Elke saak het twee kante en ongeag of die lede van die SAPD in die bogenoemde gevalle geglo het dat hulle geregtig was om op te tree soos hulle het, is nie ter sake nie. Wat wel belangrik is, is hoe lede van die SAPD hul magte gebruik het en hoe die SAPD hul lede oplei en hulle opdrag gee oor hoe om op te tree.
Wetstoepassingsinstellings en polisieagentskappe is, in beginsel, toevertrou met ’n staat se indringendste magte om fundamentele regte en vryhede te beperk. Dít sluit in die mag om in hegtenis te neem en aan te hou, om privaatheid te skend en uiteindelik om geweld te gebruik - in sommige gevalle dodelike geweld - ten einde hierdie doelwitte te behaal. Dit geld ook vir Suid-Afrika. Die SAPD, as ’n komponent van nasionale veiligheid, word deur die Grondwet beveel om misdaad te voorkom, te beveg en te ondersoek, om openbare orde te handhaaf, die inwoners van Suid-Afrika en hul eiendom te beskerm en beveilig en om uitvoering aan die reg te gee en dit te handhaaf. Hulle is gevolglik toegerus met magte ingevolge nasionale wetgewing ten einde hierdie mandaat uit te voer. Die SAPD en polisiëring in Suid-Afrika is egter onderhewig aan die Grondwet en die oppergesag van die reg, wat beteken dat wetgewing wat polisiëring en die gebruik van hierdie indringende magte reguleer, slegs geregverdig kan word binne die voorskrifte van die Grondwet.
In teenstelling met ons verlede vóór 1994 waartydens veiligheidsmagte, volgens die Konstitusionele Hof, grotendeels die reg in eie hande geneem het en teenstanders van die regering geterroriseer het, sonder inagneming van die reg en sonder om gestraf te word, bied die Grondwet van vandag ’n stel beginsels wat nasionale veiligheid in Suid-Afrika beheer - met inbegrip van polisiëring. Hierdie beginsels bepaal, onder andere, dat nasionale veiligheid die onderneming moet weerspieël van Suid-Afrikaners as individue en as ’n nasie om as gelykes te lewe, in vrede en harmonie, om vry te wees van vrees en die strewe na ’n beter lewe. Dit bepaal ook dat daar na nasionale veiligheid gestreef moet word in ooreenstemming met die reg, met inbegrip van internasionale reg en onderhewig aan die gesag van die Parlement en die Uitvoerende Gesag. Daarbenewens beheer die Grondwet die optrede van veiligheidsdienste, met inbegrip van die SAPD. In hierdie verband bepaal artikel 199 byvoorbeeld dat die veiligheidsdienste in ooreenstemming met die Grondwet en die reg optree, en hul lede oplei en van hulle vereis om in ooreenstemming met die Grondwet en die reg op te tree, met inbegrip van internasionale gewoontereg asook internasionale ooreenkomste wat op Suid-Afrika van toepassing is. Dit bepaal ook dat geen lid van enige veiligheidsdiens ’n onwettige bevel mag nakom nie en dat geen veiligheidsdienste of enige van hul lede, tydens die uitvoering van hul pligte, die belang van enige politieke party, wat ingevolge die Grondwet regmatig is, mag bevoordeel nie, en ook nie voorkeur mag verleen aan enige belang van ’n politieke party nie.
Ingevolge artikel 7 van die Grondwet is die Handves van Regte ’n hoeksteen van demokrasie in Suid-Afrika, wat die regte vervat van al ons mense in ons land, en wat die demokratiese waardes menswaardigheid, gelykheid en vryheid bevestig. Gevolglik, en ingevolge artikel 7(2), moet die staat die regte in die Handves van Regte respekteer, beskerm, bevorder en daaraan uitvoering gee. Hierdie beginsels is veral vir die SAPD belangrik, aangesien dit die konteks vir die uitleg van artikel 199 en nasionale wetgewing bied.
