+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE GRONDWET, DIE JEUG EN DIE LANGVERWAGTE MADLANGA-KOMMISSIE

Uitgereik deur Thando Malinga namens die FW de Klerk Stigting op 18/09/2025

 

Na weke se onsekerheid en vertragings het die Madlanga-kommissie uiteindelik sy openbare sittings by die Brigitte Mabandla Justice College in Pretoria onder voorsitterskap van waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga, begin. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, het as eerste getuie verskyn. Dit terwyl regter Madlanga gewaarsku het dat, indien die bewerings van ’n kriminele oorname bewys word, “misdadigers aan bewind” die regstelsel kan beheer. Dit hou ernstige implikasies in vir Suid-Afrika se grondwetlike orde en vir sy jeug. Die dringendheid het nie versag omdat die sittings begin het nie, dit het eerder toegeneem. Momentum, deursigtigheid en getuiebeskerming moet nou geprioritiseer word.

Hoewel die aanvanklike vertragings van die werksaamhede van die kommissie aan die verkryging van infrastruktuur deur die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling (“DJ&GO”) toegeskryf is, het hierdie uitstellings wesenlike gevolge. Dit raak nie net die publiek weens die vertraging van die kommissie nie, maar ook diegene wat by die beweerde korrupsie betrek word, soos uitgelig deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, luit.-genl. Nhlanhla Mkhwanazi. Paul O’Sullivan, stigter van Forensics for Justice, beklemtoon dat die aanvanklike uitstel ’n geleentheid geskep het vir die intimidasie van getuies, die vernietiging van bewyse en het uiteindelik die publiek se vertroue in ons demokratiese instellings se vermoë om diegene in magsposisies tot verantwoording te roep, geskaad.

Artikel 195 van die Suid-Afrikaanse Grondwet vereis aanspreeklikheid, deursigtigheid en doeltreffendheid in die openbare administrasie. Eweneens beskerm artikel 165 die onafhanklikheid van die regbank en verseker dat geregtigheid nie vertraag óf geweier word nie. Wanneer ’n regeringsdepartement soos die DJ&GO versuim om ’n kommissie van sodanige nasionale belang behoorlik te ondersteun, is dit nie bloot ’n tegniese fout nie. Dit ondermyn die kernbeginsels van grondwetlike regering en toon ’n gebrek aan toewyding om die dringende nasionale uitdaging van korrupsie daadwerklik aan te pak.

As die jeug van hierdie land, wat voortdurend hoor dat hulle die “toekomstige leiers van Suid-Afrika” is, moet hulle nou aanskou hoe die politieke elite en staatsinstellings grondwetlike verpligtinge vir eie gerief manipuleer. Vir ’n generasie wat grootgeword het met kommissies van ondersoek watvir  jare voortduur met min óf geen gevolge nie, blyk die teëspoed met die Madlanga-kommissie soos ’n herhaling van die verlede – sonder werklike verandering. Jongmense in Suid-Afrika leef met ’n werklikheid wat deur wanbestuur en korrupsie geteister word. Met die jeugwerkloosheidsyfer vir jongmense jonger as 25 wat tot om en by 60% gestyg het, is geleenthede reeds uiters skaars. Korrupsie in wetstoepassing, politieke inmenging en die manipulasie van die regstelsel verdiep die krisis verder. Dit ontmoedig belegging, verswak dienslewering en laat siklusse van geweld en onstabiliteit voortduur.

Die Madlanga-kommissie is ingestel om bewerings van politieke inmenging en korrupsie rondom die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, te ondersoek. Vir die jeug in KwaZulu-Natal – ’n provinsie wat al jare worstel met politieke moorde en kriminele netwerke – behoort hierdie kommissie ’n keerpunt te verteenwoordig. ’n Bevestiging dat die Grondwet selfs die kwesbaarstes teen magsmisbruik beskerm. In plaas daarvan word burgers met eindelose vertragings gekonfronteer, omdat die staat geen dringendheid toon om sistemiese korrupsie in die polisie aan te spreek nie – ’n kernportefeulje vir openbare veiligheid. Die FW de Klerk Stigting vra: “Watter hoop het jong fluitjieblasers óf aktiviste dat die stelsel hulle sal beskerm wanneer hulle teen magsmisbruik opstaan?

Die waarheid wat belig moet word, is eenvoudig. Dit is dat ’n stelsel wat geregtigheid vertraag, ontken geregtigheid. Elke uitgestelde sitting gee diegene wat verbind word met korrupsie meer tyd om met bewyse in te meng, getuies te intimideer en die momentum vir hervorming te verswak. Só kan ’n gekaapte stelsel van strafregpleging voortgaan om in die guns van korrupte elemente te beslis. Hierdie mislukkings leer die jeug dat diegene met mag tyd kan koop, terwyl gewone burgers die gevolge van wanbestuur dra. As grondwetlike meganismes vir aanspreeklikheid – soos kommissies van ondersoek – deur eindelose vertragings van hul gesag gestroop word, sal jong Suid-Afrikaners toenemend hul vertroue in demokratiese instellings verloor.

Hoewel die Grondwet nie bloot ’n regsdokument is nie, is dit ’n sosiale kontrak wat jong Suid-Afrikaners die reg waarborg om in ’n samelewing te leef wat deur geregtigheid, billikheid en deursigtigheid regeer word. Die wrange werklikheid is dat hierdie kontrak net so sterk is soos die bereidwilligheid van instellings om dit te handhaaf – en tot dusver skiet dit tekort. Die jeug moet optree en hulself as die bewaarders van die Grondwet beskou; dit is nie meer genoeg om te wag dat ouer geslagte ’n stelsel herstel wat hulle self laat verbrokkel het nie. Burgerlike samelewing, studentebewegings en jeuggeleide organisasies moet opstaan en verantwoording eis – nie net van politici nie, maar ook van staatsinstellings soos die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling.

Vandag se aanvang van die kommissie moet die einde van verskonings wees. Van hier af moet die Madlanga-kommissie beoordeel word op grond van die pas waarteen dit vorder, die beskerming wat dit aan fluitjieblasers en getuies bied, die kommissie se vermoë om bewyse by betrokke amptenare af te dwin, en die lewering van duidelike, tydgebonde aanbevelings met ’n onafhanklike implementerings-toesighouer. Jong Suid-Afrikaners behoort die galery te vul, voorleggings te maak, sperdatums noukeurig dop te hou en daarop aan te dring dat die Parlement en die Uitvoerende Gesag op grond van die bevindinge optree. Geregtigheid wat byna in die slag gebly het, moet nou geskied. Ooreenkomstig artikels 165 en 195 van die Grondwet. Die verhore het begin. En die maatstaf van ons demokrasie sal wees of dit werklike aanspreeklikheid en hernuwing vir die volgende generasie sal oplewer.