Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE FW DE KLERK STIGTING LEWER KOMMENTAAR OOR DIE ALGEMENE MUNISIPALE WETSONTWERP, IS GEKANT TEEN VERLENGING VAN TYDPERK OM ONREËLMATIGE AANSTELLINGS REG TE STEL
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 27/08/2024
Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (“die Departement”) het die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Algemene Wette, 2024 (die “Algemene Munisipale Wetsontwerp”) vrygestel vir openbare kommentaar tot 31 Augustus 2024. Die FW de Klerk Stigting, in sy vertoë, was gekant teen die Wetsontwerp se verlenging van die tydsbeperking om onreëlmatige aanstellings reg te stel.
Die Wetsontwerp stel voor dat die tyd wat die LUR sal hê om die munisipaliteit te dwing om aan die wet te voldoen in sy aanstelling van munisipale bestuurders (of bestuurders wat direk aan hulle aanspreeklik is) verleng word vanaf 14 tot 30 dae. Dit sal ook daarna die munisipaliteit 30 dae gun om die aanstelling te heroorweeg. Dit verleng die tydperk om die wet na te kom van twee weke tot twee maande sedert die LUR die eerste keer bewus geword het van die onreëlmatige aanstellings.
“Die Stigting se standpunt is dat die verlenging van die tydperk om onreëlmatige aanstellings reg te stel, direk teenstrydig is met munisipaliteite se wetlike pligte en onredelik is sonder enige poging om die sodanige verlenging te regverdig”, sê Daniela Ellerbeck, ‘n prokureur en die FW de Klerk Stigting se Bestuurder van Grondwetlike Programme.
“Die Stigting het gevra dat die Wetsontwerp se voorstel geskrap word en daarop gewys dat die munisipaliteite ‘n wetlike plig het om aanspreeklike regering te verskaf; hul hulpbronne in hul plaaslike gemeenskap se beste belang te gebruik en om te verseker dat munisipale dienste op ‘n finansieel volhoubare wyse aan die plaaslike gemeenskap gelewer word (artikel 4(2) van die Wet op Munisipale Stelsels, 2000). Daarbenewens vereis artikel 195 van die Grondwet ook dat munisipaliteite ‘n hoë standaard van professionele etiek moet handhaaf; aanspreeklik moet wees en hul hulpbronne ekonomies en doeltreffend moet gebruik”, verduidelik Ellerbeck.