+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Die prentjie lyk nie goed nie.

Volgens StatsSA se meningsopname oor die arbeidsmag wat elke kwartaal verskyn, het werkloosheid in die 4de kwartaal van 2013 op 24.1% gestaan. Indien ’n mens die werksoekers insluit wat moed opgegee het, styg die werkloosheidsyfer (uitgebreide weergawe) na 34%. Selfs hierdie statistieke ontbloot egter nie die hele prentjie nie. Die punt is dat ons arbeidsabsorpsiekoers van slegs 43.3% beteken dat slegs 43.4% van mense van werkende ouderdom (15 – 64) in diens is. Dít in vergelyking met arbeidsabsorpsiekoerse van meer as 60% in meer gevorderde samelewings. Die arbeidsabsorpsiekoers onder swart Suid-Afrikaners is slegs 40.1% in vergelyking met 63.1% vir wit Suid-Afrikaners.

Werkloosheidskoerse verskil ook merkbaar tussen bevolkingsgroepe. Onder swart Suid-Afrikaners is dit 27.1% (38.5% – uitgebreide definisie); onder bruin mense is dit 23% (26.8%); onder Indiërs is dit 12.5% (17.1%) en onder wit mense is dit slegs 7.2% (8.4%).

Volgens StatsSA behoort 3.728 mijoen Suid-Afrikaners (geregistreerde belastingbetalers) aan vakbonde en 8.95 miljoen doen nie. Van die werkers wat aan vakbonde behoort, behoort twee miljoen aan COSATU – nadat NUMSA en sy 290 000 lede weggebreek het.

Suid-Afrika se arbeidsverhoudinge word oor die algemeen beskou as die slegste in die wêreld. In die Wêreld-ekonomiese Forum se Globale Mededingendheidsverslag is Suid-Afrika se samewerking ten opsigte van arbeid-werkgewer-verhoudings die slegste van die 148 lande wat in die verslag vervat is. Sy praktyke met betrekking tot aanstellings en ontslag is die tweede slegste. Dit beklee die 144ste posisie ten opsigte van die buigbaarheid van loonbepalings en is 142ste met betrekking tot betaling en produktiwiteit.

Potensiële beleggers het ons arbeidsmag wat nie voldoende opgelei is nie en ons beperkende arbeidsregulasies uitgewys as die grootste probleme verbonde daaraan om besigheid in Suid-Afrika te doen. Tesame met die Marikana-voorval in 2012 en die huidige staking van AMCU – wat reeds vir drie maande lank ’n ernstige uitwerking op die platinumbedryf het – is die waarskuwing aan almal uitgestuur: wees baie versigtig om beleggings in Suid-Afrika te maak.

Ek is van mening dat drie faktore bygedra het tot hierdie ongelukkige stand van sake.

Eerstens is COSATU deur die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party gevange geneem. Tydens sy 9de kongres in 2006 het COSATU ’n amptelike posisie ingeneem wat die skeiding van die NDR van sosialisme verwerp en wat aanvoer dat die diktatorskap van die proletariaat die enigste waarborg is dat daar ’n oorgang van die NDR na sosialisme sal plaasvind. Tydens sy 5de vergadering van die Sentrale Komitee in Junie 2011 het sy president, S’Dumo Dlamini, COSATU se posisie uitdruklik uitgespel:

“Ons wil dit duidelik maak dat COSATU ’n federasie van vakbonde mag wees, maar dat dit ’n federasie van ’n spesiale soort is: Ons is ’n Marxisties-Leninistiese formasie, nie in woorde nie, maar deur ons toewyding tot die stryd om sosialisme en in daardie konteks moedig ons ons lede aan om hul by die SAKP te skaar en onsself te onderwerp aan die dissipline van kommuniste. Ons aanvaar die SAKP as ons aanvoerder in die stryd om sosialisme. Om hierdie rede sal ons enige iets in ons vermoë doen om die SAKP te versterk.”

Dit beteken nie dat lede van COSATU noodwendig die SAKP ondersteun nie. In ’n meningsopname deur COSATU van die gevoel onder vakbonde wat in 2012 gedoen is, het 10% van vakbondlede gesê hulle steun die DA. Meer as 25% van COSATU-lede het aangedui dat hulle aktief is in hul plaaslike ANC-tak – maar slegs 6% het gesê dat hulle aktief is in hul SAKP-takke.

