Die erfenis van alle Suid-Afrikaners is onlosmaaklik aan mekaar verbind en enige van ons groepe mense se erfenis behoort dus in gelyke mate aan alle ander Suid-Afrikaners. Die erfenis van een groep is ook nie belangriker as die erfenis van ’n ander groep nie: die Grondwet heg spesiale waarde aan kulturele inklusiwiteit en gelykheid in Suid-Afrika.

Die wyse waarop ’n ryk en kleurvolle kulturele erfenis soos Suid-Afrika s’n bestuur word kan ’n sterk verenigende faktor wees – mits dit op ’n inklusiewe en kultureel sensitiewe wyse gedoen word. Ons nasionale volkslied is ’n goeie voorbeeld hiervan en voormalige President Nelson Mandela het dit as volg verduidelik: “Toe ons eerste demokraties verkose regering besluit het om Erfenisdag een van ons nasionale dae te maak, het ons só besluit omdat ons geweet het dat daar groot krag is in ons ryk en kleurvolle erfenis wat ons kan help om ons nuwe nasie te bou”.

Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar, want as ’n kleurvolle en ryk kulturele erfenis soos ons s’n nie op ’n sensitiewe, grondwetlike en kultureel sensitiewe wyse bestuur word nie, sal daardie verenigde mag ineenstort.

Die bestuur van ’n kleurvolle kulturele erfenis het betrekking op ’n belangrike tema wat in die dokument, 2013 Revised White Paper on Arts, Culture and Heritage aangeraak is: kulturele takt. Die argument is eenvoudig: beoefen goeie kulturele takt aangesien dit – in ’n diverse samelewing soos ons s’n wat kultuur en erfenis betref – bydra tot nasiebou. As jy gebrekkige kulturele takt beoefen erodeer dit die positiewe uitwerking van positiewe nasiebou.

’n Goeie voorbeeld hiervan tans is die voortgesette naamveranderingsproses ten opsigte van dorpe, stede en strate regoor Suid-Afrika. Tot op datum het die SA Geografiese Nameraad 849 name van residensiële gebiede, woonbuurte en nasionale geografiese plekke oor die afgelope 14 jaar verander, en volgens die departement behels dit “die dekolonalisasie van ons erfenis deur koloniale name te vervang met name wat ’n post-koloniale, post-apartheid, demokratiese Suid-Afrika weerspieël”.

Daar is geen twyfel dat hierdie verandering nodig is nie, ten einde die verskillende kulture en erfenisse van al ons Suid-Afrikaners meer inklusief te maak en te akkommodeer, en om dit te weerspieël in die name van ons stede, dorpe en strate. Dit is egter miskien die wyse waarop dié proses uitgevoer word wat nie net meer inklusief kan wees nie, maar ook met groter kulturele takt uitgevoer kan word.

Onlangs het Johnny Mohlala van die SA Geografiese Nameraad aan ’n werkswinkel, waarby Mpumalanga se departement van kultuur, sport en ontspanning en die provinsiale komitee vir die verandering van plekname betrokke was, gesê dat diegene wat litigasie gebruik om naamsveranderinge teen te staan “besig gehou sal word tot hul nie meer geld het nie”. Mohlala het hierdie uitspraak gemaak vier weke voor die aanvang van die saak wat deur die Kruger Laeveld Kamer van Besigheid en Toerisme aanhangig gemaak is om die naamsverandering van Nelspruit na Mbombela ter syde te laat stel. Meer as 23 000 inwoners van die dorp het ’n petisie onderteken teen die voorgestelde naamsverandering en die nasionale Departement van Kuns en Kultuur, sowel as die komitee vir naamsveranderinge in Mpumalanga staan die aansoek teen.

