
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE REGBANK SE ONAFHANKLIKHEID EN TRANSFORMASIE
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck en Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 8/10/2024
Inleiding:
Die onafhanklikheid van die regbank was onlangs weer in die kollig ná ‘n volbank-uitspraak wat uit die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof gekom het, waarby voormalige regter-president van die Wes-Kaapse afdeling en nou ‘n parlementslid vir die MK Party, dr. Hlophe, betrokke is. In hierdie uitspraak het die Hooggeregshof ‘n tussentydse interdik toegestaan wat dr. Hlophe verbied om aan die Regterlike Dienskommissie (“RDK”) se werksaamhede deel te neem. Benewens die regbank se onafhanklikheid, is die kritieke tekort aan regters, sowel as die stadige pas van transformasie binne die regsgemeenskap, ook dikwels in die kollig.
Hierdie artikel kyk na waarom dit so belangrik is om onafhanklike howe te hê, Suid-Afrika se ernstige tekort aan regters en hoe Suid-Afrika vaar om die regbank te transformeer. Moontlike oplossings om die transformasieproses te bespoedig, deur bv. struikelblokke te verwyder, word ook ondersoek.
Belangrikheid van ‘n onafhanklike regbank:
Suid-Afrika is gegrond op, onder andere, die waardes van oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg (artikel 1(c) van die Grondwet). Grondwetlike oppergesag beteken dat die Grondwet Suid-Afrika se hoogste wet is en dat enigiets wat daarmee strydig is, ongeldig is en dat die verpligtinge wat dit oplê, nagekom moet word (artikel 2 van die Grondwet). Dit beteken niks as daar geen manier is om dit af te dwing nie. Regsprekende gesag – dit wil sê die mag om besluite te neem en geregtigheid te verseker volgens Suid-Afrika se wette – word dus uitdruklik aan die howe verleen (artikel 165(1) van die Grondwet). Dit is die regbank wat verantwoordelik is vir die onpartydige toepassing van die Grondwet en die reg (d.w.s. die handhawing daarvan) sonder vrees, begunstiging óf vooroordeel (artikel 165(2)).
Om hierdie deurslaggewende werk te doen, moet howe onafhanklik wees van die staat, die burgerlike samelewing óf enige ander rolspelers. Om effektief te wees, moet hulle vry wees van onbehoorlike invloed en slegs onderworpe wees aan die Grondwet en die wet, niks anders nié. Dit is inderdaad wat ons Grondwet vereis (sien artikels 165(2) en 165(5)).
Verder word aangevoer dat die howe (en dus regters) ook deur die burgers vertrou moet word. Dit is die RDK wat die President adviseer oor watter regters om aan te stel (artikels 174(4)) en 174(6) van die Grondwet). Dus die uitval oor dr. Hlophe wat in die RDK dien. ‘n Voormalige regter wat deur die RDK skuldig bevind is aan growwe wangedrag en uiteindelik deur die president geskors is en later deur die Parlement onthef is van sy posisie as regter. Daar moet kennis geneem word dat die Grondwet slegs toelaat dat ‘n regter verwyder word indien hy/sy bv. deur die RDK skuldig bevind word aan growwe wangedrag én ten minste twee derdes van die parlementslede vra dat hy verwyder moet word. Om as regter verwyder te word, is dus nie maklik gedaan nie en gebeur slegs onder unieke omstandighede.
Nog ’n dringende kwessie is die regbank se gebrek aan institusionele (óf operasionele) outonomie, wat sy vermoë om sy eie hulpbronne te bestuur, lamlê. Voormalige hoofregter Raymond Zondo het herhaaldelik kommer uitgespreek oor die uitvoerende gesag se beheer van regterlike aanstellings, hofbegrotings en die bou van howe. Gesprekke rondom die oordrag van volle beheer van hofbegrotings en administrasie aan die regbank – en sodoende artikel 165 van die Grondwet te versterk deur werklike skeiding van magte te verseker -het tussen die voormalige hoofregter en die president plaasgevind. Hierdie gesprekke het egter tot stilstand gekom, wat die regbank aan bande lê om geregtigheid doeltreffend te verseker. Sonder institusionele hervorming bly die howe afhanklik van die einste regeringsfeer wat hulle aanspreeklik moet hou. Ander lande, soos Zambië en Uganda, het reeds hul regerings gedwing om afstand te doen van begrotingsbeheer. Die risiko is hoog, want sonder ‘n onafhanklike regbank is die wese van grondwetlike demokrasie in die weegskaal.
