DONKER HORISON: DIE ONTEIENINGSWET SAL ALMAL VERARM
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting, op 16/04/2024
Met die naderende implementering van die Onteieningswet, staan Suid-Afrika op ‘n kritieke kruispad, waar die fondasie van sy ekonomie en eiendomsreg onder beleg is. Hierdie swak-ontwerpte wetgewing hou ernstige bedreigings in.
“Die bepaling vir onteiening sonder vergoeding in die wet, bedreig die stabiliteit van die banksektor,” waarsku Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting. “Lenings oor eiendomme wat moontlik vir onteiening oorweeg kan word, bly geldig, wat diegene wat skuld aangegaan het met die verantwoordelikheid laat om die volle skuld terug te betaal. Dit hou risiko’s in vir sowat R1,66 triljoen se eiendomsverbande, wat vertroue ondermyn en ‘n finansiële krisis kan versoorsaak. ‘n Bankkrisis is nie vergesogd nie.”
Internasionale rampverhale soos dié van Zimbabwe en Venezuela verhoog vrees. Beleggersvertroue is reeds broos en sal dit verder gekelder word sal dit tot kapitaalvloei en afname in buitelandse beleggings lei. Die gevolg? Besighede wat sal sluit, verlies aan werksgeleenthede en ‘n verlamde ekonomie met nog groter werkloosheid en verhoogde armoede. Die armstes sal die meeste hierdeur geraak word.
“Sonder behoorlike waarborge, is die Wet oop vir misbruik en sal dit vertroue in eiendomsreg ondermyn, wat tot disinvestering in die ekonomie deur Suid-Afrikaners en buitelanders sal lei,” sê Shaun Kinnes, intern by die Stigting. “Dit ondermyn innovasie en sal SA se reeds sukkelende ekonomie net verder laat krimp.”
Die Onteieningswet is ‘n ramp wat wag om te gebeur, met verwoestende gevolge vir die ekonomie en die mees kwesbares in die samelewing.
Die Stigting dring aan dat President Cyril Ramaphosa die magte wat die Grondwet hom gee sal gebruik om hierdie wet na die Parlement vir heroorweging terug te stuur, anders tuimel ons oor die afgrond van ekonomiese en konstitusionele onsekerheid.