Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

FW DE KLERK STIGTING SPREEK KOMMER UIT OOR ONBETAALDE EMFULENI-WERKERS TE MIDDE VAN SALARISBETALINGS AAN GESKORSTE AMPTENARE

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 03/10/2024

 

Die FW de Klerk Stigting neem met groot kommer kennis van die voortdurende krisis in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, waar duisende munisipale werknemers moontlik nie hul salarisse sal ontvang nie as gevolg van Eskom se beslaglegging op die munisipaliteit se bankrekeninge. Hierdie situasie beklemtoon ‘n ernstige inploffing van goeie bestuur op plaaslike vlak, wat die lewens van baie Suid-Afrikaners direk raak. In skerp teenstelling hiermee wys verslae daarop dat 471 staatsamptenare in nasionale en provinsiale departemente steeds volle salarisse ontvang terwyl hulle vir lang tydperke geskors is, sommige al vir meer as vyf jaar.

Artikel 152 van die Grondwet stel die basiese doelwitte van plaaslike regering, wat onder andere insluit om dienste op ‘n volhoubare manier aan gemeenskappe te lewer, sosiale en ekonomiese ontwikkeling te bevorder en ‘n veilige en gesonde omgewing te skep. Emfuleni se skuld van R8 miljard aan Eskom en die daaropvolgende finansiële ineenstorting dui op ‘n ernstige pligsversuim om aan hierdie grondwetlike pligte te voldoen. Die munisipaliteit se onvermoë om sy werkers te betaal óf noodsaaklike dienste te lewer weens swak finansiële bestuur, ondermyn nie net dienslewering nie, maar ook die stabiliteit van arbeidsverhoudinge in die openbare sektor.

Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die FW de Klerk Stigting, is van mening: “Hierdie situasie beklemtoon ‘n sistemiese ineenstorting van bestuur en aanspreeklikheid op munisipale vlak. Artikel 195 van die Grondwet vereis die doeltreffende, ekonomiese en effektiewe gebruik van hulpbronne, maar Emfuleni se finansiële wanbestuur en die voortgesette betaling van geskorste staatsamptenare weerspreek hierdie grondwetlike vereistes. Die regte van werkers in terme van billike arbeidspraktyke, soos beskerm in artikel 23 van die Grondwet, is ook in gevaar wanneer hulle sonder inkomste gelaat word.”

Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting, het bygevoeg: “Die ongelykheid tussen onbetaalde munisipale werkers en geskorste amptenare wat salarisse ontvang, wek ernstige etiese en grondwetlike vrae. Behoorlike finansiële bestuur en aanspreeklikheid is nie net finansiële verantwoordelikhede nie; dit is noodsaaklik om die regte, waardigheid en welstand van alle Suid-Afrikaners te beskerm.”

Die FW de Klerk Stigting doen ‘n beroep op alle belanghebbendes om daadwerklik op te tree om hierdie krisis aan te spreek. Dit is belangrik dat plaaslike bestuur in ooreenstemming met grondwetlike waardes funksioneer, hulpbronne verantwoordelik bestuur word en dat werkers se regte beskerm word.