+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIPLOMASIE IS NIE DOOD NIE - DIE WÊRELD HET NET VERGEET HOE OM DIT TE GEBRUIK

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 26/06/2025

 

Die Verenigde State het op 22 Junie 2025 ’n grootskaalse lugaanval op Iran se kerninfrastruktuur van stapel gestuur deur 30 000-pond “bunker buster”-bomme op uraanverrykingsterreine in Fordow, Natanz en Isfahan te laat val. Dit het gevolg op Israeliese lugaanvalle die week tevore en is met hewige Iranese vergeldingsaanvalle begroet. Meer as 400 mense in Iran, meestal burgerlikes, is glo dood. Minstens 24 Israeliete is in missielaanvalle dood. Die Straat van Hormuz word met sluiting gedreig. Die VN se Veiligheidsraad is in ’n noodsitting. Amerikaanse ambassades is ontruim. Die wêreld se oliemarkte is in beroering, en stemme van alle kante beroep hulle op stappe om verdere eskalasie te voorkom. Die vraag is nie meer of diplomasie in die Midde-Ooste dood is nie, maar óf enigiemand nog onthou wat dit behels. En as hulle nie meer onthou nie, moet óns in Suid-Afrika hulle daaraan herinner.

Net meer as drie dekades gelede het ons land op die rand van burgeroorlog gestaan – ’n pad wat baie as onomkeerbaar beskou het. Tussen 1990 en 1994 is bykans 15 000 Suid-Afrikaners in polities gemotiveerde geweld dood. Sluipmoorde, township-botsings en faksiegevegte het gedreig om die land in chaos te verswelg. Tog het die leiers van ons nasie – President FW de Klerk en Nelson Mandela, twee manne uit radikaal verskillende agtergronde – dialoog bo vernietiging gekies. Saam het hulle vrede verkies. Hulle het nie net bloot ’n ooreenkoms onderteken nie – hulle het die argitektuur van vrede van die grond af opgebou. Hulle het ’n tussentydse Grondwet onderhandel, ’n Regering van Nasionale Eenheid is tot stand gebring en die grondslag gelê vir die demokratiese orde onder die finale Grondwet van 1996. Ja, hulle moes geweldige politieke teenstand uit hul eie geledere trotseer. Maar saam het hulle ’n nuwe werklikheid geskep – een waarin selfs voormalige vyande saam ’n land kon bou. Dít is nie bloot nostalgie nie – dit is ’n presedent. En die Midde-Ooste het nodig om iets daaruit te leer.

Wat tans in Iran en Israel gebeur, het sy eie unieke oorsake. Sedert die ineenstorting van die Gesamentlike Omvattende Aksieplan van 2015 (“GOAP”), of soos dit algemeen bekend staan, die “Iran-kernooreenkoms”, het spanning geleidelik toegeneem. Die VSA het in 2018 uit die ooreenkoms onttrek. Teen 2023 het Iran uraan tot byna wapengraadvlakke verryk. Israel, wat dit as ’n eksistensiële bedreiging beskou het, het op 13 Junie 2025 voorkomende aanvalle geloods. Iran het daarop gereageer met missielaanvalle op Tel Aviv. Die VSA het ’n week later by die konflik betrokke geraak. Elke stap is deur die betrokke partye as “selfverdediging” geregverdig, maar die uiteinde is ’n kettingreaksie van vergelding wat wêreldvrede ernstig bedreig. Volgens artikel 2(4) van die Handves van die Verenigde Nasies is die gebruik van geweld teen die territoriale integriteit van enige staat verbode. Slegs met magtiging van die Veiligheidsraad of ingevolge artikel 51 (selfverdediging) kan sulke optrede wetlik geregverdig word. Die VSA voer aan dat hulle opgetree het om ’n bedreiging te neutraliseer. Israel verklaar dat hulle Iran se kernvermoëns volkome wil uitskakel. Iran, op sy beurt, beroep hom op sy soewereiniteit en onderneem om wraak te neem. As dit bekend klink, is dit omdat die geskiedenis ons herhaaldelik geleer het wat gebeur wanneer diplomasie prysgegee word en selfverdediging verwar word met brute geweld.

Maar geweld is nie ’n beleid nie. Bomme bring nie stabiliteit nie. Ons weet dit – want ons het dit self ervaar. Suid-Afrika se demokratiese oorgang was nie ’n sukses omdat ons ’n perfekte Grondwet iewers in ’n laai gehad het, óf omdat die samelewing op magiese wyse genees het nie. Dit het geslaag omdat albei kante besef het dat dialoog minder vernietigend is as bloedvergieting. Hulle het geweet: Sonder gesprekke sou daar niks oorbly om te regeer nie. Die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (“CODESA”) het in 1991 begin onder omstandighede van groot wantroue. Die Boipatong-slagting in 1992 het die proses byna ontspoor. Chris Hani se sluipmoord in 1993 kon maklik ’n burgeroorlog ontketen het. Maar telkens het ons leiers teruggekeer na die onderhandelingstafel. Hulle het verstaan dat die proses – onvolmaak, broos, soms frustrerend – méér kragtig was as enige enkele grief. En dít is presies die les wat vandag in die Midde-Ooste toegepas moet word.

Ons móét glo dat oorlog tussen Israel en Iran vermy kon word. Soos die Camp David-ooreenkomste in 1978 vyande in diplomatieke vennote omskep het en Sinai aan Egipte teruggegee is in ruil vir vrede, het die Oslo-ooreenkomste van die 1990’s getoon dat selfs die Israelies-Palestynse vraagstuk met wedersydse erkenning en onderhandeling benader kon word. Ja, Oslo het uiteindelik misluk. Maar daardie mislukking was nie ’n verwerping van diplomasie nie – dit was ’n tekort aan politieke moed om dit vol te hou. Dieselfde geld vir die GOAP. Dit was onvolmaak, maar tog ’n doeltreffende meganisme om kern-eskalasie te verhoed. Iran het aan sy verpligtinge voldoen. Die internasionale gemeenskap het dit bekragtig. Maar in 2018 is dit eensydig laat vaar. Die huidige krisis is die direkte gevolg daarvan.

Ons weet dat diplomasie nie ’n naïewe ideaal is nie. Dit is die grondbeginsel van internasionale reg. Die VN-Handves, die Genève-konvensies, die Weense Konvensie oor Diplomatieke Betrekkinge – almal bestaan om in tye van konflik steeds ’n raamwerk vir vrede te bied. Kragtens artikel 33 van die VN-Handves is state verplig om geskille op vreedsame wyse op te los. Gewoontereg van internasionale reg verbied die doelbewuste teiken van burgerlikes. Die Genève-konvensies bind alle partye – selfs in oorlog – tot die beginsels van proporsionaliteit, differensiasie en menswaardige behandeling. Diplomasie is dus die meganisme wat verseker dat hierdie wette nie bloot ink op papier bly nie, maar dat dit in die praktyk menswaardigheid waarborg.

Ons het oor die jare gesien hoe ander nasies waarde uit dié lesse put. Die Goeie Vrydag-ooreenkoms van 1998 het drie dekades van sektariese geweld in Noord-Ierland beëindig deur magsdeling te vestig en historiese griewe regstreeks aan te spreek. Die vredesooreenkoms van 2016 in Colombia het die langste gewapende konflik in Latyns-Amerika deur middel van ’n inklusiewe proses van oorgangsgeregtigheid, beëindig. Dít na 260 000 sterftes en 7 miljoen mense wat hul huise moes verlaat. Dit was nie wonderwerke nie. Dit was keuses.

Wat sou dit verg vir die Midde-Ooste om vrede te kies? Eerstens, oop kommunikasiekanale en onvoorwaardelik. Mandela was van mening dat die enigste manier om iemand te vertrou, is om hulle eenvoudig te vertrou. Dié sentiment gaan nie oor blinde geloof nie, maar oor sterk politieke wil. Stil diplomasie – deur private kanale, derdeparty-tussengangers óf streeksgebaseerde gesprekke – is nié ’n teken van swakheid nié. Dis hoe oorlog voorkom word.

Tweedens, sluit álle partye in. In Suid-Afrika is die ANC, die Nasionale Party, die IVP en selfs randgroepe uiteindelik deel gemaak van die onderhandelinge. In die Midde-Ooste beteken dit dat nie net die VSA, Iran en Israel betrek moet word nie, maar ook die Golfstate, Turkye en akteurs soos Hezbollah wat ’n werklike invloed op grondvlak uitoefen. Uitsluiting kweek sabotasie. Insluiting skep aanspreeklikheid.

Derdens, herstel of heronderhandel die kernooreenkoms. Die GOAP se tegniese raamwerk kan steeds dien as ’n grondslag om uraanverryking te beperk, sanksies te verlig en streeksekuriteit te verseker. Die koste van niksdoen – óf selfs onverskilligheid – is veel hoër as die politieke prys van herbetrokkenheid. Vierdens, skep geloofwaardige waarborge. Όf dit nou deur die VN óf ’n nuwe streeksmeganisme geskied, ’n vredesraamwerk moet verifikasie, ekonomiese ondersteuning en politieke beskerming bied aan leiers wat bereid is om risiko’s te neem. En laastens, spreek mense aan – nié net regerings nié. Leiers moet hul bevolkings voorberei op kompromie. In Suid-Afrika het dit referendums, eenheidsgesprekke en massa deelname deur burgerlikes behels (soos die United Democratic Front). Dit was nie maklik nie. Maar dit het gewerk.

Die FW de Klerk Stigting glo in konstitusionalisme, dialoog en internasionale reg. Ons beweer nie dat elke konteks dieselfde is nie, óf dat Suid-Afrika se pad maklik gevolg kan word nie. Maar ons wéét dat vrede moontlik is – selfs wanneer dit onmoontlik lyk. Daardie waarheid is nie onderhandelbaar nie. En dit is nie te laat nie.

Laat die wêreld onthou dat die beste uitkomste nie op oorheersing gebou word nie, maar op diplomasie. Laat die Midde-Ooste onthou dat vrede nie bloot die afwesigheid van oorlog is nie, maar die teenwoordigheid van dialoog. En laat vandag se leiers onthou dat as President Mandela en President De Klerk ’n nuwe land uit die as van verdeeldheid kon bou, dan kan nasies – selfs te midde van die puin van konflik – weer hul pad na vrede vind.