+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE BEVORDERING VAN DIE GRONDWET IN SUID-AFRIKAANSE TRONKE: UITDAGINGS EN HERVORMING

Uitgereik deur Ezra Mendel namens die FW de Klerk Stigting op 02/10/2024


Inleiding

Die onlangse kommer wat deur die Demokratiese Alliansie (“DA”) geopper is oor die smokkelary van goedere in korrektiewe fasiliteite, het jare lange oproepe vir die hervorming van korrigeringsdienste in Suid-Afrika versterk. Met die belowende veranderinge teweeg gebring deur die Regering van Nasionale Eenheid (“RNE”) en die feit dat die Departement van Korrektiewe Dienste ‘n eie ministerie geword het, apart van die Departement van Justisie, het die nuut aangestelde Minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, baie hoop uitgespreek oor die hervorming van die gevangenisstelsel. Sedert minister Groenewald in sy amp begin het, is daar ‘n paar positiewe stappe gedoen, insluitend spesifieke ingrypings om smokkelhandel te verminder. Trouens, gevangenisse ly steeds onder begrotingsbesnoeiings, oorbevolking, geweld en swak lewensomstandighede, wat omgewings skep wat eerder misdaad as rehabilitasie bevorder.

Hierdie artikel poog om te verken hoe Suid-Afrika se grondwetlike raamwerk die regte van gevangenes kan verbeter, terwyl dit die voortdurende uitdagings in die fasiliteite van Korrektiewe Dienste, soos oorbevolking, geweld en ondoeltreffende rehabilitasieprogramme, aanspreek. Dit sal die nodige hervormings bespreek om die Korrektiewe Dienste in lyn te bring met die land se grondwetlike verbintenisse tot waardigheid, veiligheid en herstellende geregtigheid.


Grondwetlike Raamwerk vir Gevangenes se Regte

Dit is belangrik om die grondwetlike raamwerk en gevangenes se regte soos daarin omskryf te verstaan. Suid-Afrika se Grondwet bied ‘n progressiewe regsgrondslag wat menswaardigheid beskerm, selfs vir diegene wat in aanhouding is. Artikel 35(2) van die Grondwet waarborg dat elke aangehoudene, insluitend gevonnisde gevangenes, die reg het op aanhouding onder menswaardige toestande. Dit sluit voldoende verblyf, voeding, oefening, mediese behandeling en toegang tot leesstof in — alles op die staat se koste. Boonop het gevangenes die reg om met hul familie, gekose godsdienstige beraders en mediese praktisyns te kommunikeer.

Hierdie bepalings beklemtoon dat gevangenisstraf nie individue ontneem van hul reg om met menslikheid en waardigheid behandel te word nie (soos ook beskerm in artikel 10 van die Grondwet). Ten spyte van hierdie grondwetlike verbintenis, vertel die werklikheid binne Suid-Afrika se tronke dikwels ‘n ander storie. Oorbevolking, geweld en swak lewensomstandighede bly ‘n ernstige skending van hierdie grondwetlike regte en internasionale menseregtestandaarde.


Die Agteruitgang van Suid-Afrikaanse Tronke

Twee kritieke probleme in Suid-Afrikaanse tronke is oorbevolking en geweld. Suid-Afrika huisves ongeveer 160 000 gevangenes in 237 korrektiewe fasiliteite, met ‘n gevangenisdigtheid van 135% — wat beteken dat die bevolking die kapasiteit met 35% oorskry. Hierdie erge oorbevolking lei tot onvoldoende toegang tot noodsaaklike dienste soos gesondheidsorg, sanitasie en privaatheid. Sulke toestande oortree artikel 12 van die Grondwet, wat vryheid van onmenslike of vernederende behandeling waarborg. Hierdie tekortkominge dra by tot gesondheidsrisiko’s en bevorder geweld onder gevangenes, wat die doel van rehabilitasie ondermyn en individue dieper in siklusse van misdaad laat verval.

Suid-Afrikaanse tronke is ook bekend vir hulle bendenetwerke, met groepe soos die Nommers-bende wat ‘n groot mate van beheer uitoefen. Hierdie bendes skep ‘n omgewing van wetteloosheid en oorheersing binne die tronke, wat dit moeilik maak vir die Departement van Korrektiewe Dienste om orde te herstel. As gevolg hiervan word die tronk-omgewing een van oorlewing eerder as hervorming. Hierdie toestand van onderontwikkeling en ongekontroleerde magsdinamika beklemtoon ‘n kritieke tekort in die regering se verantwoordelikheid om grondwetlike standaarde in korrektiewe fasiliteite te handhaaf.


Grondwetlike Oplossings vir Misdaad in Tronke

Minister Pieter Groenewald se ampstermyn as hoof van Suid-Afrika se korrektiewe dienste het begin met ‘n reeks wyd gepubliseerde tronkoperasies, soos die onlangse operasie by Johannesburg se “Sun City”-gevangenis. Hierdie aksies, wat smokkelgoedere van selfone tot luukse items aan die lig gebring het, het lof van die publiek gekry, maar dit stel ook die sistemiese mislukkings wat diep in die gevangenisstelsel ingeburger is, bloot. Die klopjagte is belangrik, maar hulle beklemtoon ‘n reaktiewe benadering wat simptome eerder as die werklike oorsake aanspreek. Om Suid-Afrikaanse tronke regtig te hervorm en in lyn te bring met grondwetlike standaarde, is ‘n meer omvattende en volhoubare strategie nodig.

Die probleem van oorbevolking bly ‘n groot struikelblok. Korrektiewe fasiliteite werk teen 135% van hul kapasiteit, wat byna elke uitdaging in die gevangenisstelsel vererger. Minister Groenewald het hierdie probleem erken en ‘n strategie voorgestel om oorbevolking te verminder, maar die sukses daarvan hang af van gekoördineerde aksie van alle partye in die strafregstelsel. Sonder betekenisvolle samewerking tussen howe, paroolrade en wetstoepassing, sal oorbevolking voortduur, wat enige vordering na rehabilitasiedoelwitte ondermyn. Die groot aantal ongevonnisde gevangenes — meer as 43 646 — toon die ondoeltreffendheid en agterstand wat tot hierdie probleem bydra.

Groenewald se klopjagte het dalk tydelik smokkelarykwessies aangespreek, maar dit spreek beswaarlik die dieperliggende probleme mbt tot bendeoorheersing aan. Bendes soos die Nommers-bende het al lank beheer oor die tronklewe geneem en gebruik die oorvol toestande en gebrek aan voldoende sekuriteit tot hulle voordeel. Hierdie bendes skep ‘n magsdinamiek binne tronke wat nie net geweld aanwakker nie, maar ook die bevordering van rehabilitasie onmoontlik maak. Minister Groenewald se fokus op die uitroei van smokkelary is ‘n goeie begin, maar slaag hy nie daarin om bendenetwerke uit te roei nie en die implementering van sterker veiligheidsmaatreëls uit te rol nie, sal tronke plekke van oorlewing bly eerder as ruimtes vir hervorming.

Een belangrike aspek wat nie oor die hoof gesien kan word nie, is die rol van oorsigliggame soos die Regterlike Inspektoraat vir Korrektiewe Dienste (“RIKD”). Die RIKD speel ‘n sleutelrol in die monitering van tronktoestande en om te verseker dat fasiliteite aan grondwetlike standaarde voldoen. Die Inspektoraat het egter lank gesukkel met onvoldoende hulpbronne, wat sy vermoë om werklike verandering te bewerkstellig, ernstig beperk. Die versterking van die RIKD sal nie net groter aanspreeklikheid in die gevangenisstelsel verseker nie, maar ook ‘n onafhanklike perpsektief bied op die Departement van Korrektiewe Dienste se pogings. Dit is noodsaaklik dat die RIKD bemagtig word om sy bevindings en aanbevelings af te dwing, sodat tronke in lyn kan wees met grondwetlike beginsels van waardigheid, menslike behandeling en rehabilitasie.

Vanuit ‘n ander perspektief bly die gebrek aan geestesgesondheidsondersteuning in tronke ‘n groot hindernis vir effektiewe rehabilitasie. Die traumatiese en gewelddadige omgewing in Suid-Afrikaanse tronke vererger bestaande geestesgesondheidsprobleme, wat gevangenes dikwels dieper in kriminele gedrag dryf. ‘n Omvattende hervormingsstrategie moet uitgebreide toegang tot geestesgesondheidsdienste insluit, wat tans nie voldoende is om in die behoeftes van die tronkbevolking te voorsien nie. Die aandag aan geestesgesondheid is nie net ‘n morele noodsaaklikheid nie, maar ook ‘n praktiese noodsaaklikheid om herhaling van misdaad te verminder en te verseker dat vrygelate gevangenes suksesvol in die samelewing kan herintegreer.

Minister Groenewald se visie om opvoedkundige en beroepsprogramme uit te brei om tronke meer selfonderhoudend te maak, bied groot potensiaal. Hierdie programme is belangrik om gevangenes die vaardighede en geleenthede te gee wat hulle nodig het om die siklus van misdaad te breek. Vir hierdie programme om suksesvol te wees, benodig hulle egter aansienlike belegging en ‘n breër implementering. Die blote bestaan van sulke programme is nie genoeg nie; hulle moet toeganklik wees vir alle gevangenes, voldoende hulpbronne hê en toegerus wees om die spesifieke behoeftes van verskillende groepe binne die gevangenisbevolking aan te spreek.


Gevolgtrekking

Die fokus op hervormings soos paroolhervorming, gemeenskapsdiens en rehabilitasie-gefokusde vonnisoplegging is ‘n noodsaaklike benadering om die sistemiese uitdagings binne Suid-Afrika se korrektiewe dienste aan te spreek. Sinvolle vordering vereis egter verbeterde toesig deur die RIKD, asook ‘n sterk verbintenis tot geestesgesondheidsorg en beroepsopleiding.

Volhoubare vooruitgang in tronke vereis ‘n strategiese, regte-gebaseerde benadering wat waardigheid, menslike behandeling en herstellende geregtigheid vooropstel. Soos Minister Groenewald sê:Ons sal en moet meer doen met minder. Dit sal innovasie, dissipline en toewyding verg.” Hoewel optimisme belangrik is, moet dit gepaard gaan met praktiese strategieë en voldoende hulpbronne om tronke in ruimtes van rehabilitasie te omskep. Die handhawing van grondwetlike beginsels in korrektiewe fasiliteite is nie net ‘n wetgewende verpligting nie, maar ook ‘n kritieke maatstaf van Suid-Afrika se toewyding aan geregtigheid en gelykheid vir al sy burgers.