Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING DRING AAN OP DIE TOEPASSING VAN VOEDSELVEILIGHEIDSWETTE, NIE AANSTIGTING VAN XENOFOBIE NIE
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 19/11/2024
Die FW de Klerk Stigting verwelkom president Cyril Ramaphosa se beslissende stappe om die voedselveiligheidskrisis in Suid-Afrika aan te spreek. Na die tragiese sterftes van ten minste 22 kinders, het die president die sluiting van spaza-winkels wat betrokke is by hierdie sterftes beveel en ‘n sperdatum van 21 dae gestel vir alle voedselhanteringsfasiliteite om by plaaslike munisipaliteite te registreer. Hierdie aksies is noodsaaklik om die gesondheid van die publiek te beskerm.
Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting, het gesê: “Die Stigting erken die dringende behoefte om voedselveiligheid aan te spreek en ons glo dat die President se benadering ‘n belangrike stap is om voedselveiligheid vir alle Suid-Afrikaners te verseker.” Hy het bygevoeg: “Die voedselveiligheidskrisis is ‘n duidelike skending van Suid-Afrikaners se grondwetlike reg om toegang te hê tot veilige voedsel en ‘n gesonde omgewing, soos vervat in artikels 27(1)(b) en 24 van die Grondwet.“
Die Stigting is egter bekommerd oor die groeiende debat oor die nasionaliteit van spaza-winkeleienaars. “Die fokus op nasionaliteit is nie die oplossing nie,” het van der Rheede gesê. “Die fokus moet eerder wees om te verseker dat alle voedselverkopers, ongeag hul nasionaliteit of eienaarskap, aan dieselfde veiligheidstandaarde voldoen. Die oplossing is om almal aanspreeklik te hou vir die nakoming van voedselveiligheidswette.”
Die Stigting beklemtoon ook die tekort aan omgewingsgesondheidspraktisyns (“OGPs”) as ‘n groot uitdaging vir die handhawing van voedselveiligheid. “Met slegs 1 712 OGP’s in die land teenoor die 6 203 benodig word—bly baie gemeenskappe, veral in digbevolkte gebiede, kwesbaar vir onveilige voedselpraktyke,” het van der Rheede verduidelik.
Die president se plan om deur-tot-deur-inspeksies uit te voer en openbare bewusmakingsveldtogte te loods, is van kardinale belang om hierdie probleme aan te spreek. Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die Stigting, het gesê: “Terwyl hierdie inspeksies belangrik is, moet munisipaliteite behoorlik toegerus wees om dit effektief uit te voer. Ons moet ook versigtig wees om nie toe te laat dat hierdie kwessie xenofobie aanwakker nie—voedselveiligheidskwessies moet fokus op regulasies, nie op nasionaliteit nie.”
Die FW de Klerk Stigting doen ‘n beroep op ‘n gesamentlike poging om voedselveiligheid te versterk en die gesondheid van alle Suid-Afrikaners te beskerm.