Listeriose, volgens die WGO, is een van die ernstigste siektes wat deur voedsel versprei word en hou verband met ’n hoë sterftesyfer van 20% tot 30%. Die bakterie word in grond, water en spysverteringskanale van diere gevind, en dit word beraam dat 2% tot 10% van die algemene bevolking die bakterie dra sonder enige aangetekende gesondheidsimpak. Die bakterie het egter die unieke vermoë om teen lae temperature ernstig te vermeerder. Verder maak sy weerstand teen hoë sout en suurheid, wat gewoonlik as preseveermiddels gebruik word, dit veral moeilik om te beheer as besoedeling in die verwerkingsketting plaasvind. Verkoelde kosse met ’n lang raklewe, en gereed-om-te-eet kosse wat nie verder gekook hoef te word nie, is in die besonder vatbaar vir hoë konsentrasies van die bakterie. Die kwesbaarste in die samelewing – swanger vroue, pasgeborenes, bejaardes en mense met immuungebrekke – is veral in gevaar om indringende listeriose op te doen.

Nadat die Departement van Gesondheid Polokwane se voedselvervaardigingsaanleg van die verwerkte vleisvervaardiger, Enterprise Foods (Edms) Bpk, geïdentifiseer het as die bron van die huidige uitbraak van listeriose (gedryf deur die bakterie se ST6-stamme), het ’n nasionale herroeping van Enterprise se uitvoer van hierdie produkte gevolg. Dit is nie net die omvang van die gesondheidsimpak wat tot op hede onbekend is nie – weens die lang ontkiemingstyd van listeriose – die sosio-ekonomiese uitwerking is ook omvattend, met ’n geraamde verlies van meer as $8 miljoen op net die verbode uitvoerprodukte. Enterprise en sy beheermaatskappy, Tiger Brands Limited, moet ook moontlik voor ’n enorme klasaksie te staan kom ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming van 2008. Die voorgestelde klasaksie beoog vier groepe mense wat skadevergoeding eis ná die verbruik van die besmette Enterprise-produkte, en ’n twee-fase proses rakende verantwoording wat gevolg moet word. Die Hoë Hof is tans gevra om die vier geïdentifiseerde groepe te sertifiseer en die aansoekers moet bewys dat ’n klasaksie tersaaklik is voor verlof toegestaan sal word om die klasaksie voort te sit.

Met betrekking tot die regulasie op voedselveiligheidsbestuur in Suid-Afrika, speel verskeie stukke wetgewing en verskillende Staatsdepartemente ’n rol. ’n Skreiende wetgewende leemte in die openbare gesondheidsektor is die verouderde regulasies, ingevolge die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Onsmettingsmiddels van 1972 (die Wet). Die Wet reguleer die verkoop, vervaardiging en uitvoer van voedingsmiddels, skoonheidsmiddels en onsmettingsmiddels. Voedingsmiddels, ingevolge die Wet, sluit hoofsaaklik enige artikel of middel in, of bestandeel daarvan, wat normaalweg vervaardig is of vir menslike verbruik verkoop word.

Regulasie 692 ingevolge die Wet, bekend as die Regulasies betreffende Mikrobiologiese Standaarde vir Voedingsmiddels en Verwante Sake, ontleed hoe mikroörganismes in voedingsmiddels getoets moet word, en sluit mikrobiologiese beperkings in. Byvoorbeeld, daar is ’n beperking op die hoeveelheid van die bakterie Escherichia coli (E coli) in eetbare gelatien, maar die regulasies maak nie voorsiening vir die bakterie Listeria monocytogenes, of die wyse waarop dit getoets moet word. Breedvoerige internasionale riglyne bestaan wat spesifiek op Listeria monocytogenes gemik is, met inbegrip van ’n internasionale risikobepalingsraamwerk uitgereik deur die WGO en die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO). Dit kan deur regerings gebruik word om die beheer van Listeria monocytogenes te monitor – spesifiek in gereed-om-te-eet kosse. Die Europese Kommissie se Regulasie van 2005, Mikrobiologiese kriteria vir voedingsmiddels, maak ook spesifiek voorsiening vir die mikrobiologiese kriteria van Listeria monocytogenes.

Verder moet Regulasie 908 ingevolge die Wet, die Toepassing van die Gevaarontleding- en Kritiese Beheerpuntstelsel (HACCP-stelsel), ook hersien word. Die HACCP-stelsel, wat gebruik word om gevare in die voedselproduksieproses te identifiseer en te beheer, reguleer net voedselhanteringsondernemings wat grondbone ten opsigte van hierdie Regulasies verwerk. Die Minister van Gesondheid mag vereis dat ander voedselsektorondernemings ook aan die HACCP-stelsel voldoen, wat dringend getakel moet word in die lig van die listeriose-epidemie.

Voedselhanteringsondernemings mag alreeds aan internasionale standaarde voldoen, en spesifiek die HACCP-stelsel toepas om die vereistes van klante na te kom. Maar, die feit dat die Departement van Gesondheid versuim het om die bogenoemde wetgewende leemte te hersien ten opsigte van internasionale tendense, is nie redelik nie. Die listeriose-epidemie het die noodsaaklike behoefte na die gereelde hersiening van gesondheidsorgwetgewing aan die lig gebring – nie net om te verseker dat dit in ooreenstemming is met internasionale ontwikkelings nie, maar ook om moontlike gesondheidsrampe te voorkom. ’n Belangrike bepaling vir die versekering van gesondheid vir almal moet die versekering wees dat geen skade berokken word nie en dat die Staat alle redelike maatreëls doen om gesondheidsgevare te voorkom. 

Deur me Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
7 April 2018

Leave a Reply

Your email address will not be published.