Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING ONDERSTEUN RDK IN SY WERK – REGBANK MAG NIE GYSELAAR GEHOU WORD DEUR POLITIEKE MAGSPEL NIE
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 09/10/2024
Die FW de Klerk Stigting neem kennis van dr. Hlophe se bedanking van die Regterlike Dienskommissie (“RDK”). Die RDK is verantwoordelik om die President te adviseer oor watter regters om aan te stel (artikels 174(4) en 174(6) van die Grondwet) en gaan voort met sy werk, ten spyte van dr. Hlophe se bedanking. Die Wet op die Regterlike Dienskommissie, 1994 bepaal dat ‘n vakante pos in die RDK nie die geldigheid van sy verrigtinge óf besluite sal beïnvloed nie.
“Sonder regters kan grondwetlike regte nie beskerm word nie en geen geregtigheid kan geskied nie,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program. “Suid-Afrika het regters broodnodig: Baie howe sien siviele verhore en, nog erger, strafregtelike verhore wat vir baie jare uitgestel word, omdat daar nie regters is om die sake aan te hoor nie,” verduidelik Ellerbeck.
“Die RDK moet nie verhinder word om hierdie vakante poste te vul nie. So iets beperk net toegang tot geregtigheid vir baie. Waar politieke partye beweer die RDK is nie meer behoorlik saamgestel ingevolge artikel 178(I)(h) van die Grondwet nie, versoek die Stigting hulle om hul politieke verskille opsy te sit en toe te sien dat ‘n geskikte en gepaste kandidaat dr. Hlophe so gou as moontlik vervang,” sê Christo van der Rheede, die Stigting se uitvoerende direkteur.