
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM DIE VERWERPING VAN MKP-AANSOEK OM DRINGENDE INTERDIK EN IS BEMOEDIG DAT RNE VORM AANNEEM
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 13/06/2024
Die FW de Klerk Stigting verwelkom die Konstitusionele Hof se verwerping van die uMkhonto weSizwe Party (“MKP”) se dringende aansoek om ’n interdik om die Parlement se eerste sitting komende Vrydag te verhoed.
“Die Grondwet eis dat Parlement sy eerste sitting moet hê binne twee weke nadat die OVK die verkiesingsuitslae op Sondag, 2 Junie 2024 bekend gemaak het. Die Hoofregter het bepaal dat hierdie sitting môre, Vrydag, 14 Junie 2024 sal plaasvind. Geen politieke party behoort toegelaat te word om te verhoed dat hierdie grondwetlike imperatiewe nie uitgevoer word nie,” het Daniela Ellerbeck, Grondwetlike Programbestuurder by die FW de Klerk Stigting, gesê. “Parlement regeer namens ons as burgers. Ons en ons demokrasie moet nie gevange gehou word deur politieke partye nie. Dit is noodsaaklik dat die sitting voortgaan,” sê Ellerbeck.
“Parlement moet môre ‘n President kies. Suid-Afrika se regering en mense moenie gyselaar gehou word deur enige mate van politieke intimidasie nie,” beaam Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die Stigting. “Die tyd het aangebreek dat politieke partye, regoor die spektrum, Suid-Afrika eerste stel.”
Die FW de Klerk Stigting verwelkom die nuus dat ‘n Regering van Nasionale Eenheid (“RNE”) besig is om vorm aan te neem. Dit is bemoedig dat die ANC standvastig bly op die punt dat die partye waarmee dit in koalisie gaan, die Grondwet en die grondliggende waardes wat die onderlê moet respekteer. Die Stigting het deurlopend gevra dat die nuwe regering uit politieke partye lojaal aan die Grondwet moet bestaan. (M.a.w. ‘n Regering van Grondwetlike Eenheid.)
“Dit is omdat die Grondwet dit vir politieke partye moontlik maak om saam te staan om die gesamentlike visie van ‘n voorspoedige, verenigde Suid-Afrika te verwesenlik. Dit laat die nuwe regering toe om voort te bou op ons menseregtekultuur van nie-rassigheid, nie-seksisme, menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Bevordering van eenheid onder Suid-Afrikaners versus verdeeldheid saai. Uit hierdie visie kom duidelike sleutelprioriteite, wat vir almal van gemene belang moet wees, na vore,” brei van der Rheede uit.