DIE NASIONALE GESONDHEIDSVERSEKERING (NGV): NIE ‘N WONDERKUUR VIR SUID-AFRIKA SE GESONDHEIDSORGKRISIS NIE

Uitgereik deur Shaun Kinnes en Siyakudumisa Zcina, interns by die FW de Klerk Stigting op 11/04/2024

 

Inleiding:

Hierdie is die eerste in ‘n reeks van artikels oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering [B11B-2019] (“die NGV”). Die Wetsontwerp, wat deur beide huise van die Parlement goedgekeur is en tans wag op die President om dit as wet te bekragtig, is jare al in wording. Artikel 27 van die Grondwet bepaal dat almal die reg het op toegang tot gesondheidsorgdienste, met inbegrip van reproduktiewe gesondheidsorg, sowel as voldoende voedsel en water, en maatskaplike sekerheid. Hierdie artikel bepaal dat die staat redelike wetgewende en ander maatreëls moet tref, binne sy beskikbare hulpbronne, om hierdie regte in toenemende mate te verwesenlik.

Daarbenewens is universele toegang tot gesondheidsorg ’n kernprioriteit van Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan (“NOP”). Dit is ook ‘n kerndoelwit van die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (“VOD”).

 

SA se openbare gesondheidsorgstelsel:

Terwyl daar ‘n redelike aantal hospitale in Suid-Afrika se openbare gesondheidsorgsektor bestaan, staar die sektor oor die algemeen vele uitdagings in die gesig. Een wat onlangs opslae gemaak het, is die ernstige tekort aan dokters. Hierdie tekort word vererger deur geldtekorte wat meer as 800 gekwalifiseerde mediese beroepslui werkloos gelaat het en sommige geskoolde praktisyns aangespoor het om te emigreer. Volgehoue begrotingsbeperkings belemmer werwingspogings, wat die krisis in openbare gesondheidsorgfasiliteite vererger wat reeds deur toerustings- en medikasietekorte geteister word.

 

Die NGV en universele gesondheidsorgtoegang:

Die NGV beoog om “Universele Gesondheidsdekking” aan almal te voorsien. Dit poog om te verseker dat niemand toegang tot kwaliteit gesondheidsorg ontneem word weens ‘n gebrek aan geld nie, deur een openbare gesondheidsfonds te skep met voldoende hulpbronne om aan die gesondheidsbehoeftes van die hele bevolking te voorsien deur effektiewe beplanning en voorsiening.

Ten spyte hiervan is die NGV blootgestel aan kritiek en studies wat daarop dui dat dit onuitvoerbaarheid is. Solidariteit, ‘n prominente vakbond, het belowe om sy teenkanting teen die NGV te eskaleer, deur sleutelregeringsfigure persoonlik aanspreeklik te hou vir die gevolge daarvan. Regskenners van Webber Wentzel beklemtoon die gebrek aan duidelikheid oor die NGV se impak op Suid-Afrika se uitgebreide privaat mediese fonds- en versekeringsbedryf. Hulle beklemtoon potensiële grondwetlike uitdagings rakende toegang tot gesondheidsorgdienste (artikel 27), eiendomsreg (artikel 25) en vryheid van bedryf (artikel 22).

 

NGV – die probleme:

Dit is belangrik om daarop te let dat die argument nooit gegaan het oor of Suid-Afrikaners toegang tot kwaliteit gesondheidsorgdienste moet hê of nié, maar eerder oor die volgende probleme rakende die NGV-wetsontwerp:

Probleem 1 -Regering se vermoë om dit effektief te bestuur:

Die kommerwekkende werkloosheidsyfers binne die mediese professie laat diepgaande vrae ontstaan oor die Regering se vermoë om sy gesondheidsorgwerkerskorps te bestuur:

In ‘n onlangse opname van die Medical Protection Society (MPS) (wat gesondheidsorgpraktisyns van staatsgesondheidsorgfasiliteite toegelaat het om anoniem kommentaar te lewer), het vasgestel dat 91% van dokters van mening is dat personeeltekorte ‘n “beduidende bedreiging” vir pasiëntveiligheid inhou. Verder het 66% genoem dat medikasie-tekorte ‘n impak het op pasiëntveiligheid en 45% was van mening dat toerustingtekorte ‘n impak het op pasiëntveiligheid.