Kom sodanige kommentaar (soos Mohlala s’n) neer op goeie kulturele takt, gegewe die duidelik sensitiewe aard van die verandering van ’n dorp se naam? Dieselfde houding heers in die voortgesette regstryd betreffende die naam van Pretoria/Tshwane, sowel as straatname in daardie stad. Die jongste ontwikkeling in hierdie saga is dat die Appèlhof aan die Stad Tshwane verlof toegestaan het om te appelleer teen ’n vroeër bevel om die ou straatname weer te vertoon.

Kan die goeie gebruik van takt – spesifiek ten opsigte van die verandering van ’n stad, dorp of straat in Suid-Afrika se naam – nie makliker bereik word deur ’n meer verdraagsame benadering te volg soos lande soos Ierland en Wallis nie? In die vermelde lande is die amptelike tale Wallies (Wallis), Gaelies (Ierland) en Engels. Padtekens en die meeste stads- en dorpsname word in beide amptelike tale aangedui. Sekerlik sal ’n soortgelyke benadering in Suid-Afrika meer verdraagsaam en inklusief wees, aangesien dit die erfenis van alle betrokke groepe in ag neem?

Tydens ’n onlangse werkswinkel oor die Witskrif in September 2013 in die Wes-Kaap het die Minister van Kuns en Kultuur, Paul Mashatile, die absolute transformasie van die hele sektor (kuns, kultuur en erfenis) benadruk. Wat dit presies behels is nog nie duidelik nie. Die Direkteur-generaal het ook verklaar dat die kuns- en kultuursektor steeds op die vrygebore generasie betrekking moet hê. Dit is ’n goeie doelstelling, maar sekerlik moet kuns, kultuur en erfenis nie net betrekking hê op en belangrik wees vir die vrygebore generasie nie, maar ook vir die ander, ouer Suid- Afrikaners?

Die Witskrif stel die konteks vir sy bepalings daar deur te verwys na die ANC se konsepbeleid ten opsigte van nasionale kultuur, wat verklaar dat: “Kolonialisme en apartheid die kultuur van die meerderheid Suid-Afrikaners afgeskeep, verdraai en onderdruk het. Die vryheid van uitdrukking is vernietig en stelselmatige pogings is aangewend om kreatiwiteit te demp. Gemeenskappe is ontneem van hulpbronne en instellings om hul eie kulturele uitdrukking te ontwikkel tensy dit ooreenstem met die doelwitte van die koloniale meesters.”

Sonder om afbreuk te doen aan die ernstige uitwerking wat daardie beleide en praktyke voor 1994 op die meerderheid Suid-Afrikaners gehad het, is dit reeds met die aanvang van die 2013-Witskrif, in ’n grondwetlike bestel wat die verlede erken, maar tog gelykheid ten opsigte van kulturele diversiteit erken, ’n ope vraag waarom die politieke leerstelling van die regerende party ingesluit moet word in ’n dokument wat ten doel het om kuns, kultuur en erfenis te reguleer.

Weer eens opper dit die vraag oor wat goeie kulturele takt behels?

President Zuma het onlangs weer gesê dat Suid-Afrikaners ’n plig het om na te dink oor hoe hulle nasionale eenheid en ’n nuwe nasionale identiteit kan bevorder en het projekte wat die Voortrekkermonument en Vryheidpark, en die Ncome-museum en die Bloedriviermonument met mekaar verbind, uitgesonder. In sy toespraak aan ’n gesamentlike sitting van die Parlement ter viering van Erfenismaand in 2013 in die Nasionale Vergadering, het President Jacob Zuma verklaar dat dit belangrik is om onsself af te vra hoe ons nasionale eenheid en ’n nuwe nasionale identiteit verder kan bevorder?

Die antwoord is eenvoudig: deur goeie takt te gebruik wat kultureel sensitief is.

As ons daarin kan slaag sal ons beter in staat wees om ons erfenis, wat ons gesamentlike erfenis van die nuwe en grondwetlike Suid-Afrika is, te beskerm en waardeer.

Adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting


 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.