
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING STEL 2024 MENSEREGTEVERSLAGKAART BEKEND, WIL LANDSWYE BESPREKING OOR GRONDWETLIKE REGTE EN VRYHEDE AANWAKKER
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 17/03/2025
Ter ere van Menseregtedag het die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program se span vandag die Stigting se Menseregteverslagkaart 2024 bekendgestel.
“Die Menseregteverslagkaart 2024 ondersoek in watter mate Suid-Afrikaners hul grondwetlike regte en vryhede gedurende 2024 geniet het. As deel van hierdie ondersoek, delf die verslag ook in die belangrikste ontwikkelings van 2024 in wat hierdie regte en vryhede beïnvloed het,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program.
“Alhoewel die verslag se maatstawwe nié finaal is nié, wil dit gesprek oor die stand van regte en vryhede wat mense geniet, aanmoedig. Die doel is om Suid-Afrikaners (en hul leiers) in staat te stel om te bepaal hoe vaar die land om die Grondwet ‘n werklikheid vir almal te maak. Dit vorm deel van die Stigting se pogings om burgers aan te moedig om aan besprekings oor hierdie belangrike kwessies deel te neem,” vervolg Ellerbeck.
“Die Stigting is gebou op die visie om ons grondwetlike demokrasie ‘n werklikheid vir alle Suid-Afrikaners te maak,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van die Stigting. “Dit is van kardinale belang om te bepaal in watter mate die regte en vryhede in die Handves van Regte in die praktyk verwesenlik word. Dit stel Suid-Afrikaners in staat om dit een keer per jaar onder die loep te neem. Dit laat ons toe om die groter prentjie te sien en om te bepaal hoe ons as ‘n nasie vaar in ons poging om die menseregte en vryhede in die Grondwet te bevorder. Dit wil sê hoe ons as ‘n nasie vaar in die bou van ‘n toekoms van vryheid en geregtigheid vir almal.”