In die Maxwele-saak het die SA Menseregtekommissie die belangrikheid van artikel 7 beklemtoon toe dit aanbeveel het dat die Minister van Polisie en die SAPD die oppergesag van die Grondwet en die Reg moet erken - sowel as die plig van die Staat ingevolge artikel 7(2) om die regte in die Handves van Regte te respekteer, beskerm, bevorder en daaraan uitvoering te gee. In hierdie geval het lede van die Presidensiële Beskermingseenheid van die SAPD mnr Maxwele in hegtenis geneem en aangehou omdat hy na bewering sy middelvinger vir polisiemotors gewys het wat President Zuma na bewering vervoer het. Nadat die SA Menseregtekommissie sy ondersoek afgehandel het, het dit bevind dat die SAPD verskeie van mnr Maxwele se fundamentele regte geskend het toe hulle, onder andere, hom met geweld in die polisievoertuig geboender het, sy kop bedek, bene vasgebind en hom ondervra het, waarna hulle sy huis deursoek het sonder ’n lasbrief of geldige gronde. In plaas daarvan om egter hul tekortkominge te erken en die SA Menseregtekommissie se aanbevelings in werking te stel, het die Minister en die SAPD onsuksesvol gepoog om teen die bevindings te appelleer op grond van tegniese punte en het gevolglik ook teen die bevindings in die Hoë Hof geappelleer. Selfs nadat die Appèlhof die aansoek om appèl afgekeur het, het die Minister en die SAPD steeds nie die SA Menseregtekommissie se aanbevelings nagekom nie.
Byna ’n jaar ná die Marikana-voorval, wat steeds deur die Farlam-kommissie ondersoek word, het die Burgerlike Sekretariaat vir Polisie die nuwe Groenskrif oor Polisiëring vir kommentaar gepubliseer. Die Groenskrif was moontlik die ideale geleentheid vir ’n sterk en ondubbelsinnige beleid wat gemik is op die daarstelling van ’n kultuur in die SAPD wat op menseregte gegrond is. Dit blyk egter of hierdie geleentheid nie aangegryp is nie. Alhoewel die Groenskrif verskeie verwysings oor die behoefte aan demokratiese polisiëring insluit, blyk dit asof daar ’n aanname is dat daar reeds sodanige kultuur gevestig is. As ’n mens die toenemende aantal berigte van polisiewreedheid en uitermatige geweld wat hulle gebruik, in ag neem, kan daar sekerlik aangevoer word dat die SAPD nog nie hierdie doelwit behaal het nie.
Die Groenskrif plaas veel groter klem op “transformasie” in ’n uitgebreide afdeling wat ’n beroep doen om die ontwikkeling van “’n duidelike strategie ten opsigte van transformasie wat nie as ’n afsonderlike of selfstandige strategie bestaan nie, maar as ’n strategie wat in die algemene strategie van die organisasie opgevat is en weerspieël word”. ’n Soortgelyke afdeling wat ’n beroep doen om ’n strategie ten einde ’n kultuur in die polisie te skep wat op menseregte gegrond is, ontbreek egter. Die Groenskrif verwys egter wel na die SAPD se regmatige gebruik om geweld te gebruik ten einde sy grondwetlike mandaat uit te voer. Dit word egter ingevolge beleidsriglyne en -regulasies gedoen, in plaas van wetgewing, maar dit word nie gedoen binne die konteks van die behoefte aan menswaardigheid, fundamentele regte en vryhede wat die SAPD veronderstel is om te beskerm nie. In die afdeling van handel oor die versekering van doeltreffende polisiëring, verklaar die dokument dat polisiëring in demokratiese samelewings plaasvind in ’n spasie tussen hul grondwetlike raamwerk en die raamwerk van die reg wat uiteensit hoe hulle moet optree. Of dit bloot ’n fout was tydens die opstelling van die dokument, en of dit ’n Freudiaanse verspreking was, ons sal nie weet nie. Die SAPD kan duidelik nie werksaam wees in ’n spasie tussen die Grondwet en die reg nie - en slegs in ooreenstemming met die Grondwet en onderhewig aan die reg.
Die Marikana-voorval kon moontlik voorkom word indien die Minister en die SAPD die aanbevelings van die SA Menseregtekommissie uitgevoer het, wat aangevoer het dat die SAPD in ooreenstemming met die Grondwet en die reg moet optree en hul lede oplei en van hulle vereis om dieselfde te doen. Die Minister en die Kommissaris moet verseker dat beleide en strategieë van die SAPD gegrond word op respek vir die Grondwet. Tensy hulle verseker dat indiensnemingsprosedures, opleidingsprogramme en bestaande prosedures ten opsigte van hul werksaamhede só saamgestel is om ’n menseregte-kultuur op alle vlakke van die organisasie in te stel, sal die Marikana-voorval ongelukkig nie die laaste wees wat ons hoor van die SAPD wat na bewering werksaam is en optree in die gaping tussen die Grondwet en die reg nie.
By Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte