+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

 

Die stelsel slaag egter nie so goed in samelewings wat diep verdeeld is wat ras, geloof en linguistiek betref nie. In sodanige samelewings bevind minderhede hulself dikwels in ’n situasie van stelselmatige uitsluiting van die regering weens hul onvermoë om parlementêre meerderhede in algemene verkiesings te verseker. Dominante meerderhede – wat dikwels aangepor word deur hubris of oeroue griewe tussen faksies – is te dikwels geneig om die belange van minderhede te ignoreer en hom hul eie wil en agenda op die samelewing in sy geheel af te dwing.

Dít is presies wat in Egipte onder Mohamed Morsi gebeur het na afloop van sy verkiesing as president verlede jaar met ’n klein meerderheid van 51.7% bo die 48.3% van sy teenstander, Ahmed Shafiq – wat Mubarak se laaste Eerste Minister was. Een van die eerste prioriteite van die nuut aangewese Parlement is om ’n grondwetgewende vergadering saam te stel ten einde ’n nuwe grondwet op te stel. 66% van die lede van die vergadering was egter Islamiete. Die grondwetgewende vergadering is verlede jaar in Mei deur die hof ongrondwetlik verklaar en ontbind omdat dit nie oor voldoende verteenwoordiging beskik het nie. ’n Nuwe grondwetgewende vergadering is saamgestel wat bestaan het uit ’n breër samevatting uit die samelewing – maar wat steeds ’n ingeboude Islamitiese meerderheid ingesluit het.

Gevolglik het verskeie opposisiepartye – sowel as verteenwoordigers uit die land se agt miljoen Koptiese Christene – uit die vergadering gestap of dit geboikot. Die leier van een van die partye was van mening dat “die grondwet nie die meerderheid moet weerspieël nie, maar alle magte in die samelewing … Daar is ’n poging om alles te besit … Om die grondwet te besit is uiters gevaarlik.”

Morsi het die vrese van nie-Islamiete bevestig toe hy op 22 Desember verlede jaar aan homself magte toegeken het wat basies op diktatorskap neerkom, ten einde “revolusie te beskerm”. Hy het verklaar dat sy besluite gevrywaar is van regterlike hersiening en het die howe verbied om die grondwetgewende vergadering en die boonste huis van die Parlement te ontbind. Sodoende het hy die onderliggende konvensie van demokrasie onherstelbaar geskend, wat gevolglik beteken het dat sy regering onregmatig was – ten spyte daarvan dat  hy ’n klein meerderheid tydens die presidensiële demokrasie verseker het.

Alhoewel Morsi gevolglik probeer het om afstand van sy diktatoriale mag te doen, was dit te laat. Hy het sterk reaksies van nie-Islamiete ontketen – met inbegrip van die weermag – wat hom uiteindelik van sy mag ontneem het. Nou blyk dit of die nuwe regime, wat deur die weermag gesteun word, ten doel het om die verdeeldheid in die Egiptiese samelewing te versterk deur die Islamiete te probeer onderdruk – Islamiete maak deel uit van meer as die helfte van die samelewing. Die prognose is swak – toenemende verdeeldheid in die samelewing – met groter verdeeldheid langs die snylyne van die samelewing – soortgelyk aan die bose kringloop wat in 1992 in Algerië van stapel gestuur is toe die weermag ’n demokraties verkose Islamitiese regering ontsetel het. 100 000 mense is dood tydens die daaropvolgende burgeroorlog.

Die probleem spruit moontlik uit die wyse waarop die Egiptenare besluit het om hul nuwe grondwet te skryf. In ’n artikel wat FW de Klerk in Februarie 2011 vir die invloedryke Amerikaanse joernaal, Foreign Policy, geskryf het, het hy gesuggereer dat ontluikende Arabiese demokrasieë dalk kan leer by die Suid-Afrikaanse ervaring ten opsigte van die opstel van ’n grondwet. Hy het in die artikel gevra hoe hierdie post-revlusionêre state kan oorgaan van die outoritêre regimes uit die ou orde na nuwe, demokratiese dispensasies waarop mense regoor die streek aandring. Die vanselfsprekende antwoord is dat ’n verkiesing gehou moet word – maar met watter deelnemers, op watter gronde en binne watter grondwetlike raamwerk?