Dit word dus duidelik hoe ‘n onafhanklike regbank ‘n absoluut, ononderhandelbaar, fundamentele deel van ‘n gesonde, funksionerende demokrasie is. Dit handhaaf die magsbalans deur seker te maak dat die staat die Grondwet eerbiedig (m.a.w. deur te kontroleer dat die staat rasioneel slegs die magte uitoefen wat die Grondwet en die wet hom gee). Dus is die onafhanklikheid van ons howe van kardinale belang om ons grondwetlike regte en vryhede te beskerm. Dit is sonder twyfel waarom die Grondwet van staatsorgane vereis dat hulle die howe bystaan en beskerm om die regbank se onpartydigheid, waardigheid, toeganklikheid en doeltreffendheid te verseker (artikel 165(4)).
Tekort aan regters:
Selfs al is die regbank onafhanklik, het dit genoeg fasiliteite en regters en ander personeel nodig om te funksioneer en geregtigheid te laat geskied. Die ernstige tekort aan regters is ou nuus. Judges Matter skryf die tekort aan regters toe aan onder meer, die groei van die Suid-Afrikaanse bevolking sonder ‘n toename in die aantal regters, wat lang vertragings (en ‘n oorweldigende werkslas op die onvoldoende aantal regters veroorsaak).
Om die tekort in perspektief te plaas, wys Judges Matter daarop dat verskeie bendeverwante moordverhore verlede jaar in die Wes-Kaapse Hooggeregshof nie kon voortgaan nie, weens ‘n gebrek aan regters om die sake aan te hoor. Dit het veroorsaak dat die verhore na 2024 en 2025 uitgestel is. In ‘n land wat sukkel met ‘n buitengewone hoë misdaadsyfer, is dit ‘n kritieke mislukking van die strafregstelsel. Judges Matter beklemtoon ook dat adjunk-president Sutherland (van Gauteng se Johannesburgse Hooggeregshof) dieselfde maand ‘n kennisgewing aan die regsgemeenskap uitgereik het dat die Johannesburgse Hooggeregshof 29 betaalde prokureurs sou aanstel om as waarnemende regters op te tree en ‘n bykomende 46 om pro bono op te tree. Die Pretoriase Hooggeregshof is in net so ‘n benoude verknorsing met huidige siviele sake met verhoordatums eers in 2029, vyf jaar later. Die Hoogste Hof van Appèl (“Appèlhof”) en die Konstitusionele Hof sukkel albei om ook vakante poste te vul. Daar moet daarop gewys word dat die RDK slegs drie nominasies vir die vakante poste by die Konstitusionele Hof ontvang het – wat daartoe gelei het dat die hoofregter se kantoor die poste moes heradverteer. Dit skets ‘n baie haaglike prentjie van die regbank se vermoë om geregtigheid betyds te laat geskied.
Transformasie – ‘n deurlopende projek:
Die regbank se behoefte om Suid-Afrika se rasse- en geslagsamestelling te weerspieël is iets wat oorweeg moet word wanneer regters en landdroste aangestel word (artikel 174(2) van die Grondwet). Ons staar dus nie net ‘n krisis van te min regters (en hofsale ens.) in die gesig nie, maar ons sien ook hoe die diversifikasie van die regsgemeenskap en die regbank te stadig gebeur. Dit het daartoe gelei dat onder meer die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, verlede maand die Regsektorkode – Kodes vir Goeie Praktyk oor Breë-gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging in die staatskoerant gepubliseer het. Hierdie kode, wat deur die Minister van Justisie verwelkom word, is bindend op alle staatsorgane en openbare entiteite wat daarvolgens gemeet sal word met betrekking tot hul verkryging van regsdienste. Dit stel ook die Transformasiefonds vir die Regbank voor, wat finansiële bystand en ondersteuning aan swart kandidaatprokureurs en leerling advokate verskaf bv. deur middel van toelaes.
