+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE FW DE KLERK-STIGTING VEREER WYLE DR FRANKLIN SONN MET DIE FW DE KLERK WELWILLENDHEIDSTOEKENNING

Uitgereik deur Christo van der Rheede namens die FW de Klerk Stigting op 16/12/2025

Die FW de Klerk-stigting is verheug om aan te kondig dat die 2025 FW de Klerk Welwillendheidstoekenning aan wyle dr Franklin Sonn postuum toegeken sal word.

Die FW de Klerk Welwillendheidstoekenning, wat in 2010 ingestel is, vereer individue en organisasies wat uitsonderlike bydraes gelewer het tot die bevordering van goeie verhoudinge, versoening en eenheid onder Suid-Afrikaners.  Vorige ontvangers sluit in dr Danny Jordaan (2011), mnr Pieter-Dirk Uys (2012), Studietrust (2013), mnr Patrice Motsepe (2014), Afrika Tikkun (2015), prof Thuli Madonsela en die Kantoor van die Openbare Beskermer (2016), mev Anna (Ans) Botha en mnr Wayde van Niekerk (2017), Gift of the Givers (2018), mnr Moeletsi Mbeki (2019), Ladles of Love (2022), die Khaya Lam-projek van die Vrye Mark Stigting (2023) en dr Johan “Rassie” Erasmus (2024).

Die Raad van Trustees van die FW de Klerk-stigting het dr Sonn reeds voor sy afsterwe benoem vir sy lewenslange diens en uitstaande bydrae tot die bevordering van versoening en transformasie van Suid-Afrika se politieke, besigheids- en opvoedkundige sektore. Sy dapper leierskap, morele gesag en onwrikbare toewyding aan grondwetlike waardes en dít wat in die beste belang van Suid-Afrika is, het ‘n diepgaande en blywende nalatenskap gelaat. Ook is dit belyn met die grondslag waarop die FW de Klerk Welwillendheidstoekenning gevestig is.

Die FW de Klerk-stigting is daartoe verbind om mee te help om ‘n regverdige, vreedsame en voorspoedige nasie wat op grondwetlike demokratiese waardes wat in Suid-Afrika se Grondwet veranker is, te bou. Dr Sonn se lewe en werk resoneer sterk met hierdie beginsels en met die Stigting se missie. 

Die toekenning sal op 3 Februarie 2026 by die FW de Klerk-stigting se jaarlikse vlagskipkonferensie oorhandig word, wat die 36ste herdenking van President De Klerk se historiese toespraak van 2 Februarie 1990 gedenk wat Suid-Afrika se grondwetlike transformasie ingelui het. Dr Sonn se familie sal die toekenning namens hom ontvang. 

Die konferensie volgende jaar sal fokus op plaaslike regering – die regeringsfeer wat die naaste aan gemeenskappe is en wat grondwetlik verplig is om volhoubare noodsaaklike dienste te lewer. Sprekers wat reeds hul deelname bevestig het om verskeie temas oor plaaslike regering tydens die konferensie aan te spreek, sluit in die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, mnr Velinkosi Hlabisa, me Tsakani Maluleke, die ouditeur-generaal van Suid-Afrika, en dr Ruben Richards, uitvoerende adjunk-burgemeester van  die Cederberg Munisipaliteit.