Sy sien die Nasionale Unie van Metaalwerkers (NUMSA) se besluit om die ANC te verlaat as “’n keerpunt vir die land se politiek” weens sy besluit “om te kyk na die stigting van ’n beweging vir sosialisme.” Wanneer linksgesinde kommentators en organisasies soos NUMSA egter na “sosialisme” verwys, praat hulle eintlik van “kommunisme” – en nie die Europese vorm van demokratiese sosialisme nie. Irvin Jim – die Sekretaris-generaal van NUMSA – het dit aan my duidelik gestel tydens ’n radio-onderhoud verlede jaar dat hy die stigting van ’n kommunistiese samelewing in Suid-Afrika steun en dat hy Kuba as ’n rolmodel beskou. Dieselfde geld vir COSATU, wat homself verbind het “tot die bou van Marxisme-Leninisme as maatstaf van wetenskaplike ondersoek” en om “’n sosialistiese beweging daar te stel wat koaliseer rondom die SAKP.” Tydens sy kongres in 2006 het COSATU volgehou dat “die diktatorskap van die proletariaat die enigste waarborg is dat daar ’n sterk oorgang sal wees van die Nasionale Demokratiese Revolusie na sosialisme.”
Die rede waarom artikels wat hierdie soort “sosialisme” (dit wil sê kommunisme) verkondig min aandag geniet in die meeste van ons media is omdat alle vorige pogings om “sosialistiese” samelewings te vestig sonder uitsondering armoede, stagnasie en totalitarisme tot gevolg gehad het. Aan die ander kant is vrye markte nie ’n kunsmatige konstruksie nie, maar die natuurlike en universele maatstaf vir menslike ekonomiese samewerking. Dit berus op die deursigtige navolging van eie belange waar mense en maatskappye vrylik met mekaar kan meeding ten einde beter en goedkoper produkte en dienste aan die publiek te lewer. Wanneer hulle hul eie belange navolg – soos as Adam Smith opgemerk het – bevorder mense dikwels daardie aspek van die samelewing op ’n doeltreffender wyse as wanneer dit hul uitgangspunt is om dit te bevorder. Hy het bygevoeg dat hy “nie weet van veel goeie dinge wat bereik is deur diegene wie se uitgangspunt dit was om te handel in die belang van die publiek nie.”
Vrye ondernemings is die enigste bewese voertuig vir die generasie van rykdom en werklike ekonomiese vordering. Dit is ’n voertuig wat op onverantwoordelike wyse deur geldgierige en onverantwoordelike bankiers bestuur kan word – soos wat ongetwyfeld die geval was in 2008. Die hoofoorsake van die ineenstorting in 2008 was egter, eerstens, die buitewerkingstelling van die voertuig se remme deur die “te groot om te misluk”-benadering van regerings; en tweedens, die mislukking van die regulerende verkeersbeamptes, wat in plaas daarvan om ’n redelike spoedbeperking in te stel, roekelose bestuurders aangemoedig het deur reuse volumes waardelose eiendomsverbande te waarborg.
Desnieteenstaande het prof Duncan ’n punt. Daar is ’n kommerwekkende skeiding tussen die sosialistiese en populistiese indrukke van die massas en die meer ingeligte mediagesprekke oor ekonomiese aangeleenthede. Ons mislukte onderwysstelsel het miljoene Suid-Afrikaners veral vatbaar gemaak vir die oppervlakkige aanloklikheid van sosialisme. Hulle word maklik verlei deur ideologieë wat onmiddellike voordele op die kort termyn belowe by wyse van die verdeling van eiendom wat aan ander behoort. Mense hou van die idee om in stryd te wees teen “bose onderdrukkers” – uitgebeeld as “imperialiste” en “monopolistiese kapitaliste”.
Die probleem is dat hierdie proses sonder uitsondering die belange van alle betrokkenes op die lang termyn verwoes – en veral dié van werkers en die armes. Onverantwoordelike vakbondunies en streng arbeidsmarkte is van die hoofoorsake van Suid-Afrika se onvolhoubare vlakke van werkloosheid en sy mislukking om buitelandse beleggings te verseker wat noodsaaklik is vir volhoubare ekonomiese groei.
- AMCU-myners wat dreig om te staak vir R12 500 per maand (hoër as die koopkrag van gemiddelde lone in Pole of Israel) bedreig die toekoms van die mynbousektor en hul eie werksgeleenthede.
- Verlede jaar het NUMSA se stakings die motorsektor ongeveer R20 miljard gekos – en gelei tot die kansellasie van BMW se uitbreidingsplanne.
- Die onlangse verhoging van die landbouloon met 52% sal lei tot die verlies van tienduisende werksgeleenthede, indien nie honderde duisende nie.
- Tussen 2008 en 2012 het Suid-Afrika 440 dae per 1000 werknemers verloor weens stakings – 18 keer meer as Brittanje in dieselfde tydperk.
- Volgens die Wêreld-Ekonomiese Forum se jongste internasionale mededingendheidsverslag, is arbeider-werkgewer-verhoudings in Suid-Afrika die slegste van 148 lande wat in die verslag opgeneem is. Wat aanstellings- en afdankingspraktyke betref is ons die tweede slegste en met betrekking tot die buigsaamheid van loonbepalings en lone en produktiwiteit is ons in die onderste ses.
Dit is duidelik onvolhoubaar en bedreig nie net die belange van die betrokke werkers nie, maar ook van werkgewers, die ekonomie en die land.
Die probleem is nie dat die lesers van ons koerante nie voldoende ingelig is oor sosialisme nie – die probleem is ’n gebrek aan basiese ekonomiese geletterdheid regdeur die breë samelewing. Die hoofbron van inligting vir baie werkers en betogers is die opruiende retoriek van kommunistiese unies en populistiese demagoë. Daar is ’n dringende behoefte aan akkurate, gesaghebbende en wydverspreide inligting oor hoe die ekonomie werklik werk.
Die Vryemarkstigting het in die verlede uitstekende basiese ekonomiese kursusse vir werkers aangebied – maar om een of ander onverklaarbare rede finansier sy skenkers uit die privaatsektor nie meer sulke programme nie. Desnieteenstaande is dit in die belang van die sakewêreld – en van ons breër samelewing – om massa-kommunikasieprogramme te steun wat werkers en die publiek in die algemeen inlig oor basiese ekonomiese waarhede, soos dat:
- indien lone verhoog word sonder verbeteringe in produktiwiteit, werksgeleenthede verlore sal gaan;
- indien werkers werkgewers beskou as vyande eerder as vennote, dit moeilik vir maatskappye sal wees om te slaag;
- werkers in vrye ekonomieë baie hoër standaarde het as diegene wat in “sosialistiese” ekonomieë woon;
- wins ’n goeie ding is. Dit is baie beter as om ’n verlies te maak; en
- kommunisme ’n ramp was waar ook al dit probeer is.
Deur Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting
Foto: World Economic Forum / Foter.com / CC BY-NC-SA