Daar word aangevoer dat ‘n groot hindernis vir toetrede die lae salarisse is wat kandidaat prokureurs en leerling advokate ontvang. Dit dra daartoe by tot die onvoldoende transformasie van die regsgemeenskap. Baie gegradueerdes het hoë studieskuld, wat laagbesoldigde óf onbetaalde posisies al hoe meer onprakties maak. In ‘n reeds mededingende arbeidsmark, waar talle kandidate meeding vir ‘n handvol poste, dreig die vooruitsig van werkloosheid. Terwyl die voorgeskrewe minimum loon vir kandidaatprokureurs en leerling advokate nou R8000,00 per maand (in stedelike gebiede) is – en dit ‘n verbetering is – bly dit steeds onvoldoende om arm regsgegradueerdes op ‘n gelyke voet te laat meeding met diegene wat op hul gesin se ondersteuning vir ‘n aantal jare nog kan reken. (Kandidaat-prokureurskap neem gewoonlik twee jaar om te voltooi en ‘n leerling advokaat se pupilskap een jaar. ‘n Motor is dikwels ‘n werksvereiste. Daarbenewens, selfs nadat iemand byvoorbeeld as ‘n advokaat toegelaat is, neem dit etlike jare om ‘n praktyk op te bou met genoeg kliënte om ‘n volhoubare inkomstestroom te skep. Dus kan ‘n gesin se ondersteuning vir baie langer nodig wees as net die gemiddelde vier of vyf jaar wat dit neem om ‘n regsgraad te verwerf.) Oor die algemeen is die besluit wat regsgradueerdes vanuit benadeelde sosio-ekonomiese agtergronde in die gesig staar langs die lyn van die keuse tussen kandidaat-prokureurskap / pupilskap (na gelang van die geval) en die verkryging van ‘n kommersiële werk as ‘n regsadviseur (en onmiddellik ‘n goeie salaris in te loop). Sou sulke gegradueerdes ook die druk ondervind van verwagtinge dat hulle aan ander familielede se finansiële behoeftes moet omsien sodra hulle ‘n werk het, word die keuse van baie om nié ‘n loopbaan in die regsgemeenskap te volg nié, ‘n verstaanbare rede.
Terwyl die Regsektorkode waarna hierbo verwys is, daarop gemik is om swart regsgegradueerdes te help wat kandidaat-prokureurskap en/of pupilskap wil volg, word dit tans slegs deur regsfirmas en advokate befonds. Die fonds se mandaat wyer is as net om kandidaat-regspraktisyns finansieel by te staan. Dit sal dit waarskynlik daartoe lei dat die finansiële bystand wat dit aan hierdie kandidate kan bied onvoldoende is om hulle deur kandidaat-prokureurskap of pupilskap by te staan.
Slot:
Die regbank benodig onmiddellik ekstra regters. Die begroting beperkings om meer hofsale, regters en ondersteuningspersoneel te bekom, gegewe die land se huidige ekonomiese situasie, is verstaanbaar. Kreatiewe oplossings wat nie die howe se onafhanklikheid in die gedrang bring nie, is nodig. Om die regsgmeenskap te vra om te oorweeg om pro bono as waarnemende regters te werk, help, maar sal waarskynlik nie die blote aantal vaardige regters wat nodig is verskaf nie. Terselfdertyd moet blokkasies verwyder word. Daar word aangevoer dat dit sal help met die transformasie van die regsgmeenskap in ‘n meer diverse verteenwoordiging van die Suid-Afrikaanse burgerskap wat hulle dien. Dit kan onwaarskynlik wees dat dit sal gebeur as die minimum loon bloot verhoog word: Wat moontlik kan gebeur in ‘n sektor wat tans onder finansiële druk is, is dat firmas bloot kies om minder kandidaat-prokureursposte te open. Dit sal daartoe lei dat meer gegradueerdes die kommersiële sfeer betree as regsadviseurs in plaas van om prokureurs óf advokate te word. Dit mag dus dalk die teenoorgestelde uitkoms tot gevolg het.
Daar word voorgestel dat finansiële bydraes aan die Transformasiefonds vir die Regbank geskenk word deur enigiemand – hetsy ‘n persoon of besigheid – en dat skenkings daaraan belastingaftrekbaar is. Dit sal verseker dat die fonds genoeg inkomste het om kandidaat-regspraktisyns te befonds. Dit kan dan ook aangewend word om waarnemende regters te finansier. Alhoewel dit tans nie binne die fonds se mandaat is nie, sal dit diegene in die regsgemeenskap wat andersins nie in staat is om pro bono as waarnemende regters (vir ‘n lang tydperk) te werk nie, toelaat om dit te doen. Die RDK bly in beheer van aanstellings, wat die regbank in staat sal stel om sy onafhanklikheid te behou.