Dit is nie dat Suid-Afrika nie dokters het nie. Trouens, dit het meer as 800 werklose dokters. Die wanverhouding tussen ‘n oorskot van gekwalifiseerde mediese praktisyns wat werk soek en onderbemande hospitale dui op ‘n sistemiese mislukking in die Staat se bestuur van die openbare gesondheidsektor.

Privaat mediese fondse:

Die huidige raamwerk van die NGV verbied mediese fondse om gesondheidsprosedures wat deur die NGV-wetsontwerp aangebied word te finansier, terwyl die staat onder die Ministerie van Gesondheid die enigste verskaffer van gesondheidsorg word. Die NGV-wetsontwerp verminder ook die bestaande rol van provinsiale gesondheidsdepartemente in die verskaffing van gesondheidsorg.

Seldsame siektes:

Wat veral kommerwekkend is, is hoe dit individue sal raak wat aan seldsame siektes ly (na raming 3,7 miljoen mense in Suid-Afrika). Die komplekse aard van baie van hierdie siektes vereis gespesialiseerde dokters, mediese toerusting, medikasie en diagnostiese toerusting. Die NGV poog om gesondheidsorg aan burgers voor te skryf en plaas die klem op primêre gesondheidsorgdienste. Deur primêre sorg te prioritiseer en die voorsiening van gesondheidsorg te sentraliseer, loop die NGV die risiko om diegene met seldsame siektes te verwaarloos en hulle sonder voldoende ondersteuning óf toegang tot noodsaaklike behandeling te laat. Hierdie benadering misluk nie net om unieke gesondheidsorgvereistes aan te spreek nie, maar ondermyn ook die private sektor deur nié voldoende verbeterings aan die openbare gesondheidsorgstelsel te verseker nié.

Volhoubaarheid:

Die NGV se raamwerk, wat die staat as die enigste verskaffer van gesondheidsorg posisioneer, vererger kommer oor volhoubaarheid en is eenvoudig onbekostigbaar, soos erken deur die Minister van Finansies, Enoch Godongwana. Hierdie skuif verminder die rol van mediese fondse, wat noodsaaklike werkgewers in die land is, wat die fiskale belastingbasis verder ondermyn. Terwyl die NGV daarop gemik is om ongelykhede in terme van gesondheidsorg aan te spreek, bestaan daar steeds twyfel oor die doeltreffendheid daarvan.

Die astronomiese koste:

Verseker is die grootste bekommernis die koste van die voorgestelde NGV. Dit word beraam op R460 miljard jaarliks. Die regering se ramings is dat die NGV (ten minste) ‘n bykomende R200 miljard se belastinginkomste sal vereis. Dit kan slegs verkry word deur belasting te verhoog of belastingkrediete te verminder, of ‘n kombinasie van albei.

Die Tesourie, die Davis-kommissie en die Minister van Finansies het almal verklaar dat die skema onbekostigbaar is. (Minister van Finansies, Enoch Godongwana, erken dit is onbekostigbaar en dat die voorgestelde finansieringsbronne onvolhoubaar is.)

Die Staat het eenvoudig nie die geld nie.

Gesondheidspraktisyns se uittog:

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het aangedui dat dokters die land sal verlaat sou die NGV wet word. Dit is ‘n verlies aan vaardighede wat die land beswaarlik kan bekostig en daarmee saam sal dit die krimpende belastingbasis verder versnel.

 

NGV en ongelykhede in toegang tot gesondheidsorg:

Die groot ongelykheid tussen Suid-Afrika se private- en openbare gesondheidsorgsektore beklemtoon ‘n kritieke kwessie. Ongelukkig hou die raamwerk wat tans deur die NGV-wetsontwerp voorgestel word die risiko in om hierdie gaping te vergroot eerder as om dit te oorbrug. Soos die probleme hierbo gelys illustreer, is dit nie die wonderkuur vir die probleme in die openbare gesondheidsorgstelsel nie. Ander oplossings om die reg op toegang tot gesondheidsorgdienste te vervul, sal in die volgende artikel in hierdie reeks ondersoek word.