+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE STILFONTEIN MYNKRISIS EN DIE GRONDWETLIKE DILEMMA

Uitgereik deur Ezra Mendel namens die FW de Klerk Stigting op 04/12/2024

 

Die onlangse gebeure in Stilfontein het ‘n diep, rou senuwee in Suid-Afrika se sosio-ekonomiese en regstruktuur blootgelê. Die dorp, soos baie ander regoor die land, word geteister deur onwettige mynbou en staan voor ‘n eskalerende krisis wat menseregte, omgewingsbeskerming en sosiale geregtigheid raak. Stilfontein is ‘n tikkende tydbom waar die Grondwet se progressiewe ideale bots met die harde Suid-Afrikaanse sosio-maatskaplike werklikheid. Die uitkoms hiervan sal die breër debat oor hoe die regte van Suid-Afrika se mees kwesbare burgers versoen kan word, bepaal.

Deur ‘n wye spektrum van sienings oor die kwessie te lok, onthul die krisis verskillende verwagtinge oor grondwetlike verantwoordelikhede – ’n soort grondwetlike dualiteit. Aan die een kant waarborg dit veiligheid, sekuriteit en waardigheid vir almal. Artikel 12 verseker dat elkeen die reg op vryheid en sekuriteit het, insluitend beskerming teen geweld en misdaad. Gemeenskappe wat naby onwettige mynterreine in Stilfontein woon, ly daagliks onder geweld, omgewingsagteruitgang en ekonomiese onstabiliteit. Hulle het ‘n grondwetlike reg om in vrede te leef, sonder vrees vir bendeoorlog, ineenstortende grond of besoedelde waterbronne.

Aan die ander kant waarborg artikel 10 van die Grondwet die reg op waardigheid, ‘n reg wat eweveel geld vir desperate individue wat, uit pure nood, by onwettige mynbou betrokke is. Baie van hierdie zama-zamas – trekarbeiders en verarmde Suid-Afrikaners – is na die marges van die samelewing gestoot, van formele werk uitgesluit, en gedwing om hul lewens in gevaarlike, tydelike myne te waag. Die Grondwet vra vir die beskerming van hul waardigheid, en erken dat hul deelname aan onwettige mynbou ‘n simptoom is van ’n veel groter mislukking, een wat gewortel is in Suid-Afrika se voortdurende stryd teen ongelykheid, armoede en die gebrek aan ekonomiese geleenthede.

Hier lê die dilemma: Hoe beskerm ons gemeenskappe wat geteister word deur misdaad en omgewingskade wat deur zama-zama’s veroorsaak word, terwyl ons ook die waardigheid en menseregte van die individue wat die onwettige mynbou pleeg, al is dit uit desperaatheid, handhaaf? Die een stem vra vir die beskerming van wetsgehoorsame burgers en gemeenskappe, terwyl die ander ons aanspoor om dieper te besin en die sistemiese oorsake van onwettige mynbou met empatie en begrip aan te spreek. Dit is die grondwetlike grys area.

Vir die inwoners van Stilfontein is onwettige mynbou nie net ’n abstrakte regskwessie nie, dit is ’n daaglikse nagmerrie van misdaad, wetteloosheid en vrees. Hulle eis, met reg dat die staat hul regte op veiligheid en sekuriteit beskerm. Maar vir die zama-zamas is dit ‘n keuse tussen onwettige mynbou en hongersnood. Hul lot openbaar die sosio-ekonomiese foutlyne in Suid-Afrika se demokratiese projek, waar die beloftes van gelykheid en geleenthede vir baie onvervuld bly.

Die versoeking om onwettige mynbou deur brute geweld te onderdruk is groot. Gemeenskappe, keelvol vir wetteloosheid, eis beslissende optrede. ’n Suiwer gemilitariseerde reaksie loop egter die gevaar om die grondwetlike waardes wat ons wil beskerm, te vertrap. Wetstoepassing moet sterk wees, maar dit moet ook regverdig wees. Oormatige geweld teen zama-zamas sal nie net hul menseregte skend nie, maar ook wrok aanwakker, die sosiale kloof verdiep en die siklus van armoede en misdaad laat voortduur. Die staat moet ’n fyn balans handhaaf tussen die beskerming van sy burgers en die bewaring van die regte van kwesbare individue. ’n Hardhandige benadering wat die sosio-ekonomiese werklikhede van onwettige mynbou ignoreer, sal nié die krisis oplos nié; dit sal net die onvermydelike herlewing daarvan vertraag. Die Grondwet eis dat ons beter doen.

Ten spyte van die kompleksiteit van die Stilfontein-krisis, is daar rede tot optimisme. Die Grondwet bied ‘n bloudruk vir ‘n gebalanseerde en menslike oplossing. Dit is ‘n lewende dokument wat die kompleksiteit van gee-en-neem erken wat inherent is aan die bou van ‘n regverdige samelewing. Eerstens moet die staat nie net vrede en veiligheid in Stilfontein herstel nie, maar in alle gemeenskappe. Gemeenskappe het die reg op beskerming teen geweld en omgewingskade, en die oppergesag van die reg moet gehandhaaf word. Hierdie afdwinging moet egter gepaardgaan met ‘n parallelle verbintenis om die grondoorsake van onwettige mynbou aan te spreek. Die regering moet belê in volhoubare ontwikkeling, formele werksgeleenthede skep, en beleide oorweeg wat kleinskaalse mynbou formaliseer en reguleer. Hierdie benadering sal ‘n alternatief bied vir diegene wat tans gedwing word om onwettige en gevaarlike werk te doen.

Boonop herinner die Grondwet ons daaraan dat geen groep se regte vir die regte van ‘n ander opgeoffer kan word nie. Ware geregtigheid lê in die delikate balans van mededingende belange. Dit is nie ‘n nulsom-speletjie nie. Die regte van gemeenskappe en zama-zamas sluit mekaar nie uit nie; hulle is interafhanklik. ‘n Blywende oplossing vir die Stilfontein-krisis moet sowel die veiligheid van gemeenskappe as die waardigheid van individue beskerm, sonder om in te boet op een van die twee. Kom ons beskerm die Grondwet, respekteer dit, en laat dit ons lei na ‘n oplossing wat die waardigheid en regte van alle Suid-Afrikaners handhaaf.