+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

FW DE KLERK STIGTING PERSVERKLARING OOR TOENEMENDE KINDERMISHANDELING-SAKE IN SUID-AFRIKA

Uitgereik deur Amirah Hassim namens die FW de Klerk Stigting op 26/06/2025

 

Die FW de Klerk Stigting neem met ernstige kommer kennis van die onlangse vrystelling van statistieke wat bevestig dat daar meer as 26 000 gevalle van kindermishandeling en -verwaarlosing gedurende die 2024-25-boekjaar aangemeld is. Die syfers, wat deur Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, tydens Kinderbeskermingsweek bekend gemaak is, sluit byna 10 000 gevalle van seksuele mishandeling, sowat 4 000 gevalle van fisieke mishandeling, en meer as 1 000 kindermoorde in. Hierdie statistieke dui op ’n verdiepende krisis in ons samelewing.

Hierdie menseregtevergrype raak die hart van artikel 28 van die Grondwet, wat aan elke kind die reg waarborg op beskerming teen mishandeling, verwaarlosing en vernedering. Tog, soos in ons 2024 Menseregteverslagkaart aangetoon is, verhinder sistemiese tekortkominge steeds die werklike uitlewing van hierdie regte – veral in kwesbare gemeenskappe.

Amirah Hassim, intern by die Grondwetlike Bevorderingsprogram is die volgende van mening: “Ons kan nie meer voorgee dat beleidsraamwerke op sigself kinders gaan beskerm nie. Ons het opgeleide maatskaplike werkers nodig, howe wat behoorlik funksioneer en doeltreffende vroeë intervensieprogramme. Wanneer ’n kind deur elke vlak van die staat gefaal word, is dit nie bloot ’n beleidsprobleem nie – dit wys op toenemende verval in die uitvoering van grondwetlike verpligtinge.”

Minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, het tereg ’n beroep gedoen op dringende wysigings aan die Strafproseswet van 1977, spesifiek met betrekking tot die hantering van getuienis, toestaan van borgtog en vonnisoplegging in sake waar kinders slagoffers is. Dit is van kardinale belang dat hierdie hervormings versnel word, tesame met streng nakoming van die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders. In dié verband is die bestaande vlak van voldoening steeds skokkend laag.

Kinderbeskerming is nie ’n keuse nie,” sê Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering. “Dit is ’n grondwetlike plig. Die omvang van kindermishandeling staan nié los van armoede, verbrokkelde gesinstrukture en swakbestuurde instellings wat versuim om die wet af te dwing nie. Ons kan nie voorgee om die Grondwet te handhaaf terwyl duisende kinders daagliks aan mishandeling en ander gevare blootgestel word nié.

Die Stigting doen ’n beroep op die regering en burgerlike samelewing om hul pogings te verskerp om ’n samelewing te bou waarin elke kind se reg op waardigheid, veiligheid en versorging nie net op papier bestaan nie, maar sigbaar en tasbaar in die daaglikse bestaan van Suid-Afrikaners gestalte kry.