FW DE KLERK STIGTING STEL VERSLAGKAART OOR KULTURELE-, GODSDIENSTIGE- EN TAALREGTE 2025 BEKEND
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 17/09/2025
Die FW de Klerk Stigting het vandag, ter viering van Erfenisdag, met trots sy Verslagkaart oor Kulturele-, Godsdienstige- en Taalregte 2025 tydens ’n bekendstellingsgeleentheid aangebied. Die verslagkaart is ’n huldeblyk aan die uiteenlopende kulture, gelowe en tale wat Suid-Afrika vorm.
“Die verslagkaart beoordeel die mate waarin die Grondwet se verskeie kulturele, godsdienstige en taalregte in die praktyk geniet word. Dit poog om te bepaal hoe ver ons, as ’n nasie, gevorder het (en nog moet gaan) om ons diversiteit te beskerm, te bevorder en te vier, want, soos die Grondwet se Aanhef ons herinner: ‘Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid’,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program.
“Die beskerming van diversiteit is een van die kernkenmerke van ’n vrye en oop samelewing, en dit is belangrik om daarop te let dat die Grondwet diversiteit as een van Suid-Afrika se kern bates vier. Die Stigting hoop dat die verslagkaart debat sal stimuleer oor die rolle wat ons godsdienste, kulture en tale speel – en behoort te speel – in die bevordering van ons ryk en uiteenlopende nasionale erfenis,” sê Christo van der Rheede, die Stigting se uitvoerende direkteur.