
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING KLOP DEPARTEMENT VAN BASIESE ONDERWYS OP DIE SKOUERS VIR POGINGS OM PUTTOILETTE UIT TE FASEER
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 12/03/2025
Die FW de Klerk Stigting klop die Departement van Basiese Onderwys op sy skouers vir sy merkwaardige prestasie in die uitskakeling van meer as 93% van geïdentifiseerde puttoilette in openbare skole regoor Suid-Afrika.
“Die Departement se Sanitasie Geskik vir Onderwys (alombekend as ‘SAFE’) inisiatief lewer beduidende resultate,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting. “Die tragiese voorvalle van kinders wat in puttoilette val en hul lewens verloor, behoort nie in ‘n land plaas te vind waar die reg tot menswaardigheid en kinders se regte in die Grondwet verskans is nie,” beklemtoon van der Rheede.
Daniela Ellerbeck, ‘n prokureur en die Stigting se bestuurder van Grondwetlike Regte, voeg by: “Die 2024 Onderwysfasiliteitsbestuurstelsel verslag het onthul dat ongeveer 1 770 openbare skole steeds beide standaard fasiliteite en puttoilette het, met 287 skole wat uitsluitlik op puttoilette staatmaak.”
Die sperdatum vir die volledige uitskakeling van alle puttoilette is vasgestel op 31 Maart 2025.