De Klerk het daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse grondwetlike onderhandelinge gedurende die vroeë 1990’s dalk van toepassing kan wees. Gedurende die Suid-Afrikaanse proses kom partye wat histories as verdag en vyandig beskou is, bymekaar en vorm ’n nuwe grondwetlike dispensasie onder uiters moeilike omstandighede. Die krag van die Suid- Afrikaanse benadering spruit uit sy inklusiwiteit, sy eerlike poging om die redelike belange van alle partye in te sluit, met inbegrip van minderhede; asook die bepalings wat daargestel is ten einde die posisie van die Grondwet as die hoogste reg te vestig.

Die Egiptenare moet spesifiek al geleer het uit die slim maatstaf wat deur ons onderhandelaars ontwikkel is ten einde, aan die een kant, te verseker dat die belange van die minderhede voldoende beskerming in die nuwe grondwet sal geniet, terwyl die finale grondwet deur ’n verkose owerheid aanvaar sal word. Dít is behaal deur alle partye met noemenswaardige steun in staat te stel om ooreen te kom oor ’n tussentydse grondwet ingevolge waarvan die eerste ten volle verteenwoordigde verkiesings gehou sou word. Die verkose verteenwoordigers, as ’n grondwetgewende vergadering, het toe die finale grondwet aanvaar – maar binne die beperkings van 34 beginsels wat in die tussentydse grondwet, wat deur die minderhede goedgekeur is, aanvaar is.

Dit was hierdie historiese kompromie wat die raamwerk vir ons nuwe nie-rassige demokrasie daargestel het. Ongelukkig is dit nou onder druk. Die doelwit van die “tweede fase” van die Nasionale Demokratiese Revolusie wat verlede jaar deur die ANC aangekondig is, is om af te sien van die kompromieë wat aan die kern van die 1993-1996-skikking is. Daar is ’n kommerwekkende neiging deur die meerderheid om minderhede uit te sluit; om hul redelike bekommernisse te ignoreer en om die grondwetlike instellings wat hul belange beskerm, te ondermyn. Dit alles gaan hand-in-hand met die toenemende pogings om die ideologiese voorskrifte en radikale agenda van die meerderheid op die land se permanente minderhede af te dwing. Sodoende doen die meerderheid afbreek aan die konvensies onderliggend aan ons demokrasie, en verdiep die verdeeldheid wat soveel ander multikulturele, multi-linguistiese samelewings met verskeie etnisiteite in die wiele gery het.

Die les wat die Egiptenare uit ons ervaring kan leer is die behoefte aan inklusiwiteit, verdraagsaamheid, kompromie, en sterk en doeltreffende instellings wat die oppergesag van die grondwet en die reg handhaaf. Dít is lesse wat Suid-Afrika die wêreld tussen 1993 en 1996 geleer het – en wat dit nou besig is om te vergeet.

Dave Steward: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting


Leave a Reply

Your email address will not be published.

The FW de Klerk Foundation Annual Conference

The FW de Klerk Foundation Annual Conference – hosted in conjunction with the Konrad-Adenauer-Stiftung – took place on 31 January 2025. The theme of this year’s conference is: “South Africa’s Position in the World Today”.
 

 Esteemed speakers include Ambassador Andreas Peschke (Ambassador of the Federal Republic of Germany); Magda Wierzycka (CEO of Sygnia); Dr Harlan Cloete (Local Governance and Public Leadership – Research Fellow) and Johan “Rassie” Erasmus (Springbok Coach).