+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

FW DE KLERK STIGTING SPREEK G20 GELOOFSFORUM TOE OOR UITDAGINGS OOR ONGELYKHEID

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 12/08/2025

 

Die FW de Klerk Stigting het gister die G20 Geloofsforum in Kaapstad toegespreek. Die uitvoerende direkteur van die Stigting, Christo van der Rheede, het tydens dié sessie oor die Uitdagings van Ongelykheid: Hoe Ongelykheid Verstaan Word, Die Nalatenskap van Kolonialisme en Politieke Stelsels, gepraat. Van der Rheede het die belangrikheid beklemtoon van gemeenskappe se eienaarskap van die Grondwet en Handves van Regte deur middel van aktiewe burgerskap.

In 1994 het Suid-Afrika ‘n grondwetlike demokrasie geword met ‘n Handves van Regte en daar was die hoop dat die Grondwet gebruik sou word om ’n beter lewe vir almal te bewerkstellig. Wat ons egter die afgelope 30 jaar gesien het, is hoë vlakke van korrupsie, ongelykheid, misdaad en burgerlike ongehoorsaamheid. Die groot vraag is: wat het verkeerd gegaan? ’n Deel van die antwoord is dat gemeenskappe in ’n groot mate hul verantwoordelikhede versaak het. As demokrasie slegs verstaan word as om elke vyf jaar te stem en die res aan politici oor te laat, skep dit die presiese toestande wat tot Suid-Afrika se huidige uitdagings gelei het.”

Met betrekking tot die nasionale dialoog het van der Rheede die belangrikheid beklemtoon dat gemeenskappe ’n sosiale ooreenkoms met hulself en die regering van die dag moet sluit én die regering dan aanspreeklik moet hou volgens die Grondwet se grondliggende waardes van openheid, responsiwiteit en aanspreeklikheid. “’n Gemeenskap wat bemagtig is met kennis van die Grondwet en die Handves van Regte en wat hul grondwetlike regte en verpligtinge verstaan, is die beste waarborg om Suid-Afrika vorentoe te neem,” het hy afgesluit.