Die konferensie is geopen deur voormalige President FW de Klerk (stigter van die Stigting) en mnr Henning Suhr, hoof van die Konrad Adenauer Stigting (KAS) in Suid-Afrika, wat ‘n mede-aanbieder van die konferensie was. Mnr Suhr het die belangrikheid van die tema uitgewys en geroep om rasionele debat en bespreking oor ‘n hoogs emosionele onderwerp.
Mnr De Klerk het die kwessie betreffende die verandering van artikel 25, om onteiening sonder vergoeding (OSV) moontlik te maak, ontleed. Hy het daarop gewys dat die ANC se Nasrec-resolusie en die parlementêre mosie inherente teenstrydighede bevat, aangesien dit nie moontlik is om OSV te implementeer sonder om die landbousektor, voedselsekerheid, ander dele van die ekonomie en toekomstige beleggings in die ekonomie te benadeel nie. Hy het ook daarop gewys dat die land reeds te veel boere verloor as gevolg van die onsekerheid wat veroorsaak word deur die artikel 25-proses en die moeilike aard van boerdery in Suid-Afrika. Die ware uitdaging sal wees om boere te behou – van enige ras – met die bewese vermoë om kos te produseer. Hy het ook verklaar dat OSV ‘n ernstige slag sou wees vir die grondwetlike ooreenkoms van 1994. Die eiendomsklousule was een van die strengste onderhandelde kompromieë in die finale Grondwet. Nie-ANC-partye het tot die onteieningsbeginsel toegegee in die nasionale belang – wat grondhervorming ingesluit het. In ruil daarvoor aanvaar die ANC dat regverdige en billike vergoeding vir onteiende eiendom betaal moet word.
Mnr De Klerk het aangevoer dat grondhervorming die eiendomsreg en vryheid van miljoene Suid-Afrikaners kan verbeter – of dit kan hulle van hul eiendom ontneem en hulle tot die status van afhanklike huurders verminder. As dit reg hanteer word, kan grondhervorming die mees positiewe ontwikkeling sedert 1994 wees. As dit egter swak hanteer word op grond van onteiening sonder vergoeding, sou dit ‘n ramp vir alle Suid-Afrikaners wees.
Dr Theuns Eloff, Uitvoerende Direkteur van die Stigting, het die Stigting se standpunt aangaande die wysiging van artikel 25 herhaal. Dit is nie nodig om artikel 25 te wysig nie en dit kan rampspoedige gevolge hê indien dit verander word om OSV toe te laat. Polities kan dit tot onstabiliteit en selfs anargie lei. Ekonomies kan OSV nie sonder ernstige skade geïmplementeer word nie. Die toets of daar skade sou wees, kan nie objektief deur politici bepaal word nie, maar deur die subjektiewe persepsie van sakemense, boere en eienaars. Wat die reg betref, sal OSV in stryd wees met die beginsel van ‘n algemeen geldende regsvoorskrif in artikel 36 van die Grondwet. Deur ‘n spesifieke groep van die Suid-Afrikaanse bevolking te teiken, is dit nie meer ‘n algemeen geldende regsvoorskrif nie, en sal dit strydig wees met die waardes van artikel 36, spesifiek dié van gelykheid.
In die tweede deel van sy insette het dr Eloff gesê dat wat al die belangrike dinge betref wat gedoen moet word om grondhervorming doeltreffend te maak en dit te versnel, is daar drie hoofvoorwaardes. Eerstens kan ons nie hervorm of herverdeel wat ons nie weet nie. Die President moet so gou as moontlik ‘n behoorlike, omvattende en wettige grondoudit instel – uitgevoer deur ‘n taakspan bestaande uit personeel uit die openbare en privaat sektor, wat die gebruik van alle hulpbronne ter beskikking van die staat het. Tweedens, en in die lyn met die verslag van die hoëvlakpaneel, het ons ‘n omvattende wetgewende raamwerk vir grondhervorming nodig. Hierdie wet betreffende die raamwerk van grondhervorming moet ‘n definisie van grondhervorming bevat, die aard en omvang daarvan, voorgeskrewe prosedures en prosesse (insluitende die vestiging van post-nedersetting, vaardigheidsoordrag) en maatreëls om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker. Derdens, en in die lig van die onbevoegdheid en korrupsie in die departement(e) wat die afgelope twee dekades met grondhervorming aangewend is, benodig ons ‘n doeltreffende en bekwame agentskap om grondhervorming in werking te stel. Dit moet in die vorm wees van ‘n “spesiale doel-voertuig” (SDV) wat ingevolge wetgewing ingestel is en in die Presidensie gesetel is. Dit moet die beste talent van die openbare, private en NRO-sektore bevat en ‘n spesifieke tydsbestuurde mandaat en teikens hê. Dit moet ook aktief werk om vennootskappe met bestaande organisasies op die gebied van grondhervorming te vestig.
