesinsstruktuur weerspieël.
Alhoewel die AHO verbeterings in toegang tot basiese dienste soos elektrisiteit en water aanmeld, het hierdie infrastruktuurvordering nie oorgespoel in verhoogde waardigheid, voeding of sekuriteit nie. ’n Huishouding mag elektrisiteit hê, maar geen kos nie; ’n toilet, maar geen inkomste nie. Hierdie groeiende gaping tussen infrastruktuur en impak is rede tot ernstige kommer.
Hierdie werklikhede dui op ’n wyer traagheid om kernregte ingevolge die Grondwet te verwesenlik – veral artikel 27 (reg op toegang tot voedsel), artikel 28 (kinders se reg op gesinsorg en voeding), artikel 12 (veiligheid en sekuriteit), en artikel 26 (reg op behuising).
Vanjaar se Kinderbeskermingsweek herinner ons daaraan dat die ware toets van ’n grondwetlike demokrasie lê in hoe dit sy jongste en mees kwesbare burgers behandel. Met byna 19% van kinders wat sonder enige ouer grootword, en talle ander wat nie toegang het tot voldoende voeding of onderwys nie, beklemtoon die AHO ’n sorgkrisis in Suid-Afrika.
Amirah Hassim, intern by die Grondwetlike Bevorderingsprogram, is die volgende van mening: “’n Grondwet is net so kragtig soos die mate waarin dit toegepas word. Vir baie jongmense en vroue bly die regte op voedsel, veiligheid en waardigheid slegs woorde op papier – nie beskerming in hul alledaagse lewe nie.”
Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die Stigting, het bygevoeg: “Ons moet gefragmenteerde dienslewering staak. Wat dringend nodig is, is ’n geïntegreerde maatskaplike beskermingsraamwerk wat toelaes, voedselverligting, skoolvoedingskemas en vroeë kinderversorging verbind – geanker in die Grondwet en gevorm rondom die werklike behoeftes van huishoudings. Geen kind behoort groot te word in ’n huis met elektrisiteit, maar sonder aandete nie.”
Om hierdie gaping te oorbrug, doen die FW de Klerk Stigting ’n dringende beroep op die regering om voedselsekerheidsintervensies op te skaal, maatskaplike ondersteuning vir vroue-geleide huishoudings aan te pas en te verseker dat elke kind toegang het tot ’n stabiele versorgingsomgewing en inklusiewe onderwys.