Dit is onwaarskynlik dat enige van hierdie doelwitte bereik sal word.
Die belangrikste gerusstelling aan buitelandse beleggers is die onderneming dat “onderhewig aan nasionale wetgewing, buitelandse beleggers en hul beleggings nie minder gunstig behandel sal word as Suid-Afrikaanse beleggers in soortgelyke omstandighede nie.”
En dis waar die probleem lê: daar is nou verskeie wetgewing wat voor die Parlement dien wat dreig om die eiendomsregte van Suid-Afrikaners en buitelanders te ondermyn – so dit is nie juis gerusstellend vir buitelanders dat hulle nie minder gunstig as hul Suid-Afrikaanse eweknieë behandel sal word nie. Die wetgewing sluit in
- Die Private Security Industry Regulation Amendment Bill van 2013, wat van private sekuriteitsmaatskappye wat in buitelandse besit is, vereis om 51% van hul aandele aan Suid-Afrikaners te verkoop. Dit is vertraag deur die feit dat die bepalings Suid-Afrika se verpligtinge ten opsigte van GATT en AGOA kan ondermyn;
- Die Mineral and Petroleum Resources Development Bill van 2013 wat aan die regering die mag verleen om te besluit oor die persentasie van minerale produksie wat opsy gesit moet word vir veredeling en om die hoeveelheid wat uitgevoer mag word, te beperk. Minerale sal óf teen die “mine gate”-prys verkoop word, of teen ‘n prys waarop ooreengekom is. Die staat sal ‘n 20% aandeel in alle nuwe gas- en olie-ontginning hê en sal geregtig wees op ‘n verdere 80% teen ‘n prys waarop ooreengekom is. Die Wetsontwerp is in Januarie na die Parlement terug verwys.
- Die Onteieningswetsontwerp van 2015 verleen aan die regering op nasionale, provinsiale en munisipale vlakke – asook enige staatsorgaan – die mag om eiendom in openbare belang te onteien. Eiendom is nie net beperk tot grond nie en kan teoreties huise, maatskappye, roerende goedere en aandele insluit. “Openbare belang” kan feitlik enige doelwit van die regering insluit. Die onteieningsgesag sal die waarde van vergoeding bepaal – wat onder markwaarde kan wees. Die party wat onteien word sal dan die reg hê om die voorgestelde vergoeding in die hof uit te daag – maar sal steeds beheer oor die eiendom verloor op ‘n datum wat deur die onteieningsgesag bepaal word; en
- Die Regulation of Land Holdings Bill – wat later vanjaar verwag word – sal buitelanders verbied om landbougrond te besit – maar sal wel toelaat dat hulle die grond vir ‘n minimum tydperk van 30 jaar kan huur. Die Wetsontwerp sal ‘n beperking plaas op die grootte van plase en sal bepaal dat grond wat die voorgeskrewe beperkings oorskry, onderhewig aan onteiening sal wees.
Daarbenewens stel die Wetsontwerp dit duidelik dat buitelandse beleggings onderhewig sal wees aan enige wetgewing of ander maatstaf wat ten doel het om die behaling van gelykheid in Suid-Afrika te bevorder of wat ontwerp is om persone, of kategorieë persone wat histories benadeel is deur onregverdige diskriminasie op grond van ras, geslag of gestremdheid in die Republiek te beskerm. Met ander woorde, buitelandse maatskappye sal onderhewig wees aan Suid-Afrika se rasgebaseerde wetgewing, wat sal voortgaan om vas te stel watter persentasie van beleggings deur swart Suid-Afrikaners besit moet word – en wat sal inmeng met hul vermoë om belangrike personeel aan te stel op grond van meriete eerder as op grond van ras, en om goedere en dienste van hul voorkeurverskaffers te bekom.
Die jongste weergawe van die Wetsontwerp het gepoog om beleggers ten opsigte van twee punte gerus te stel:
- Dit het die moontlikheid daargestel van internasionale bemiddeling vir dispute wat met beleggings verband hou (wat een van die beskermingsmaatreëls in die BBOs is) deur toe te gee dat die regering mag instem tot internasionale arbitrasie ten opsigte van beleggings…onderhewig aan die uitputting van plaaslike herstelmaatreëls.
- Dit het ook die verwysing na die konsep van ‘kuratorskap’, ingevolge waarvan enige ontneming van eiendom waar die staat nie eienaarskap sal bekom nie (maar slegs kuratorskap sal bekom) nie beskou sal word as onteiening nie – en waar vergoeding dus nie betaalbaar sal wees nie. Desnieteenstaande sal buitelandse beleggers steeds kwesbaar wees vir die ontneming van eiendom kragtens kuratorskap tot die mate waarin Suid-Afrikaners onderhewig sal wees aan hierdie proses.
Die onderliggende probleem van hierdie Wetsontwerp is die ideologiese benadering wat daartoe gelei het dat die Bilaterale Beleggingsooreenkomste in die eerste plek opgehef is. Dit is die feit dat die minister wat vir hierdie wetgewing verantwoordelik is, Rob Davies, ‘n lid is van die Sentrale Komitee van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Sy party maak geen geheim daarvan dat hy glo dat sy grootste vyand “die monopolie op internasionale kapitaal” is nie – en hy maak ook geen geheim van sy behoefte om Suid-Afrika se verbintenis met sy tradisionele vennote in die vryemarkekonomieë te verbreek nie. Die SAKP is ook verbind tot die bevordering, verdieping en beskerming van die Nasionale Demokratiese Revolusie as grondslag vir en die mees direkte roete na die daarstelling van sosialisme (dit wil sê kommunisme) in ons land.”
Die titel van die Wetsontwerp is werklik Orwelliaans: sy werklike voorneme is nie om beleggings te bevorder of beskerm nie. Sy doelwit is eerder om buitelandse en plaaslike beleggers te paai – terwyl dit die weg baan na die behaling van die NDR se rasgebaseerde doelwitte en die SAKP se vordering ten opsigte van die daarstelling van sosialisme. Die skrywers van die Wetsontwerp kan net sowel groot advertensieborde oprig by al ons internasionale lughawens wat lui: “Geen Buitelandse Beleggings Welkom Nie!”
Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting