Water is natuurlik noodsaaklik vir die voortbestaan van die mensdom en alle ander lewensvorme. Dit is van kardinale belang vir voedselproduksie en speel ‘n onmisbare rol ten opsigte van die wêreldekonomie en vervoer. Dit dien as oplosmiddel vir ‘n wye verskeidenheid chemikalieë en word ook gebruik as n industriële koelmiddel. Op Wêreldwaterdag in 2013 sal ‘n groot aantal lande onder geweldige druk wees om hul beperkte en kwynende waterbronne doeltreffend te bestuur. In die ontwikkelende lande word die doeltreffende bestuur van waterbronne nog verder bemoeilik weens ‘n behoefte aan die volhoubare gebruik van water, die regverdige verdeling van water onder die verskillende gebruikers daarvan met inagneming van ekonomiese groei en maatskaplike gelykheid, sowel as bedreigings soos algemene besoedeling, suurdreinering en kwikvergiftiging wat die hoof gebied moet word.
Suid-Afrika - ’n semi-dor land met lae reënval, beperkte ondergrondse waterreserwes en wat van buurlande afhanklik is vir water - het sy eie uitdagings: die onvoldoende beskikbaarheid van water is nou ‘n ‘n demper op nasionale ontwikkeling. Beide die Nasionale Waterhulpbronstrategie van 2004 en die 2011-Diagnostiese Verslag van die Nasionale Beplanningskommissie beklemtoon die potensiële striemende beperking wat ’n tekort aan water op ontwikkeling kan hê indien watergebruik 40% van die jaarlikse beskikbaarheid oorskry. Die Diagnostiese Verslag wys verder daarop dat die inwerkingstelling van die nodige maatreëls vir die bewaring van water ‘n uitdaging is, gegewe die diverse en komplekse aard van die land se waterhulpbronne en die gebruik daarvan.
Water, en die bewaring daarvan, geniet erkenning in die Suid-Afrikaanse Grondwet: artikel 24(a) en (b) bepaal dat elkeen die reg het “op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie” en “op die beskerming van die omgewing, ter wille van huidige en toekomstige geslagte”. Toegang tot water word ook erken as ‘n beregbare sosio- ekonomiese reg in artikel 27 (1)(b) en 27(2), aangesien dit verklaar dat elkeen die reg het op toegang tot voldoende water, wat die staat verplig om redelike wetgewing en ander maatreëls in te stel om binne sy beskikbare middele, met die huidige hulpbronne tot sy beskikking, die toenemende verwesenliking van hierdie reg te bereik.
Suid-Afrika moet hierdie kosbare hulpbron behoorlik bestuur indien ons die agteruitgang van ’n situasie wat alreeds katastrofies van aard is, wil vermy. Met die bogenoemde in gedagte, is die volgende stappe egter bemoedigend:
- Die Kabinet het op 10 Augustus 2012 die Wetsontwerp op die Nasionale Waterhulpbronstrategie (NWRS-2) goedgekeur vir insette en kommentaar. Die strategie dien as riglyn vir die bestuur van waterhulpbronne in die land oor die volgende 20 jaar en plaas besondere klem op prioriteite en doelwitte vir die tydperk vanaf 2013 tot 2017. Dit dien derhalwe as raamwerk vir die beskerming, gebruik, ontwikkeling, bewaring, bestuur en beheer van waterhulpbronne in Suid-Afrika en verbind alle regeringsinstellings met uitvoerende magte en pligte tot die Nasionale Waterwet van 1998.
- Volgens die Begroting vir 2013 wat deur Pravin Gordhan, die Minister van Finansies, ter tafel gelê is, gaan ’n bykomende R6.5 miljard oor die volgende drie jaar opsy gesit word vir die Departement van Waterwese. Die meeste van hiedie fondse word opsy gesit vir waterinfrastruktuur en die bestuur daarvan, vir streeksimplementering en steun vir opgaarwaterprogramme; en
- Mega-infrastruktuurprojekte wat deur die regering aangekondig is, wat die bou van die De Hoop-dam en gepaardgaande verspreidingstelsels van opgegaarde ongesuiwerde water in Limpopo, asook die rehabilitasie van 315 opgaardamme insluit. Die waarde van hierdie rehabilitasie-projek is R2.8 miljoen.
Suid-Afrika moet egter ook grondwetlike regte ten opsigte van water en die gebruik daarvan respekteer.
93% van Suid-Afrikaanse huishoudings het in 2010 toegang tot veilige water gehad. Teen 30 April 2012 het meer as 11.2 miljoen huishoudings toegang tot gratis water gehad (dit wil sê 6 000 liter per huishouding per maand, wat deur die plaaslike regering befonds word vir huishoudings met ‘n inkomste van minder as R800 per maand). Die volgende is egter rede tot kommer.
- Burgers en belastingbetalers het gedurende 2012 hulself tot die howe gewend om regte rakende watervoorsiening op te eis (Carolina-munisipaliteit en talle ander soortgelyke gevalle); en
- Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het 114 klagtes tussen 2010 en 2012 ontvang wat verband hou met die voorsiening en gehalte van water in SA.
Ons regering moet voortdurend ook in gedagte hou dat - alhoewel daar alreeds baie gedoen is - elkeen die reg het op toegang tot voldoende voedsel en water en dat dit onlosmaaklik verband hou met regte soos byvoorbeeld menswaardigheid en gesondheidsorg.
Daar is ‘n gesegde wat lei dat ons nooit sal weet wat die waarde van water is totdat die put opgedroog het nie. Suid-Afrika is die 30ste droogste land op aarde en volgens die Departement van Waterwese gaan byna een derde van ons skoon drinkwater verlore weens lekkende krane en pype asook onwettige wateraansluitings.
In hierdie opsig is die tema vir Wêreldwaterdag 2013 - Watersamewerking” - gepas aangesien die samewerking van alle Suid-Afrikaners - burgers, die regering, besighede en landbou - noodsaaklik sal wees indien ons ons beperkte waterbronne voldoende en doeltreffend wil bestuur as ’n volhoubare hulpbron en as ’n grondwetlike reg. Indien ons hierin slaag, sal ons dalk moontlik in staat wees om ons put vol te hou met drinkbare en bruikbare water vir die volgende geslagte.
Deur Adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting