DIE NASIONALE GESONDHEIDSVERSEKERING (NGV): ALTERNATIEWE OPLOSSINGS
Uitgereik deur Shaun Kinnes en Siyakudumisa Zcina, Interns by die FW de Klerk Stigting, op 10/04/2024
Inleiding:
Hierdie is die eerste in ‘n reeks van artikels oor die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering [B11B-2019] (“die NGV”). Die Wetsontwerp, wat deur beide huise van die Parlement goedgekeur is en tans wag op die President om dit in wet te bekragtig, is jare al in wording.
Die eerste artikel in die reeks het gekyk na die probleme rondom die NGV-wetsontwerp en hoe dit nie die wondermiddel is vir die oplossing van die openbare gesondheidsorgstelsel se probleme nie. Hierdie artikel is daarop gemik om ander oplossings te ondersoek om die reg op toegang tot gesondheidsorgdienste te vervul (gewaarborg in artikel 27 van die Grondwet). Suid-Afrika het ‘n volhoubare openbare gesondheidsorgmodel nodig wat almal gelyke toegang daartoe gee, ongeag hul finansiële situasie.
Gesondheidsorg internasionaal – enkel-betaler versus multi-betaler stelsels:
Die Verenigde Koninkryk se Nasionale Gesondheidsdiens (“NGD”) en Brasilië se gesondheidsorgstelsel is albei oorwegend enkel-betaler stelsels. ‘n Enkel-betaler-stelsel is waar ‘n enkele openbare akteur verantwoordelik is vir die dekking van die fiskale koste om gesondheidsorg aan die burgers van ‘n nasie te verskaf.
Die Australiese of Kanadese-styl stelsels aan die ander kant, betrek veelvuldige belanghebbendes – insluitend provinsies, private versekeringsgroepe en nasionale regerings – wat bydra tot finansiering en toeganklikheid.
Terwyl enkel-betaler stelsels, soos die NGD, uitdagings in die gesig gestaar het (soos vertraagde toegang en werksmagtekorte), het multi-betaler stelsels, soos dié van Australië, burgers belastingkortings gebied om toegang tot privaat fasiliteite te verkry en sodoende wagtye in openbare hospitale verminder.
Binne die multi-betaler-stelsel is daar ook verskille: Australië se multi-betaler-stelsel kombineer openbare en private hospitale, wat belastingkortings vir private gesondheidsorg verskaf. Daarteenoor het Kanada ‘n gedesentraliseerde gesondheidsorgstelsel wat deur 13 provinsiale regerings bestuur word, genaamd “Canadian Medicare“. Kanadese kan private planne kies vir ongedekte dienste, met belastingkortings wat aangebied word. Openbare dekking is 100%, terwyl private dekking 67% is, wat gesondheidsorg vir almal met nie-winsgewende bedrywighede beklemtoon en ooreenstem met die prioritisering van mense bo wins.
Hierdie vergelykende gesondheidsorgstelsels onderstreep die kompleksiteit van gesondheidsorgfinansiering en -lewering. Terwyl enkel-betaler stelsels soos die NGD uitdagings in die gesig staar, demonstreer multi-betaler stelsels in Australië en Kanada uiteenlopende befondsingsmeganismes wat verskeie belanghebbendes betrek.
Die pad vorentoe:
Die NGV is ‘n enkel-betaler-stelsel en word dikwels met die NGD vergelyk. ’n Enkel-betaler benadering pas egter dalk nie by Suid-Afrika se gesondheidsorgrealiteit nie. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die land se fiskale posisie en die feit dat dit die rol van provinsies in die verskaffing van gesondheidsorg ook sal ondermyn.
Met inagneming van Suid-Afrika se huidige gesondheidsorglandskap wat provinsiale gesondheidsdepartemente, mediese fondse en openbare hospitale betrek, is ‘n multi-betaler-stelsel meer geskik, aangesien gesondheidsorg histories ‘n komplekse stelsel is om te finansier. ’n Multi-betaler-stelsel sal ook die las op die openbare fiskus (en dus die belastingbetaler) verlig.
Suid-Afrika se strewe na ‘n volhoubare en toeganklike gesondheidsorgstelsel noodsaak noukeurige oorweging van hierdie modelle en balanseer universele dekking met finansiële volhoubaarheid en billike toegang.
Boonop moet Suid-Afrika belê in bekwame hospitaal administratiewe personeel, veral Hoof- uitvoerende beamptes. Groote Schuur- en Tygerberg-hospitale in Kaapstad is ‘n model vir suksesvolle openbare sektor-uitkomstes. Groote Schuur is ‘n globale vlak 1-traumasentrum, wat beteken dat dit ‘n tersiêre hospitaal is wat in staat is om behandeling vir die ernstigste beserings te verskaf. Dit bied ook tersiêre opleiding en spesialisdienste.
Staatshospitale kan vennootskappe met universiteitsgesondheidswetenskappe-fakulteite oorweeg, soos voorgestel deur die voormalige visekanselier van die Wits Universiteit, professor Adam Habib. Die implementering van hierdie modelle landwyd sal toegang tot gesondheidsorg en kwaliteit verbeter.
Toegang tot gesondheidsorgdienste is ‘n fundamentele mensereg wat volhoubare finansiering en noukeurige beplanning vereis om voortgesette toeganklikheid en kwaliteit te verseker. Soos dit nou staan, maak die NGV-wetsontwerp se buitensporige koste en onduidelike implementeringstrategieë dit finansieel onvolhoubaar en potensieel vernietigend vir Suid-Afrika se gesondheidsektor.
Die Stigting doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die magte wat die Grondwet aan hom gee, uit te oefen om hierdie wet terug te stuur na die Parlement vir heroorweging, sodat ons nie gkonfronteer word met onoorkomelike finansiële-, menslike hulpbronne- en bestuurderstekorte wat almal se reg op toegang tot gesondheidsorg sal knou nie. Die Stigting doen ‘n beroep op die Staat om eerder ‘n kombinasie van ‘n multi-betaler-stelsel en vennootskap met universiteite se gesondheidswetenskappe-fakulteite te oorweeg om die huidige probleme in die openbare gesondheidsorgstelsel aan te spreek.