COSATU se radikale orientasie het verreikende gevolge vir arbeid-werkgewer-verhoudings en kan dalk verduidelik waarom, volgens die WEF, ons so sleg vaar op hierdie gebied. Die eenvoudige waarheid is dat kommunistiese vakbondleiers nie die reg van werkgewers en besigheidseienaars om te bestaan, aanvaar nie. Tydens ’n radio-onderhoud met Irvin Jim van Numsa het hy erken dat dit sy doel is om ’n kommunistiese staat te vestig in Suid-Afrika en dat hy Kuba beskou as die model waarna hy streef.

Die tweede faktor wat gelei het tot hierdie stand van sake is die duidelike gebrek aan enige verstandhouding van die realiteite waarop moderne ekonomieë gegrond is. Dit blyk of daar baie min begrip is vir die noodsaaklikheid daarvan om loonverhogings met toename in produktiwiteit in verhouding te bring. Die radikales dink dat hulle minimum lone in die landboubedryf kan verhoog met 52% en dat dit geen uitwerking op indiensnemingsvlakke sal hê nie. AMCU dink dat hulle ’n maandelikse loon van R12 500 op intredingsvlak kan instel sonder enige verwysing na die ekonomiese beperkings van die platinumbedryf. Hul aandrang, op ’n koopkragpariteit basis, is ongeveer US $2 000, wat die gemiddelde loon in eerste wêreldlande soos Israel en Poland is en dubbel die gemiddelde loon in mededingende lande soos Chili en Maleisië. Radikale kommentators oor arbeid dring aan op ’n nasionale minimumloon van R4 500 sonder om die uitwerking te oorweeg wat dit op indiensnemingsvlakke sal hê.

Daardie geraas op die agtergrond wat jy hoor is die geluid van mynbase, boere en besigheidseienaars wat hul eie produksieprosesse so vinnig as wat hulle kan meganiseer. Dit alles sal indiensneming ontmoedig en die krisis wat ons ekonomie en ons samelewing in die gesig staar, verdiep.

Die derde onderliggende probleem is die simbiotiese verhouding tussen arbeid en die regering binne die ANC se drieparty-alliansie. Jacob Zuma het in 2007 President geword in Polokwane danksy die steun van COSATU en die SAKP. Dit was die uiteinde van wat Zwelinzima Vavi na verwys het as die stryd om die hart en siel van die ANC nadat die linksgesindes op die kantlyn geskuif is deur President Mbeki. Die gevolg is die bloedskandelike verhouding tussen die regering en vakbonde in die formulering van arbeidsbeleide en die algehele dominansie van ’n verdeelde sakebedryf in organisasies soos Nedlac.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) maak ‘n paar sinvolle – maar pieperige – voorstelle oor hoe om die arbeidsmark te verbeter. Dit doen ’n beroep om balans tussen die daarstelling van vinniger uitbreiding met betrekking tot indiensneming en die beskerming van menseregte. Dit maak voorstelle om dit makliker te maak om werknemers wat proeftyd uitdien, af te dank; dit doen ’n beroep om ’n benadering wat afdankingsprosedures ten opsigte van prestasie of wangedrag eenvoudiger maak; dit stel ’n verslapping voor van arbeidsregulasies vir klein sakeondernemings.

Die NOP is egter onder toenemende druk van COSATU en die SAKP – en dit is steeds nie duidelik of enige van hierdie voorstelle ooit in werking gestel sal word nie.

In tussen sal werkloosheid toeneem en werkloses sal kwater en ongelukkiger word, en meer desperaat. Ons het werklik ’n nuwe benadering tot arbeidsverhoudinge nodig:

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting

Foto: oso / Foter / Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 2.0 Generic (CC BY-NC-SA 2.0)


Leave a Reply

Your email address will not be published.

The FW de Klerk Foundation Annual Conference

The FW de Klerk Foundation Annual Conference – hosted in conjunction with the Konrad-Adenauer-Stiftung – took place on 31 January 2025. The theme of this year’s conference is: “South Africa’s Position in the World Today”.
 

 Esteemed speakers include Ambassador Andreas Peschke (Ambassador of the Federal Republic of Germany); Magda Wierzycka (CEO of Sygnia); Dr Harlan Cloete (Local Governance and Public Leadership – Research Fellow) and Johan “Rassie” Erasmus (Springbok Coach).