Die sessie oor die sentraliteit van eiendomsregte het begin met ‘n waardevolle bydrae deur mnr Pierre Venter, Hoofbestuurder van die Bankvereniging van SA (BASA). Hy het bevestig dat die BASA nie ten gunste van OSV was nie, maar dat dit die behoefte aan vinnige en doeltreffende grondhervorming op alle gebiede verstaan en aanvaar het. Dr Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het die geskiedenis van OSV en sy wortels in die ideologie van die Vryheidshandves en die Nasionale Demokratiese Revolusie van die ANC uitgewys. Sy het gewaarsku teen die moontlikheid dat eiendom volgens OSV meer as grond kan wees. Mnr Lumkile Mondi, ekonoom by Wits, het ook gewaarsku teen die rampspoedige ekonomiese gevolge van OSV en vergelykings getref met ander lande soos Venezuela, as ‘n waarskuwing teen populistiese maatreëls.
Die sessies oor grondhervorming het begin met ‘n inset van mnr Leon Louw van die Vryemarkstigting (VMS). Hy het die belangrikheid beklemtoon van veral verstedelikte swart Suid-Afrikaners wat titelaktes ontvang vir die grond waarop hulle huise gebou is – vir informele nedersettings en landelike grond. Mnr Louw het verder melding gemaak van die VMS se Khaya Lam (My Home) titelakteprojek. Mnr Omri van Zyl van Agri SA het ‘n oorsig gegee van die oplossings wat deur die landbousektor voorgestel en beoefen word. Hy het die punt gemaak dat SA landbou met sy kennis en tegnologie die broodmandjie van Afrika kan wees. Prof Juanita Pienaar van die Universiteit van Stellenbosch het die konferensie ‘n blik gegee op die uiters komplekse aard van gemeenskaplike grond en sy vele fasette, insluitend gewoontereg en kulturele tradisies, wat dikwels in stryd is met die westerse konsep van individuele titelaktes. Daarbenewens het mnr Siyabulela Monana van die Agri-adviesdiens, Phuhlisani Solutions, ‘n oorsig gegee van die talle wetgewing wat gemeenskaplike grond beïnvloed. Hy het gepleit vir ‘n konsolidasie hiervan en ‘n verbeterde grondadministrasiestelsel, met behulp van data wat vir almal toeganklik kan wees.
Die laaste spreker van die dag was dr Rosalie Kingwill, van die Instituut van Armoede, Grond- en Agrariese Studies (Plaas). As ‘n lid van die groep wat die hoëvlakpaneelverslag opgestel het, het sy ‘n oorsig gegee van die 100 bladsye van die 600-bladsy verslag wat oor grondhervorming handel. Sy het die gehoor aangemoedig om die dokument te lees en die feit bevestig dat die Paneel deur die deelname van duisende Suid-Afrikaners bevind het dat die hoofredes vir die mislukking van grondhervorming gedurende die afgelope 20 jaar die gebrek aan politieke wil, onbevoegdheid en korrupsie van amptenare, en die gebrek aan ‘n omvattende wetgewende raamwerk was.
Die konferensie het twee paneelbesprekings van ‘n uur elk ingesluit, waartydens lede van die gehoor hul sienings kon laat hoor en vrae aan die paneellede gevra het. Die moderators van hierdie sessies was me Phephelaphi Dube, direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR), en me Zohra Dawood, direkteur van die Sentrum vir Eenheid in Diversiteit (SED). Die menings van die gehoor was uiteenlopend, en het gewissel van die feit dat die grond teruggegee moes word aan swart Suid-Afrikaners, om krities te wees van OSV en oor die regering se versuim om grondhervorming oor die afgelope 20 jaar te bewerkstellig. Alhoewel die debat by tye sterk was, was die verrigtinge egter altyd respekvol en volwasse.
Die voorsitter van die Stigting, mnr Dave Steward, het na die gevolgtrekking gekom dat die dag uiters insiggewend was, gegewe die wye verskeidenheid en gehalte van sprekers. Die gebalanseerde perspektief van beide die handhawing van eiendomsregte en doeltreffende en versnelde grondhervorming kan ‘n belangrike bydrae tot die nasionale debat wees. Hy het die deelnemers aangemoedig om die inligting en perspektief wat gedeel is, te gebruik.
In al sy werk poog die FW de Klerk Stigting en sy twee sentrums om die openbare mening te beïnvloed deur die verspreiding van inligting wat gebalanseerd en op feite gebaseer is, en dit kan grondwetlike demokrasie verbeter. Die konferensie het hierdie doel bereik.
*Toesprake en voorleggings (die wat reeds beskikbaar is) kan op die Stigting se webtuiste gevind word: www.fwdeklerk.org
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
5 Julie 2018